Die Weg

 

Tyd is kosbaar - veral saam met God

"Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd" - Prediker 3:1 OAV.

Dit is regtig so: daar is ‘n tyd vir alles. Maar waarom sê baie mense hulle het geen tyd vir gemeenskap met God nie? Is dit inderdaad so dat daar ander dinge is wat ‘n hoër prioriteit verdien as ons tyd saam met God? Daardie besonderse tyd waarin ons kan deel in Sy liefde en Sy krag!

Tyd is meester oor alles. Dink maar net aan die geskiedenis van die wêreld as jy ‘n bewys wil hê van hoe tyd die mens gemaak het wat hy vandag is. Ons sien ook hoe ons ons tyd en arbeid ingespan het om ons te maak wat ons nou is. Dit is onder die wet van tyd en sy onsigbare krag dat ons ons lewe deurbring.

Dit is veral ook van toepassing op ons godsdiens en ons gemeenskap met God. Tyd is hier ook ons meester. Hoe belangrik is ons gemeenskap met God nie! Watter seëninge hou dit nie vir ons in nie! Ons, wat na die beeld van God geskape is, watter krag lê daar nie in Sy diens as seën vir ons nie! Maar daar is een voorwaarde: dat ons voldoende tyd met God deurbring, sodat ons die lig en warmte kan ondervind wat van Hom uitstraal, sodat ons ook deel kan hê aan Sy Gees en Sy lewe.  Die werklike kern van ons godsdiens lê in die gedagte: “Tyd met God”.

Maak tyd met God. Jy het tyd nodig om met die Woord van God gevoed te kan word sodat jy daardeur die lewe vir jou siel kan ontvang. Deur Sy Woord leer ons Hom ken sodat Sy kragvolle seën ons harte en ons lewens kan versterk. Neem elke dag tyd om die Bybel te lees, al is dit net ‘n paar verse. Dink na oor wat jy lees sodat jy die brood van die lewe kan verteer en jou eie kan maak. As jy nie die moeite doen, en die tyd neem sodat God met jou deur Sy Woord kan spreek nie, hoe kan jy verwag dat Sy Gees jou sal lei? Deurdink die Woord en bid tot God oor dit wat jy gelees het, en glo dat daardie beloftes van Hom ook vir jou persoonlik bedoel is. Weet jy nie wat en hoe om te bid nie? Die Woord inspireer jou hoe jy moet bid en dit gee vir jou verder die wil en krag om reg te kan bid. Ons gebede is dikwels vrugteloos omdat ons ons eie gedagtes en wil vooropstel en nie die tyd neem om te hoor wat God aan ons wil sê nie.

Laat die Woord van God jou leer wat God belowe het Hy sal doen, wat jou werklike behoeftes is, en hoe God wil hê dat jy moet bid. Die Woord en jou gebed sal jou hart in die regte stemming bring om werklike gemeenskap met God te hê deur jou geloof in Christus Jesus.

Dit is nie van veel waarde om van die dieper, meer oorvloedige lewe van Christus in ons lewe te praat nie, as ons nie daagliks, bo alles, die tyd neem vir gemeenskap met ons Vader in die hemel nie. Tussen al die afleidings en versoekings van die wêreld, kan die lewe, liefde en heiligheid wat van God uitstraal nie ons s’n word nie, tensy ons aan God die tyd gee om Homself aan ons te openbaar en om besit van ons harte te neem.

Dr Andrew Murray

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css