Die Weg

 

Wees gereed, die Koning kom! (6)

En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom" – Matteus 24:14.

In hierdie reeks boodskappe kyk ons na ‘n paar van die belangrike tekens wat daarop dui dat die wederkoms van Christus naby is. Dit is gebaseer op die profetiese rede van Jesus op die Olyfberg, twee dae voor Sy gevangeneming en kruisiging.

4. Die evangelie sal wêreldwyd verkondig word

Die belangrikste teken wat dui op die wederkoms van Christus word vir ons in Matteus 24:14 gegee: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom”.  

Die Bybel is in die 16de eeu in slegs 14 tale gedruk. In die 19de eeu het dit vermeerder na 71 tale. Teen 1965 was dele van die Bybel in 1250 tale gedruk. Aan die begin van 2004 was gedeeltes van die Bybel in 2355 tale en dialekte gedruk, en aan die einde van 2011 in 2538 tale en dialekte. Of dit nou in vryheid of vervolging is, daar is geen land op hierdie aarde waar daar nie Christene is nie, soms meer, soms minder. Daar mag sekerlik nog stamme wees wat nie deur die evangelie bereik is nie, maar globaal gesien kan ons vandag wel sê: die evangelie het tot by alle volke en nasies deurgedring. Wat ‘n wonderlike teken! En God gebruik die media daarvoor. Die moderne prestasies van die kommunikasie tegnologie behoort in die eerste plek in die hand van Koning Jesus, waardeur die evangelie uitgedra word tot aan die uithoeke van die aarde.

Ons weet nie die tyd en die uur wanneer Jesus weer sal kom nie, maar die tekens word al duideliker dat Sy koms naby is. En wat doen ons? Is ons gereed? Iemand het eenkeer gesê: “Die haan kraai in die vroeë oggend. En as die haan nie kraai nie, het die oggend óf nog nie aangebreek nie, óf daar is iets fout met die haan”. Baie keer dink ek moet ons van ons Christene ook sê: “Daar is iets fout met die haan”. Die oggend het reeds aangebreek, die dag van die wederkoms van Christus is duidelik sigbaar, maar baie Christene is nog vas aan die slaap. Mag God ons help dat ook ons hanegekraai die nuwe dag aankondig, die dag van Jesus se wederkoms. Laat ons opstaan en ons gereed maak, want Koning Jesus kom! Ons wil die nuwe môre aankondig, ons wil die heerskappy van Christus uitroep en Sy heerlike evangelie verkondig. Sy koms is naby!

Uit: Die Zeichen der Wiederkunft Christi – ds Wolfgang Wegert.

(Word vervolg)

Nota: "dag" hierbo beteken "tydperk" en nie 24-uur nie!

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css