Die Weg

 

Een van siel, een van sin

"Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing - maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe" - Filippense 2:1-2 NAV.

Die gemeente van Filippi was voorbeeldig. Die apostel Paulus dank God in sy gebede vir die gemeente (1:3-4). Hy dra hulle na aan sy hart (1:7). Hy bevestig hul egtheid in die geloof en hul “gemeenskap aan die evangelie”(1:5). Die gemeente bid vir Paulus, en hy weet dat hy deur hulle voorbidding versterk word (1:19). Hulle deel in sy moeilike omstandighede en ondersteun hom met hulle gawes  (4:14).

Daar is geen sigbare stryd in die gemeente met betrekking tot die leer wat verkondig word nie. Verder lyk dit ook nie of daar enige morele sondes aanwesig is nie. Dus, ‘n baie voorbeeldige gemeente.

Nogtans was daar gevare by die Filippense te bespeur. Een daarvan was die neiging om te vergeet om in ooreenstemming met die evangelie te lewe (1:27). Paulus vermaan hulle om standvastig te bly staan teen die druk wat van buite af op hulle geplaas word: "dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie, en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie" (1:27-28).

Paulus wys hulle ook op ‘n ander gevaar, die gevaar van binne. Dit is die onenigheid wat uit hooghartigheid voortkom. Hy het van die spanning en die wrywing binne die gemeente te hore gekom  en hy spreek dit in hoofstuk 4 by name aan:  "Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here" (4:2).

Partydigheid, stryd, liefdeloosheid en die afwesigheid van eensgesindheid is ‘n groot gevaar vir die gemeente van Jesus (die gemeenskap van gelowiges). Hierdie bedreiging werk van binne-af en is so vernietigend soos gif. Die eenheid binne die gemeente is belangrik. God se groot verlossingsplan is tog om een volk met mense uit alle stamme, nasies en tale in Jesus Christus saam te bring. Ook Jesus bid in Johannes 17:11 om die eenheid van Sy kinders: "Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees”.

Die eenheid van die gelowiges het ook ‘n besonderse uitwerking: "Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het" (Joh 13:35 OAV).

‘n Mens kry die gevoel dat daar onder Christene (en kerke) so van eenheid gepraat word asof ons dit eers moet skep. Maar ons kan uit onsself geen eenheid skep nie. Ons kan dit wel eis, want die oorsprong daarvan lê in Jesus Christus. Net die evangelie is die basis vir ‘n eenheid in Christus.

Deur die werk van Jesus Christus leef ons deur die Gees in gemeenskap met mekaar en met God. Paulus sê aan die Filippense, en aan ons, dat ons op hierdie gemeenskap moet voortbou. Die bindmiddel is God self. Ons word nie deur gemeenskaplike belangstellings saamgebind nie, maar deur die gemeenskap van die Gees. Dit is ons gemeenskap in Christus, in die evangelie, in die Woord, in gebed, in voorbidding, in die liefde......

Ds Christian Wegert:  “Eines Sinnes sein” (verkort).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css