Die Weg

 

Kos vir die gees gee krag vir die hele lewenspad

Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan. Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ’n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring. Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn.” - Psalm 84:6.

Sonder gereelde ontmoetings met die Here God sal ons aan geestelike honger sterf. Hy is Gees en ons vlees, maar tog is daar kommunikasie moontlik. Van die vroegste tye af beskryf die Bybel hoedat mense deur offerandes en gebede in ontmoeting met God was. Jesus verseker dat daar waar twee of drie in sy Naam vergader, Hyself teenwoordig is. Vandag is dit elke gelowige se gebruik om God saam met ander kinders van Hom te ontmoet in die erediens.

Die Psalmdigter sing van die wonder van die huis van God, destyds die tempel. En dan verklaar Hy: “Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan”. Waarom gaan dit juis met sulke mense goed? Omdat die fonteine van God se lewenswater juis daar vir ons oopgaan. Hoe dikwels is ons lewenspad nie soos deur ‘n dorre laagte nie? Bekommernis of teenstand, gebrek aan sekerheid oor môre, siekte of dood, berou oor sonde, moeg van harde werk, ... Ja, daar is so baie dinge wat ons geestelik en liggaamlik kan uitput.

Soek dan jou geesteskrag saam met medegelowiges minstens weekliks in die teenwoordigheid van God. Keer op keer sal jy krag ontvang vir die volgende stuk van jou lewenspad. God wil nie dat ons van geestelike honger omkom nie. Hy wil ons nie met dikgeswelde droë tonge sien worstel teen die aanslae van ons vyande nie. Hy wil jou verkwik deur sy Woord, deur gemeenskaplike gebede, onderlinge meelewing, sakramente, samesang en belydenis.

Ja, waarlik Here, dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na U tempel toe gaan!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css