Die Weg

 

Wees gereed, die Koning kom! (7)

Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word” – Lukas 21: 25-26.

Ons lees in Matteus 24 en Lukas 21 dat daar kort voor die wederkoms van Christus groot ellende op die aarde sal heers en dat baie rampe die aarde sal tref. Jesus sê in Lukas 21: “Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die wêreld aan die kom is”. Het ons nie al vandag die voorsmaak daarvan nie? Daar is die benoudheid oor die ineenstorting van die wêreldekonomie, aardverwarming en onvoorspelbare weerstelsels, terreur en oorloë... en nader aan onsself, die toestand in ons eie land. Om Wolfgang Wegert aan te haal: “Sielkundiges en psigiaters word so toegestroom dat hulle self senuwee ineenstortings kry. Angspsigoses, neurose, depressie en verhoudingsversteurings is die beeld wat ons van baie gemeenskappe het. Ons weet van die angs van terreur en oorloë. .. En terwyl ons probeer om ons verflenterde senuwees aan mekaar te probeer lap, versplinter families onder die onbarmhartige druk van die moderne en deels immorele lewensomstandighede. Elke tweede of derde huwelik beland voor die skeihof ”.

Lukas 21:25-26 beskryf nie soseer die rampe wat die aarde gaan tref nie, maar die effek daarvan op die menselewens. Dit is die angs en benoudheid waarin die mense vasgevang sal word as gevolg van hulle geestelike bankrotskap. Alles waarop hulle uit hulself gehoop het, sal tot niet gaan en hulle sal geen geestelike krag hê wat hulle staande sal kan hou nie. Maar aan die gelowiges sê die Here Jesus: “As hierdie dinge begin gebeur”, dws as die groot nood oor die aarde kom, “staan dan regop en lig julle koppe op, want dan is julle verlossing naby” (vers 28).

Hoe is dit met ons gesteld? Sal ons ook van radeloosheid omkom omdat ons ons siele verpand het aan die wêreld? Sal ons wees soos die sakemanne van Openbaring 18 wat by die val van Babilon* beskryf word?: “Hulle sal huil en kerm en sê: Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels! In een oomblik is soveel rykdom verwoes!".

Maar Jesus Christus sê: “Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê” (Open 3:10-13).

-dw-

* Babilon: Daar word algemeen aanvaar dat Babilon in Openbaring 18 verwys na Rome. Maar dit kan ook gesien word as al die bose magte van die wêreld (vergl. Die Bybel in Praktyk: “daar sal ‘n einde gemaak word aan alles en almal wat God se planne in die wiele ry”). In hierdie geval staan Babilon lynreg teenoor die nuwe Jerusalem van Openbaring.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css