Die Weg

 

Moenie wegdryf nie - gryp vas!

"Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie" - Hebreërs 2:1.

Dit wat ons in die Bybel lees oor Jesus, die Seun van God, is lewensbelangrik. God praat met ons in sy Woord, ons hoor dit en moet dit nie ligtelik opneem nie. Dit is die enigste pad van hoop. Die enigste openbaring van die waarheid oor die regmaak van die mens se verhouding met God.

Hebreërs 1 gee die boodskap kortliks: Jesus is God, die Een deur wie die Vader in die laaste dae kom praat het. Hy het die reiniging van sondes gebring, sodat mense nie daarvoor veroordeel sal word nie. Daar is vir elkeen wat glo in Jesus Christus, verlossing. Hy is die magtige Heerser aan die regterhand van die Vader.

En dan die ernstige bevel: Gryp nog kragtiger aan hierdie waarheid vas. Moenie daarvan wegdryf nie! Al die ander boodskappe van hoop is grashalmpies, met geen waarde nie.

‘n Lewensbelangrike waarheid. Wie daaraan vasgryp, het sekerheid van sy/haar die saligheid. Wie dit verwerp, leef in onsekerheid en sal geen saligheid ontvang nie. Wat word bedoel met saligheid? “God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid” (Heb 2:10). Die volle heerlikheid wag op die nuwe aarde, wanneer Christus weer kom. Maar saligheid is nou reeds ons deel. Want ...

Moenie wegdryf van die Seun van God, Jesus Christus, nie. Sonder Hom verloor jy alle hoop op hierdie saligheid.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css