Die Weg

 

Die sonde van besorgdheid

Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe...nie” – Matteus 6:25.

Natuurlik moet ons vooruit dink oor ons toekoms, maar in 'n regte sin. Waarvoor het ons 'n verstand gekry as ons dit nie kan gebruik nie? Dit sou wees net asof God ons sou verbied om te loop nadat Hy vir ons voete gegee het, of om te praat nadat Hy vir ons tonge gegee het. Ons moet ons verstand gebruik en daarmee dink, en dan mag ons ook oor die toekoms dink en planne maak vir die jare wat voor ons lê. Dis nie voorsorg  wat verbied word nie, maar besorgdheid, kwelling, vrees. Daar is wel sekere dinge wat ons kan doen eerder as om besorg wees (dit sal ons ‘n volgende keer kan sien). Laat ons vandag eers die eenvoudige les leer: dat ons onsself nie moet kwel nie. Dis nie 'n reël met uitsonderings nie. Dis 'n stukkie geloofsbelydenis wat ons in die lewe kan beoefen. Dis 'n les wat ons elke dag moet toepas, hoe vol die dag ookal mag wees van dié dinge wat daarop uit is om ons gemoedsrus te versteur!

Maar hoekom moet ons ons nie kwel nie? Die “daarom“ gee vir ons die antwoord; eintlik die woorde voor "daarom": “Julle kan nie God en ook Mammon dien nie! Daarom, moet julle nie bekommerd wees nie” (Matt 6:24-25). Dus, om ons oor ons finansiële posisie te bekommer, beteken om Mammon (die geldgod) te dien.

Ons sê ons is kinders van God, en tog wanneer dit skyn of Mammon ons in die steek wil laat, word ons besorg. In werklikheid vertrou ons dus meer op die geldgod Mammon as op ons Vader. Ons voel geruster as Mammon se oorvloed ons hande vul as wanneer Mammon dreig om ons te versaak. Eintlik sê ons, ons vertrou God en Mammon. Daarom, besorgdheid oor die voorsiening van ons behoeftes beteken wantroue in ons hemelse Vader. As ons God alleen dien, behoort ons ons nie te kwel nie, al het ons nie brood vir môre nie; ons moet in die liefde van ons Vader vertrou. Geld kan ons enige dag verloor, want “rykdom sal vir hom sekerlik vlerke maak en soos ‘n arend wegvlieg”, maar God kan ons nooit verlaat nie. Niks kan ons van sy liefde skei nie. Niks kan ons ooit beroof van die oorvloed wat Hy besit om in ons behoeftes te voorsien nie.

Daarom, as ons God vertrou, behoort ons nooit bekommerd te wees nie, al het ons niks anders nie.

J.R. Miller “Daily Bible Readings in the Life of Christ”

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css