Die Weg

 

Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het

Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het” - Psalm 124:8

Die betrokke Psalm 124 begin met die woorde: "As die Here ons nie gehelp het nie, dan..." Daar kan tog so baie dinge skeefloop. In die natuur, in die liggaam, in die gees, in die beursie, in die politiek, ja selfs in die kerk! Sedert die vloek oor die skepping na die sondeval, is daar probleme. Probleme is al so alledaags dat ons soms selfs nie eens skrik nie. Sommige mense verduur baie en ander minder daarvan. Dinge gebeur. Dinge gebeur met ons.

Ons kan maar pyn, siekte, ellende en rampe te wagte wees. Ons is deel van 'n gebroke skepping. Moeilikheid is deel van ons bestaan. Vir diegene wat meer probleme as geluk en vrede ervaar, kan ons ten minste 'n bietjie simpatie toon. Tog gaan die sorge en probleme en selfs ernstige krisisse nie sommer net weg nie.

Psalm 124 jubel egter vanuit hierdie wêreld met sy gebrokenheid. Die digter dank God omdat alles wat kan gebeur, tog nie met hulle/hom gebeur nie. Alles wat oor ons kan kom, tog nie gebeur nie, omdat God in sy genade dit van ons weerhou. Ons lewe en ons wêreld is teen ons. Nog meer teen ons omdat ons God se kinders is. Ons kan teenstand, moeite en verdriet verwag.

Die punt is egter dit: Kyk goed en let mooi op wat NIE met jou gebeur nie. Kyk wat alles nie na jou toe aankom nie. Kyk wat nie met ons en ons mense gebeur nie en dan dank jy God daarvoor. As Hy ons nie gehelp het nie, o wee, dan...

Wie goed oplet sal saam met die digter ook die toekoms aanpak met die woorde van 'n ervare gelowige: Ons hulp kom van die Here. Die grote Here God wat die hemel en aarde geskape het. Dit is juis in sy almag en voorsienigheid dat Hy ons nie heeltemal oorgee aan die pyn en lyding en smarte van hierdie gebroke skepping nie. Hy het sy eie Seun gegee om ons van die gebrokenheid te verlos. Ter wille van sy Seun se betaling gee die Vader ons nie oor aan die vloek van hierdie skepping nie.

Daarom kom al die lof vir elke dag van genade aan Hom wat alles gemaak het en ons nog elke dag met sy eie hand onderhou en regeer en versorg.

Halleluja. Prys die Here!

Ds Maarten van Helden

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css