Die Weg

 

Ons ewige Rots

Net voor Moses sou sterf het hy 'n lied aan sy volk opgedra. Wat 'n pragtige lied is dit nie? Lees gerus Deuteronomium 32 in die 1983 vertaling. Maar dit sny ook soos 'n swaard:

Ek wil die Naam van die Here roem.
Prys God om sy grootheid!
Hy is die Rots, sy werk is volmaak,
alles wat Hy doen, is regverdig.
Hy is die getroue God,
sonder onreg,
Hy is regverdig en betroubaar. (verse 3-4).

Dink aan die dae lank verby,
onthou die jare
van die voorgeslagte.
Vra jou pa dat hy jou vertel,
jou oumense dat hulle jou dit sê. (vers 7)

Jy het jou Rots, jou Skepper,
nie in ag geneem nie,
die God wat jou in die wêreld
gebring het, vergeet (vers 18).

God het sy beloftes aan sy volk gestand gedoen. Hy het hulle uitgered, versorg en bewaar. Moses sê dit skerp en duidelik: die volk het sy ontstaan, sy bestaan en sy voortbestaan slegs aan God te danke. Die HERE het die volk verwek en voortgebring. Maar die volk het hulle Rots, hulle God, verontagsaam en vergeet!

Dit geld in dieselfde mate ook vir ons. Wat is daar wat ons nie ontvang het nie? “En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Kor 4:7). Ons is diep afhanklik van God vir alles wat ons ontvang, Hy is die bron van die lewe: “U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons.” (Ps 36:10).

Is ons dan nie net so gruwelik ondankbaar soos die volk Israel nie, en lewe ons nie dikwels ook so asof ons God nie nodig het nie? Ons loop ons eie pad, weg van God af. Ons stel ons vertroue op onsself of op iets anders en ons verontagsaam en vergeet God. “Hulle het iets wat nie ‘n god is nie, bo My verkies, My getart met wat niks is nie” (vers 21). Ons moet ons diep en ootmoedig neerbuig voor hierdie beskuldiging.

Moses noem God die Rots (vers 3). Dawid kom met dieselfde belydenis: “Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan” (Ps 62:3). Keer terug na hierdie Rots en plaas jou vertroue op Hom alleen. “Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God,sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar” (vers 4).

-dw - (Met aanhaling uit Avondzegen – Ds W Schouten en Ds S de Vries)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css