Die Weg

 

Ek skuil by die HERE

Ek skuil by die HERE. Hoe durf julle vir my sê: "Vlug na die berge toe soos ‘n voël! - Psalm 11:1 NAV.

"Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie" (Jes 28:16 NAV). Dit is in hoofsaak die inhoud van die boodskap van hierdie Psalm. Wat ‘n wonderlike belydenis: “Ek skuil by die HERE”. Dit staan lynreg teenoor die eiesinnige mens wat op sy eie krag en verstand wil vertrou: “Hy dink: ek sal nie wankel nie en die ongeluk sal my nooit tref nie” (Ps 10:6), of hulle wat op die mag en steun van ander mense vertrou: “So sê die Here: Daar rus ‘n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai” (Jer 17:5). Hierdie Psalm is die belydenis van iemand wat onder die beskermende skild van die Almagtige God ingevlug het:  “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het” (Jer 17:7-8). Dit getuig daarvan dat sulke vreesloosheid ‘n geskenk en die vrug van die geloof is. "Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan" (Mat 10:28, Heb 10:38). Met God stap hy sy vyande tegemoet. Hy wyk geen tree terug nie.

Wie is dit wat hom aanraai om te vlug? Is dit sy welmenende vriende wat vir hom sê: “Vlug na die berge toe soos ‘n voël”,  of is dit die stemme binne-in homself – die angs, sy verstand en die drang om selfbehoud - wat hom hier konfronteer? Die lewe en die eer van die regverdiges word bedreig. Hulle word soos wild deur die goddelose gejag. Dit is ‘n ongelyke geveg, een teenoor baie. Die versoeking om hierdie geveg te staak, om soos Elia voor die toorn van Isebel  (1 Kon 19:3) weg te vlug, is nog veel groter wanneer die “fondamente ondermyn word” (vers 3). Dit wil voorkom of die boosheid triomfeer. Daar word geen ag geslaan op die heilige verordeninge van God se gebooie nie. "Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek, het vervloeking, valsheid, moord, diefstal en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag" (Hos 4:1). Maak dit dan nog sin om die moed van die geloof aan die dag te lê en aan God gehoorsaam te wees?: “wat kan die regverdige daaraan doen?” (vers 3). Die geveg is verlore en die offer tevergeefs! So dink baie en gee die raad om te vlug.

Maar die mens wat sy skuiling by die HERE soek, hoef nie weg te vlug of agteruit te wyk nie (vers 4-7). Hy ervaar die nabyheid van die HERE en vind sy rus in die HERE. Hy leef uit die wete dat hierdie HERE hoog in die hemel sy troon het. Niks wat hier op die aarde gebeur ontgaan Hom nie, en Hy maak ‘n onderskeid tussen regverdiges en goddeloses (vers 4-5). Hy, wat die harte en niere toets (Jer 11:20, Ps 7:10 OAV), laat Hom nie deur die verdraaiing van die reg verblind nie. Hy gee geen vrye teuels aan die goddelose nie, en hulle sal uiteindelik moet drink uit die beker met die skroeiende wind van God se toorn (vers 6). Maar vir die regverdige wat standvastig bly, is daar die belofte dat hy die aangesig van God sal aanskou: “die opregtes sal sy aangesig sien” (vers 7 OAV). Vir die Psalmdigter gaan dit nie daarom dat hy die vernietiging van sy vyande sal belewe nie, maar dat hy in gemeenskap met God kan leef. Hy kan dus alle vrees oorkom sodat hy ‘n leër van vyande die hoof kan bied, want hy doen dit onder die aanvoering en beskerming van God.

Gebaseer op “Gott wird vergelden” (Psalm 11) uit: “das Buch der Psalmen I”, deur Helmut Lamparter.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css