Die Weg

 

Geregtigheid wat versadig

"Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word" - Matteus 5:6 (OAV).

Watter wonderlike ondervinding is dit om volkome versadig vanaf ‘n tafel te kan opstaan nadat jy baie honger was. Jesus praat hier egter van ‘n ander versadiging, van ‘n geluksaligheid wat deur geregtigheid gevoed word.

Dit lê in die natuur van ons verganklike lewe, dat alhoewel ons iets eet ons tog weer honger sal word, en as ons iets drink, ons tog weer dors sal word. So verganklik soos die kos is wat ons eet, so verganklik is ook ons liggame. Nou sê Jesus:  wie honger en dors na die geregtigheid van God word só versadig en gestil, dat hulle nie weer honger en dors sal word nie. Dit lei tot ‘n buitengewone versadiging, ‘n onbeskryflike geluksaligheid, ‘n blywende bevrediging, tevredenheid en dankbaarheid.

Jesus sê aan die vrou by die Jakobsput: "Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Joh 4:13-14).

Die mens eet brood, maar hy moet telkens weer eet. Hy drink water, maar hy moet telkens weer drink. Hy geniet plesier en vermaak, maar hy soek dit weer en weer. 

Omdat niks hom voortdurend kan bevredig nie, is die mens rusteloos en daarom gaan hy onvervuld deur die lewe. Die mens is altyd op soek, maar vind nie waarna hy soek nie. Dit is omdat wat goddelik en ewig is, by hom ontbreek. Hy is met geestelike blindheid geslaan. Jesus vertel dit vir ons: “‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom" (Matt 4:4).

Hulle wat hulself voed met die hemelse spyse van die evangelie, en die reine en edele geregtigheid van God, het letterlik tuis gekom. Hulle ewige soeke is verby. Daardie gapende innerlike leegheid is weg. Ook in moeilike lewensomstandighede het hulle ‘n anker wat hulle vashou, ‘n fondament wat hulle dra, ‘n geregtigheid wat hulle vertroos. Hulle soek nie hul troos in geld, alkohol of vermaak nie, want  binne hulle is die fontein van ‘n vervulde lewe.

Christene hardloop nie rond of jaag rusteloos deur die lewe nie. Hulle dra die geregtigheid van Jesus Christus in hul hart. In Hom vind hulle hul vervulling, vrede en vreugde: "Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting" (Neh 8:11 OAV) – ook by die storms van die lewe, ook in siekte, ja ook by die dood het hulle ‘n innige vrede: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd" (Ps 73:26).

Dit moet ons ook besef. Daarom sê Jesus: “Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” Jou soeke is verby. Jou heen weer hardloop is verby. Jy is versadig. "Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word".

Verwerk uit: Gerechtigheid, die befriedigt van ds Wolfgang Wegert


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css