Die Weg

 

Om God te ken is om te lewe (2)

Van Simon Petrus, ‘n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag” – 2 Petrus 1:1-3 NAV.

Ons het eergister gepraat van die verband tussen die kennis van God en die sin van die lewe. Maar ons het ook die krag van God nodig vir ons daaglikse fisieke en geestelike lewe. En hoe word hierdie krag aan ons verskaf? Petrus sê: deur Hom te ken wat ons geroep het. Jesus bid in sy Hoëpriesterlike gebed: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Joh 17:3). Dit is die ewige lewe, maar gee ook die krag vir ons daaglikse lewe. Kennis  van God is nie die ophoping van teoretiese inligting oor God nie. Daar is baie mense wat jou alles kan vertel wat daar in die Bybel geskryf staan oor die eindtye en die wederkoms van Jesus Christus. Dit is egter nie die kennis waarvan Petrus hier praat nie. Daar is ‘n hemelse verskil tussen om iets te weet en om kennis te hê.

Wat dan is die wese en inhoud van die kennis waarvan die apostel hier praat?

Die kennis van God is nie ‘n versameling van inligting oor God nie, maar wel ‘n lewendige verhouding met Hom. Ons kan dit vergelyk met  ons verhoudings onder mekaar. Ek het al saam met baie vrouens gewerk, maar daar is net één wat ek deur en deur ken,en dit is my eie vrou, omdat ek ‘n baie diep persoonlike verhouding met haar het.

Hoe sou ‘n mens ‘n verhouding met ‘n baie belangrike persoon aanknoop, soos die koningin van Engeland? Dit is sekerlik so dat jy nie jou vriendskap aan daardie persoon kan gaan opdring nie. In hierdie verband lees ons van die verhouding van God met Abraham: hoe God Homself aan Abraham geopenbaar het en hom geroep het om Hom te volg. God het sy vriendskap aan Abraham geskenk, en Abraham  “is ‘n vriend van God genoem” (Jak 2:23). Daarom gaan die mens se verhouding met God nooit van die mens uit nie, maar dit kom van God. Hy het ons eerste liefgehad, laat ons Hom daarom liefhê: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (1 Joh 4:19). Paulus skryf: “Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken” (Gal 4:9). En Petrus sê: "Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien" – waardeur? -  "Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het" (2 Petrus 1:3).

Daarom, terwyl jy deur die genade van God Hom mag ken, laat jy in hierdie kennis groei en jy sal ‘n begenadigde en gelukkige mens wees. Die belangrikste in die lewe wat vir ons werklike vreugde, vrede en krag verleen, is die kennis van God en sy Seun Jesus Christus. "Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken", sê God in Jeremia 9:22.

Dus, liewe vriende: wees verstandig en ken julle God! En ondervind só ‘n kragvolle en vervulde lewe deur jou verhouding en vriendskap met Jesus Christus, onse Here.

Uit: "Gott kennen ist Leben" van ds Wolfgang Wegert

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css