God is steeds daar in donker dae
Ds Maarten van Helden
Verkorte transkripsie van 'n preek deur ds Maarten van Helden. Die volledige preek kan hier gehoor word: www.dieweg.co.za/luisterin.shtml.
Skriflesing: Job 1:1-2:10 Job 42:1-6 2 Petrus 1:3ev
Teks: Job 1:12,20,21
Jesaja 43: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou” (Jes 43:1-2). Hoor hierdie woorde: “As jy deur water moet gaan, is EK by jou” - dit is dieselfde woorde as EK is: EK is wat EK is. “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou” (Jes 43:2-5). Ons kan ook lees uit Romeine 5 wanneer Paulus vertel: ons verheug ons deur die vryheid wat ons in Christus het. Dan sê hy in Romeine 5 vers 3, maar dis nie al nie, ons verheug ons ook in swaarkry. “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Job 1 vers 12: 'Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Dieselfde gebeur ook in hoofstuk 2 wanneer Satan weer 'n keer die Here uitdaag met Job. Dan sê die Here vir die Satan: “goed hy is in jou mag of jou hand, net aan sy lewe mag jy nie raak nie”. Jy mag nie sy lewe neem nie. Dan verse 20 en 21: 'Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Die Naam van die Here word geloof.”'
Die Engelse woord “train smash” word soms gebruik om 'n groot ramp of terugslag aan te dui, bv in die uitdrukking: “hierdie verlies is darem nie 'n train smash vir die maatskappy nie”. Dit is wat hier met Job gebeur. 'n Treinongeluk. Job se lewe verongeluk omtrent. En ons dink dit gebeur altyd net met ander mense – maar dit kan ook op jou pad kom. Die boodskap van Job is dat mense in hierdie tyd en wêreld waarin ons leef, nie immuun is vir 'n groot “train smash” nie. En terwyl dit nie met jou gebeur het nie; en terwyl jy vandag op jou voete staan, moet jy jou voorberei op sodanige manier dat jy dit kan hanteer as dit op jou pad kom.
En daarom: u kom nie maar Sondag kerk toe sodat u 'n mooi woordjie hoor en 'n geestelike ervaring het nie. U word hier toegerus vir die treinongeluk wat jy in jou eie lewe gaan sien,of dié van jou familie of jou gemeente, selfs dit wat in jou land gebeur. U moet u daarvoor voorberei vir die dag as daar pêrre is, as daar moeilikheid is. U moet u steen vir steen deur elke preek, elke huisbesoek, elke geleentheid laat opbou. Dis waarom u in klein groepe saamkom om u te laat opbou, sodat u gereed is om die treinongeluk van hierdie gebroke wêreld in u lewe te kan hanteer en te verwerk, en ander te help om dit te doen op sodanige wyse dat ons nie ná die tyd om vergiffenis moet gaan vra omdat ons dit soos die vriende van Job gedoen het nie.
Meeste van u weet, dink ek, waarvan ons praat. Die vraag is nie óf so-iets met jou gaan gebeur óf kan gebeur nie. Die vraag is: hoe sal 'n gelowige so 'n ongeluk hanteer terwyl ons sê ons is meer as oorwinnaars? Hoe sal u dit as 'n wenner op 'n Bybelse manier trotseer - staande bly?
Wanneer iemand trauma ervaar, hoor ons baie keer mense sê: “Die Here toets jou, die Here beproef jou sodat jy sterker kan word”. Maar pasop wat jy van die Here sê. Die Bybel sê dat Paulus 'n doring in die vlees kry. Dit lyk vir my dit was nogal 'n krisis in sy lewe. Want hy bid drie maal dat die Here dit moet wegneem. Hy sê hy bid baie ernstig daaroor, en dan sê die Here vir hom dit gaan nie weggaan nie, want Ek wil hê jy moet nie sterk wees nie, maar swak wees. So, as jy iets reg van God wil sê moet jy soms ook vir mense kan sê: die Here wil jou nie sterk maak nie, die Here wil jou juis swak maak. Verstaan u?
Ons sê baie maklik verkeerde dinge van God soos die vriende van Job. Of ons dink verkeerd oor God. God wil baie keer jou krag weg hê sodat jy swak is en Hy met sy krag in jou lewe kan werk. Ons praat nou van Paulus met sy doring in die vlees. Jy moet die regte dinge van God sê en daarom is dit baie moeilik om oor hierdie onderwerp te preek en vir u die regte dinge te sê. Maar as ons nou dink aan iemand wie se lewe op 'n treinongeluk uitgeloop het, dan is dit sekerlik Job.
