Die Weg

 

Vertrou nie op perde nie

(Uittreksels uit  “Om nie op perde te vertrou nie” deur ds Maarten van Helden. Die volledige teks en klankopname is op die webwerf te kry.  Gaan lees dit gerus hier! )

------------------------------

"Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die HERE ons God." - Psalm 20:8.

Dit is buitengewoon en opvallend, en moontlik heel vreemd dat die Israeliete nooit van perde gebruik gemaak het nie (net van donkies en muile). Hulle het nie in hul oorloë op perde uitgetrek nie. Dit is net in die tyd van Salomo dat perde gebruik is. Maar daarmee het Salomo en die volk Israel ‘n gebod van die HERE oortree! Uiteindelik het die gevolge ook nie weggebly nie.

Daar was twee redes waarom die HERE Israel verbied het om perde aan te hou. Die eerste vind ons in Deuteronomium 17:16-17. Die tweede, en wat hier van belang is, vind ons in Deuteronomium 20:1 nl: “Wanneer jy teen jou vyande gaan oorlog maak en jy merk hulle het perde en strydwaens en hulle is meer as jy, moet jy nie vir die vyande bang wees nie. Die HERE jou God wat jou uit Egipte laat trek het, is by jou”.

Die vrees vir die vyand en sy pragtige perde, dáárdie vrees word oorwin deur vertroue op die HERE, maak nie saak hoe groot die aanslag en die bedreiging is nie!

As Israel perde gehad het, dit in hulle oorloë gebruik het en hulle vertroue op perde gestel het, dan kon hulle gesê het: "maar ons perde was tog vinniger as hulle perde". Dis mos wat ons doen. Ons loop en vergelyk ons met ander.. hulle.., “ons” en “hulle”. Dan vertrou ons nie meer op die HERE nie maar op ons vermoëns - ons perde! Sien jy, geen perde nie, en veral geen perde nie. Jy kan nie met 'n donkie gaan oorlog maak nie, daarom moet jy te voet gaan. Nou kan jy dink, wat is nou die moontlike uitkoms van 'n oorlog teen duisend of honderdduisend voetsoldate en duisende strydwaens en perde. Wat kan die moontlike uitkoms wees? Tog het Israel geen perde in hulle weermag gehad nie. En nou kan jy daardie oefening self gaan doen. Dan moet jy gaan kyk hoeveel keer Israel die wenners was in die oorlog. Feitlik elke keer. Die HERE sê: “want Ek is met julle! Julle is nie alleen nie”. As die HERE sê: “ek is by julle”, dan praat ons van die magtige God van hemel en aarde, die God wat jou uit Egipte bevry het, die God van Golgota. Waar die Gesalfde die oorwinning behaal het oor die bose, die sonde en die dood.

Daarom is daar geen perde nie, sodat jy nie in versoeking kom om nie op die HERE te vertrou nie. En so help die HERE ons eintlik teen onsself. Jy sê ek het nie baie geld nie, ek is maar so arm soos 'n donkie. Maar onthou, die HERE gee vir jou net genoeg wat jy nodig het. Die Bybel sê as jy te veel het kan jy Hom vergeet, Hom verloon. Hy gee net vir jou genoeg. Soms gee Hy vir jou net genoeg vir elke dag. Maar as jy te veel het, dan sal jy God nie meer nodig hê nie. Kan jy op jou eie perde vertrou? Pas op vir jou bankrekening waar die geld ophoop, vir jou polisse en vir die rykdom waarop jy vertrou, want 'n ryk man/vrou sal beswaarlik in die Koninkryk ingaan (Luk 18:25). Jy moet diep gaan dink waarvoor God dan vir jou geld gegee het, en gebruik dit daarvoor. Israel moes altyd weet dat hulle met hulle donkies en voetsoldate baie swakker was. Elke oorwinning sou dus 'n wonder van God wees. So elke dag wat jy werklik leef, wat jy dit nie in eie krag gedoen het nie, word jy beïndruk deur die wonder van God se standhoudende genade, op genade, op genade.

Dis wat God wil hê: 'n verhouding. 'n Verbondsverhouding waarin Hy verheerlik en vertrou word. 'n Verhouding waarin ons verstaan dat God anders dink as ons natuurlike mense. Hy wil hê ons moet soos Hy begin dink. Ons moet ander standaarde hê. Die hele Koninkryk van God is anders.

..........

Uittreksels uit  “Om nie op perde te vertrou nie” deur ds Maarten van Helden. Die volledige teks en klankopname is op die webwerf te kry.  Gaan lees dit gerus hier! 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css