Die Weg

 

Om vertroos te word

"Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras?" – Jesaja 51:12 OAV.

Ons lees op baie plekke in die Bybel dat God ons Trooster is, ook hier in Jesaja 51. Jesus sê in die bergpredikasie vir ons: “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt 5:4 OAV).

Ons het almal baie droefheid en sorge in die lewe. Daar is die bekommernisse oor ernstige siektes, oor die omgewing, oor die politiek... , ja selfs die dood. Maar God sal ons nie vir altyd in hierdie troosteloosheid laat bly lê nie. En daaraan glo die profeet wanneer hy hom tot God wend. Hy neem dus die vrymoedigheid om ‘n beroep op God te doen wat Sy volk uit Egipte bevry het (Jes 51:9), en dan bly God se troos ook nie uit nie (vers 12 hierbo).

Dit is duidelik dat ons nie die waarde van ons geloof in God te gering moet ag nie. “Geloof is moed” het die teoloog Paul Tillich gesê toe hy die volgende oor Martin Luther geskryf het (vry vertaal): “In hom bereik die moed van vertroue die toppunt van die Christelike denke. Elke werk van Luther is met hierdie moed vervul. Nieteenstaande alle teenkantings wat hy ervaar het, nieteenstaande die angs wat daar in sy tyd geheers het, is hy aangevuur deur sy onverbreekbare vertroue op God en uit sy persoonlike verhouding met Hom”.

Ons beleef dikwels hoe ons deur die krag van ons herinneringe getroos word. Maar die ondervinding wat ons in ons kort lewens kan opdoen is onvoldoende om aan ons die groot rykdom van God se genade te openbaar. Daarom moet ons telkens weer in die geskiedenis terugkyk, en dan veral soos die Bybel dit aan ons oordra. Die geskiedenis is vir ons ‘n anker vir die toekoms: "Jy vergeet die Here wat jou gemaak het, wat die hemel oopgespan het, wat die aarde se fondamente gelê het. Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker, vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig, maar waar is die woede van jou verdrukker nou?" " (Jes 51:13).

Nou is daar so baie bekommernis, droefheid en nood, dat dit ons wil verswelg. Hoe kom ons uit die put van ons sorge? Hoe sal dit verder met ons gaan? Waar sal alles eindig? Ons troostende God gee nie net vir ons troos vir vandag nie, maar ook ‘n troos wat verby ons verganklikheid strek. Want aan die ander kant van ons verganklikheid wag ‘n nuwe skepping: "Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.....Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan" (Open 21: 1+4).

Oor hierdie hoop skryf die teoloog Hans Küng (vry vertaal): “As ek aan ‘n ewige lewe glo, word alles weer nuut in my lewe ...  die heerlikheid van God sal die skepping, waaroor die skaduwee van verganklikheid lê, bevry en verheerlik”. Die groot doel van die nuwe skepping het Paulus soos volg in sy brief aan die Korintiërs beskryf: “sodat God alles in almal kan wees” (1 Kor 15:28 OAV).

Dan het ons geen troos meer nodig nie, want dan is God self alles in almal. Ons sal dan aandeel hê in die ewige lewe met sy grenslose, eindelose volheid.

(Gebaseer op ‘n preek van ds Klaus Dessecker (Lahr/Schwartzwald).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css