Die Weg

Paasfees: Jesus Christus Waar of Vals?
Jan Brink

In hierdie tyd waar die afvalligheid van die Christelike godsdiens al hoe groter word en die Bybel al meer onder verdenking kom, is dit nodig om die bostaande vraag te vra.  Het Christus wel na die aarde gekom om vir ons sondes te sterf?

Soos in ‘n ander artikel op hierdie webwerf aangedui, is die mens sowel ‘n geestelike as ‘n vleeslike wese. In ons vleeslike stadium is dit onmoontlik om verder as ons vleeslike bestaan te sien (en vir sommiges om te dink). Ons kan God nie sien nie, aangesien Hy Gees is. Johannes 4:24:  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Jesus Christus moes as mens na die aarde kom. Daarom moes Hy volkome mens wees, en moes Hy deur wie alles ontstaan het, vlees word, sodat ons Hom kon sien en in Hom kon glo. Hy wat een is met die Vader en deur wie alles ontstaan het.

Johannes 1:1  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

Johannes 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon -- en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom -- vol van genade en waarheid.

Die hele Ou Testament is ‘n heenwys of profesie na die koms van Jesus Christus en die versoening wat Hy tussen ons en God sou bring. Die gebeure by die uittog van die Israeliete uit Egipteland: die slag van die Paaslam, die merk met die bloed en die tog deur die Rooi See. Reeds in Deuteronomium 18:15 lees ons: 'n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister – (Dit word weer in die Nuwe Testament bevestig in Handelinge 7:37 Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister). Verdere verwysings kry ons o.a. in Jesaja 53:5, Jeremia 23:6, Sagaria 13:6, Sagaria 12:10. 

Inderdaad is die hele Ou Testament deurtrek met simboliek van die koms van Jesus Christus sowel as van Sy wederkoms. Slegs wanneer die Bybel sinvol bestudeer word sal ‘n mens die goue draad sien wat daar deur al die gebooie, verhale, poësie, spreuke en profesieë deurweef is en heenwys op die koms en wederkoms van Jesus Christus. Maar dit gaan nog verder: dit dui ook die straf aan wat volg op die ongeloof en die verwerping van God se genade wat vergestalt word in die Israeliete se uitbanning na die woestyn waar hulle 40 jaar sou rondswerf totdat die ongelowige geslag totaal uitgesterf het.

Hoekom moes Hy ‘n kruisdood sterf?

Die kruisdood was die algemene gebruik vir teregstellings in die tyd van die Romeinse heersers. Indien Hy nie gesterf het nie, maar as koning van die Jode gekroon sou word, sou Hy net dít gewees – koning van die Jode -.  Hy sou soos alle wêreldheersers in vergetelheid geraak het. Die bloed wat deur die paaslam in die ou verbond versinnebeeld is, sou dan ook nie gevloei het nie. Sy kruisdood het veroorsaak dat die evangelie oor die hele wêreld verkondig sou word en dat Sy bloed versoening vir alle mense gebring het, nie nét vir die Jode nie. Só is dit deur God bestem.

 Jesaja 53:5  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Zacharia 12:10  Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind.

Die bloed van die paaslam wat ter versoening van die Israeliete in die ou verbond (Ou Testament) op die altaar gesprinkel is, is vervang met die bloed van die Lam van God wat versoening vir alle mense bring wie in Hom glo, en wie daardeur die ewige lewe sal beërwe.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css