Die Weg

 

Christelike lewensvreugde

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor” – Psalm 23:5 OAV.

Naas die bekende beeld van die herder in Psalm 23:1, gebruik Dawid ook in hierdie Psalm die beeld van die gasheer wat eer betoon aan sy gas deur hom laat deel aan die vreugde van die lewe.

Die gasheer berei ‘n onthaal voor vir sy gas en vereer hom deur sy hoof met olie te salf (die grootste eerbewys van daardie tyd). Die gulhartigheid van die gasheer laat die gas se beker oorloop. Hy geniet dit ten aanskoue van sy teëstanders, wat hom nie hierdie vreugde gun nie.

So onthaal die Here ook sy kinders, hulle wat hul in geloof aan Hom toevertrou. Wie deur die geloof die Here ken, ken ook die vreugde van die lewe.

Om ware lewensvreugde te kan geniet is vandag moeiliker as ooit. En die oorsaak daarvan lê by ons eie swakheid – ons gebrek aan geloof. Geloof laat ons by die feesmaal van God aansit. Geloof is ‘n gawe van God waarmee Hy ons verby die teëspoede van die teenwoordige tyd laat kyk. Dit is so wonderlik en onbegryplik, want dit kan nie deur enige smart of teleurstelling vernietig word nie. Dit is die vreugde wat Habakuk laat sing: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder”.

As daar nou iets is waaraan ons vandag behoefte het, dan is dit egte Christelike lewensvreugde. ‘n Vreugde wat nie uit ons omstandighede verklaar kan word nie, maar wat dalk juis in volle teenstelling tot ons omstandighede is. Dit is die eer wat die Here aan sy kinders verskaf. Hy berei vir ons ‘n feesmaal voor. Hy salf ons hoofde met eresalf. Hy gee aan ons die vermoë om die lewe te kan geniet, sodat ons teëpartye met afguns daarna kyk. Hulle kan dit nie verdra nie. Dit is die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal (1 Joh 5:4).

Maar hoe ver is ons nie daarvan af nie! Ons kla teenoor mekaar en maak mekaar moedeloos. Volgens die beeld wat ons uitstraal, het ons geen Helper nie. Dan lag ons teëstanders vir ons.

Is daar dan nie rede om te kla nie? Lewe ons nie in moeilike en neerdrukkende tye nie? Dit is wel waar! Maar dan kla ons nie soos iemand wat geen hoop meer het nie. Daar is geen benoudheid wat die mag het om ons van ons vrede te beroof nie - die vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4:7). Dan is daar ook vreugde in die donkerste tye, ‘n innige vreugde, omdat ons gaste van die Here is. Maar ons is meer as gaste, ons is kinders van die huis. Aan die maaltyd van die Here is daar ‘n oorvloed van genade. Altyd. Ook in die grootste smarte. “Nogtans sal ek in die Here jubel” (Habakuk 3).

As ons maar net weet wie die Here is. Wie Hy vir sy volk is. Hoe groot die skatte van die verbond is. Dan sal dit goed gaan met ons. Dan lewe ons. “As onbekendes, en tog is ons goed bekend; as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe; as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie; as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles” (2 Kor 6:9-10).

Dit is om aan te sit aan die tafel van die Here, as gekroondes teenoor ons teëstanders.

Ds Dirk Sikkel

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css