Die Weg

 

God sal voorsien

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” – Matteus 6:33 NAV.

Soos ons verlede keer gesien het, mag ons ons nie oor die lewe en oor die toekoms kwel nie, selfs nie oor kos en klere nie, want dit is in die hande van God, nie in ons s’n nie.

Daar is egter een ding waarvoor ons kan en moet sorg. Nie met kommer nie, maar dienswillig, ernstig en met vreugde. Ons moet sorg dat ons ons plig nakom. Dit is om die wil van God te doen en ons plek in God se wêreld vol te staan.

Ons behoort dit vir onsself baie duidelik te stel. Te veel mense bekommer hulle eerder oor dinge wat aan die verganklikheid onderworpe is; oor kos en klere en die vrees dat hulle in die toekoms gebrek mag ly, as oor hoe hulle hul eie volle plig moet nakom.  D.w.s. hulle is meer bekommerd oor dit wat God sê Hy sal doen, as oor dit wat hulleself behoort te doen. Hulle is bevrees dat God nie vir hulle sal sorg nie, maar hulle het geen vrees dat hulle in getrouheid aan God mag kortkom nie. 

Eenvoudige toewyding aan Christus en die nakoming van jou eie plig is die edelste wat ‘n mens in hierdie wêreld kan nastreef, sonder enige bekommernis oor iets anders. Ons mag dalk nie op die weelderige wyse gevoed of in skarlaken en fyn linne geklee word nie (dit is in elk geval nie waaroor hierdie lewe gaan nie), maar geskikte voedsel sal aan ons voorsien word en genoegsame klere om ons warm te hou. As ons hiervolgens lewe, sal God op die regte tyd, op Sy eie manier, aan ons behoeftes voorsien. Ons het die definitiewe belofte van ons Here daarvoor. Die waarheid is egter dat ons te veel aandag aan ons lewensomstandighede bestee en te min aan ons plig. En as die lewe dan vir ons moeitevol word, is dit omdat ons nie ag gee op die woorde van die Here Jesus nie - ons ly maar liewer. Hoeveel beter is dit nie anders om nie -vir ons om te doen, vir God om te sorg.

J.R. Miller “Daily Bible Readings in the Life of Christ”

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css