Die Weg

 

Om regtig man te wees

Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met ‘n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis” – 1 Timoteus 2:8.

Hoe lyk ‘n tipies manlike man? Daar is sekerlik baie opvattings hieroor, ook in die sielkunde. Paulus, wat nooit sielkunde bestudeer het nie, slaan wel die spyker op sy kop wanneer hy die man sien as: “by elke plek ... hande in gebed”! Die man se lewe is van nature uitwaarts na die wêreld gerig.

Vir Paulus is die “hande” van die man van groot belang. Hy pak iets aan, hy steek die hande uit die moue, hy doen iets met sy hande. In sy hande lê ook sy krag: hy bal die vuiste. “Met stewige vuis en vaste hand!

Ons sien dit in militêre opmarse: harde hande wat vaandels vasklem; kolonnes wat verby marsjeer met gebalde vuiste. Dan sien ‘n mens ook die man afgebeeld in geïllustreerde weekblaaie: bondels bonkige spiere!

Paulus forseer egter die vuiste oop en vou die stoere mannehande biddend saam. Dit is vir hom die belangrikste in die sterke mannelewe: dat die hande vraend en hulpsoekend na Bo opgehef word, na God. Vir Paulus is dit die toonbeeld van ‘n werklike man, ‘n man wat dit op elke plek doen! Hoe maklik raak manne nie verleë oor hulle intieme lewe nie. Om tuis te bid, ja sekerlik. Maar om te bid in die sakeonderneming, die fabrieksaal, die sportveld, die sportklub...daar is hulle verleë. Daar het hulle nie die moed voor nie. Daar is hulle stoere manne wat hulleself moet laat geld.......

Is jy ‘n man in jou gebedslewe? Het jy die moed om oral vir jou Heiland op te staan? Indien wel, is dit dan ook in die goeie sin: “met ‘n skoon gewete....vry van onmin en twis”?

Hoe staan dit met jou gebedslewe, beste broer? Kom, wees ‘n man en steek die hande uit die moue en bid, “op elke plek”. Want as ons swak is, dan is ons sterk (2 Kor 12:10).

As al die gebalde vuiste oopvou in gebed, sal nie ons wil nie, maar God se wil geskied. ..... vry van onmin en twis.

Ds C Gilhuis in Ontmoetingen (Verwerk)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css