Die Weg

Geloof, hoop en liefde in opvoeding
Dr Wietske Boon
www.childtherapist.co.za

Lees 1 Kor 13: 1 tot 1 Kor 14:1

En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

Julle moet julle liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer.

Dalk voel jy, soos baie ander, soms moedeloos om al die balle in die lug te hou en om `n gebalanseerde lewe te lei. Ons probeer bou aan `n toekoms vir ons kinders deur goeie opvoeding, tyd en aandag wat aan hulle gegee word. Ons wil graag finansiële stabiliteit verkry sodat ons aan hulle huidige en toekomstige behoeftes kan voorsien. Om jouself te verdeel tussen jou eggenoot, kinders, werk en die uitdagings wat van buite op jou skouers rus, kan dit soms voel of die las van die lewe te swaar raak. Ons tyd is beperk en ons moet onderskei tussen dít wat dringend ons aandag benodig en dié dinge wat kan wag. Daarom kom ons nie so gereeld (of selfs glad nie) by Stiltetyd uit nie. Ons is gedruk om die beste te maak met die tyd tot ons beskikking, en dít binne `n wêreld wat weinig hoop bied.

Ons kan nie aanhou om ons dagtaak te verrig sonder hoop nie. En hierdie hoop kom alleen uit die geloof. Dit is hierdie geloof en hoop wat ons aan ons kinders wil oordra. Om geloof en hoop te hê beteken dat ons moet vashou aan God en sy Woord. Binne ‘n gejaagde lewe beteken dit dus dat ons tyd moet maak vir persoonlike stiltetyd met God. Hierdeur sal ons geloof groei en daarmee ons hoop. Die hoop skep by ons die vrede en die verwagtinge op 'n lewe wat ver verwyderd is van die gejaagdheid en verganklikheid van ons aardse bestaan; dat dit nie net `n gejaag na wind is nie, maar diensbaarheid in God se koninkryk. Wanneer ons geloof en hoop het, is ons ook waarlik toegerus om lief te hê. Sonder liefde (gebaseer op geloof en hoop), is alles wat ons doen tevergeefs. Ja, ook ons ouerskap. Dan maak ons kinders groot soos die wêreld dit van ons verwag.

Wanneer ons ons kinders met hierdie liefde grootmaak waarvan Paulus in 1 Kor. 13 praat, is ons geduldig en het ons selfbeheersing (Spr 16:32). Nêrens in die Bybel word daar genoem dat ons moet jaag, ons kinders moet druk of byna onmoontlike resultate van hulle verwag nie. Nadat die boer gesaai het, wag hy geduldig vir die reën en vir sy graan om tot rypheid te groei, voordat hy kan oes. Elke dag is `n belangrike dag vir die groeiproses. Oes hy te vroeg of te laat is sy oes niks werd nie (Jak 5:7; Gal 6:9). Ons kinders is soos hierdie boer se oes. Elke dag is belangrik. Elke mylpaal ontwikkel op sy eie tyd. Ons kan vir ons kinders die nodige leiding en ondersteuning gee wat hulle benodig, in welke vorm dit nodig mag wees, maar ons kan nie ons kinders druk bo hulle vermoë of buite hulle ouderdomsgepaste ontwikkelingsfases nie. Die lewe is vir hulle `n groeiproses.

Verwag jy te veel van jou kinders? Leef jy in die toekoms, besig om planne te maak vir jou kinders, en laat jy die kosbare groeityd verlore gaan? Is jy dalk soms te kwaai of ongeduldig op grond van jou eie frustrasies en tydsbeperkinge? Is daar tyd in jou dag om rustig, gereguleerd en vriendelik te wees? Of voed jy op met `n strak gesig? Wanneer ons dissipline toepas, moet dit uit liefde, geloof en hoop wees en nie om vrees te kweek nie. Die reëls, grense en dissipline wat ons stel en toepas moet gepas, regverdig en gegrond wees op Bybelse beginsels. Wanneer ons ons kinders met vriendelikheid grootmaak, lei en onderrig, vind ons vreugde in ons opvoedingstaak en help ons hulle bou aan hulle selfbeeld. Wanneer ons uit liefde lei en dissiplineer, sal ons nie liggeraak, of opvlieënd wees of oorhaastig en ontoepaslik reageer nie. Ons moet ook ons dankbaarheid betoon wanneer ons kinders gehoorsaam is en hulle samewerking gee.

Net soos elkeen sy of haar tekortkominge het, het elkeen van ons kinders ook hulle eie sterk- en swakpunte. Elkeen is uniek in terme van ontwikkeling, hul posisie in die gesinsamestelling en reaksie op die blootstelling aan verskeie gebeure. Dáárom verskil kinders se ontwikkelingsvermoëns en behoort ons ook nie onnodige druk op hulle te plaas om volgens wêreldse standaarde te presteer nie.  Ons kan nie kinders met mekaar vergelyk nie en ons moenie kinders teen mekaar afspeel deur grootpraterige praatjies nie (…maar jou boetie is nie bang nie, of jou maats het dan vol punte behaal). Ons hoef ook nie hoogmoedig te wees en te spog deur ons kinders se prestasies land en sand vir eie gewin te verkondig nie, al werk die kind hard. Elke talent gegee is net genade van Bo. Elke kind is anders. Elkeen ontwikkel op sy eie tyd volgens die talente en gawes wat hulle ontvang het. Die samelewing stel sekere mylpale waarvolgens `n kind se sukses gemeet word met die oogmerk op prestasie. Indien `n kind wél binne hierdie maatstawwe van die samelewing presteer, moet `n mens steeds onthou om nederig en dankbaar te bly en nie verwaand te wees nie (Gal 5:26). Só mag ons ook nie afgunstig of jaloers wees op ander se kinders, hulle vermoëns of prestasies nie. Elke kind behoort op grond van hulle eie vermoëns aangespoor en aangemoedig te word (Pred 4:4). Ons moet ook daarteen waak dat ons kinders se deelname aan aktiwiteite en ons ondersteuning en dryfkrag nie vir ons eie belang is nie. Buitemuurse aktiwiteite moet vir 'n kind 'n plesier wees.

Paulus noem dat die liefde nie onwelvoeglik handel nie. Die liefde waarmee ons ons kinders grootmaak is bedagsaam en neem ander in ag. Dit beteken dat ons hulle (ons kinders) se sterk- en swakpunte en omstandighede in ag neem. Ons moet ook in ons optrede teenoor ander mense bedagsaamheid toon. Ons moet waak oor die manier waarop ons mét ons kinders en vóór ons kinders praat en optree. Jou stem word jou kind se stem. Hulle volg ons voorbeeld.

Ons het ons kinders onvoorwaardelik lief. Hierdie liefde “bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles.” Dit geld ook vir jou verhouding met jou eggenoot of die kinders se ander ouer in die geval van gebroke gesinne. Ons behoort mekaar met vriendelikheid en geduld te hanteer. Nie te kompeteer om die beste ouer te wees of jaloers te wees nie. Ons moet mekaar vergewe en nie boekhou van wat die ander verkeerd gedoen het nie. Deur die geloof en hoop skool ons ons kinders in die Waarheid (ten spyte van die wêreld waarin hulle foute maak). Ons as ouers behoort saam ons kinders groot te maak in geloof, hoop en liefde. Wanneer ons ons eie geloof en hoop versterk, omdat ons tyd maak vir persoonlike stiltetyd, versterk ons ook die eienskappe van die liefde en dra ons die geloof en hoop oor aan ons gesin.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css