Die Weg

 

Oorwinnende nederlaag

Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk” – Handelinge 6:15 NAV.

Sewe manne uit die Griekssprekende Christene het ‘n opdrag ontvang om na die armes in hulle groep om te sien. Uit hierdie sewe tree veral Stefanus sterk na vore. ‘n Begaafde en diep gelowige man uit wie die wysheid en die krag van die Heilige Gees gestraal het. Hy het so uitgestaan dat sekere Jode met hom begin redeneer het. Hulle was egter nie by magte om teen die wysheid van die Gees te redeneer nie, en daarom kom hulle met brutale verset teen Stefanus.

Net soos dit met Jesus die geval was, gebruik hulle “strooipoppe” om die werk vir hulle te doen. “Toe het hulle mense omgekoop om te sê: Ons het hom teen Moses en God hoor laster" (Hand 6:11). Selfs die woorde van Jesus oor die afbreek van die tempel word weer as argument gebruik. Dit is eintlik skrikwekkend om te sien hoe die proses wat teen Jesus gevolg is, homself weer herhaal.  Dit is baie duidelik dat dit hier om meer gaan as net ‘n stryd teen Stefanus. In werklikheid is die stryd steeds teen Jesus.

Die slotreël van hoofstuk 6 is egter veelseggend: “Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk” (Hand 6:15). Dit vertel hoe Stefanus in hierdie tyd van uiterste spanning deur ‘n besonderse Krag gedra word. Hy is as’t ware verhewe bo sy eie beperkinge en angs. Hy het deel aan die lyding en oorwinning van sy Here en sy gesig spreek daarvan.

‘n Mens kan nie dieselfde van sy regters sê nie. Hulle het hulle saaklike houding verloor en uit verbasing en angs hul eie gewetes verskree.

 Stefanus se geniale verdedigingstoespraak kon homself egter nie red nie. Dit word ‘n doodsvonnis. Maar om te sê dat Stefanus verloor het, is nie korrek nie. Daar was meer agter dit wat met die oog gesien kon word. ‘n Mens kan “verloor” sonder om te verloor. Stefanus word bewus van ‘n ander dimensie van sy bestaan. Hy “sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan” (Hand 7:54). Hy kon nie nalaat om dit te sê nie! Sy vyande wou dit egter nie hoor nie. Die haat wat in hulle opgewel het was sterker as hulleself.

So sterf Stefanus onder die vallende klippe. Hy sterf, terwyl hy sy gees aan Christus oordra. Hy sterf, terwyl hy vir sy vyande bid. Hoe eervol is hierdie neerlaag! Hoe sinvol die skynbare sinnelose gebeure.

Dit is asof die skrywer van Handelinge bewustelik voortbou op die tema van verborge eer, die geheimsinnige weë van God, wanneer hy so nadruklik vertel van Saulus wat by hierdie teregstelling teenwoordig was en dit ook goedgekeur het (Hand 8:1-3). Terwyl gelowige manne vir Stefanus na die graf dra, veg Saulus verwoed teen die gemeente. Maar in werklikheid is dit die begin van die geskiedenis van ‘n apostel, van ‘n man wat hom aanhou verset het totdat Jesus self ingegryp het en hy hom aan Jesus moes oorgee. Die geloof waarvoor Stefanus hier gebloei en gesterf het, sou deur middel van Paulus (Saulus) na die res van die toenmalige bekende wêreld uitgedra word.

Verwerk uit: G.N. Lammers – Ontmoetingen

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css