Die Weg

 

God maak Hom in die winde bekend

"U tel my op en laat die wind my wegwaai, U ruk my heen en weer in u stormwind.” - Job 30:22.

Augustus is in die meeste dele van Suider-Afrika die “windmaand”. By ons is die lug vaal van stofdeeltjies en veldbrandrook, blare waai rond, baie mense nies en proes van lugweg irritasies.

Wanneer ons egter ‘n bietjie verby die lastige Augustuswinde kyk en deur die Bybel gaan blaai, dan sien ons hoe baie kere die Skepper en God van die verbond Hom in winde bekend gemaak het. Telkens op ‘n treffende manier.

Wanneer Job skryf: “U ruk my heen en weer in u stormwind”, dan hoor ons sy versugting om antwoorde te kry op sy beproewings. Hy voel hom klein en sonder krag in die hande van die grote God. So laat storms en orkane die mens dikwels snak na sy asem, want ons nietigheid word daardie tye duidelik. So beskryf die profeet Nahum ook God se oordele oor die vyande van Israel: “Hy kom in rukwind en storm, wolke is die stof onder sy voete.” (Nahum 1:3).

Die Here gebruik die vergelyking met wind egter ook om ander eienskappe van Homself bekend te maak.

♦ Lewenskrag: Ons weet dat die woord “ruach”, wat in Genesis 1 met Gees (van God) vertaal word, ook asem en wind kan beteken. Wanneer die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort word, gaan dit gepaard met die geluid van ‘n geweldige stormwind (Hand 2). Die nuwe krag om as apostels te gaan werk, word uitgedeel. Toe Nikodemus met Jesus kom praat het oor deel wees van die koninkryk van God, het hy gehoor dat ‘n mens weer gebore moet word. Dan word die werk van die Gees vergelyk met die wind wat onsigbaar is, maar tog ook kragtig werk (Joh 3:8).

♦ Sagtheid: By ander geleenthede vermy die Here die sterk wind, want Hy wil sy liefde en sorg bekend maak. So het Elia verskillende tekens ervaar, ook ‘n sterk wind wat rotse stukkend gebreek het. Maar God was nie daarin nie. Eers later hoor hy ‘n fluistering in die windstilte – God self was daarin teenwoordig. Die Here tel die bang en hooplose Elia geestelik op en gee hom nuwe krag vir sy werk. (1 Kon 19).

Waar jy ook al vandag sal beweeg, sal jy wind sien of voel. Soms sterk winde, soms ‘n sagte briesie. Onthou dat God net so teenwoordig is, soos die onsigbare wind.

Partykeer skrik ons vir sy krag en word nederig voor Hom. Ander kere kom troos Hy in sy sagte liefdesuitreik... 

Mag Hy jou vandag op jou pad begelei.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css