Die tragedie van sy lewe, as u vir 'n oomblik weer net dink dat in één dag alles hom ontval en sy vrou selfs haar sinne verloor het. Hy het niks oor nie, en 'n dag, of 'n week later gee sy gesondheid ook in. Mense sal vandag verklaar en sê: “ja, ag nee wat, die arme man het so aan skok gely, dis sielkundig verstaanbaar dat hy so siek is”. Wees versigtig wat u sê. Dit is 'n tragedie wat hier plaasvind, maar die boodskap hierin is in die eerste plek doodgewoon.
Mense vra vandag die vraag: hoekom gebeur slegte goed met goeie mense? Dink weer oor daardie vraag: Why do bad things happen to good people? Daar is selfs sulke boeke op die mark.
Dit is nie 'n vraag nie. Die vraag is: Hoekom gebeur dinge met mense? Dis eintlik 'n dom vraag, want ons is in 'n stukkende wêreld. Dit gebeur. Dit sal ook op ons pad kom. Maar wat ons wel uit hierdie hoofstuk leer, is dat daar soms onverklaarbare dinge met ons gebeur. Beproewings noem ons dit. Net God in die hemel weet hoekom dit met jou gebeur. En dat die enigste wat jy daaruit kry, is dat jy in die geloof – ons noem dit nie 'n toets nie, want ons verstaan dit vandag verkeerd – geoefen word. Petrus sê, soos goud gelouter word. Kyk na Job: as 'n mens na sy CV kyk wat die Here en die mense van hom sê, dan het hy nie eers hierdie toets nodig gehad nie. Dis eintlik net die duiwel wat die toets aangevra het – dus, die Here alleen weet hoekom hy dit met Job laat gebeur. Hoor u? Daar kom dae wat u vir mense moet sê: ek weet nie hoekom nie - die Here alleen weet. Hoekom hierdie motorongeluk? Hoekom 'n situasie soos....
Job was 'n ryk man, maar hy was ook 'n gelowige. Lees hoe ryk was hy. Hoor wat hy gesê het. Hy het gesê: “die Here het gegee en die Here het geneem”. Sy rykdom het van die Here af gekom. As u vandag ryk is en kom ons definieer ryk gou: Paulus sê, jy het genoeg as jy kos en klere het, as jy enigiets meer het, is jy ryk, ryker of skatryk. Job was skatryk. Sy rykdom, die gawes wat die Here hom gegee het, word in oormaat beskryf deur die getal tien: tien kinders, tienduisend stuks vee, tienduisend osse en donkies en baie meer wat hy gehad het. Die belangrikste man in die Ooste. En dan ryk aan geloof, vroom, opreg en Godvresend. En die Here sê self, sy gelyke kry jy nie op die aarde nie – in een dag alles weg – alles weggeneem behalwe sy geloof.
Onthou nou: Job weet nie. Óns lees die storie, maar Job weet nie van wat agter die skerms gebeur nie. In die laaste hoofstuk lyk dit asof die Here dit vir hom verklaar en tog doen Hy dit nie. Job kry ook nooit in sy lewe die antwoord nie. Ons kry die antwoord. Ons hoor die duiwel het met God geredeneer oor Job.
Ons weet vandag dat die duiwel uit die hemel gewerp is. Hy kla ons nie meer by God aan nie. Maar die duiwel het nog steeds baie mag en hy het nog wel die mag om die aarde te toets, of te beproef en te versoek. En ons weet dat hy die stroom water agter die kerk aanstuur (Openbaring 12) om ons in die versoeking te lei om God te vloek, maar Job het dit nie geweet nie. En daarom, ook wanneer jy in 'n situasie is wanneer jy swaar beproef word, moet jy weet, jy gaan baie keer soos Job nie presies weet wat is die groot prentjie nie. Behalwe as jy dit lees deur die bril van die Bybel, deur die geloof, deur die Heilige Gees en aanvaar God weet – dis geloof. God weet en ek vertrou God met my lewe.
Job ervaar verskriklike omstandighede en hy is nie sonder emosie daaraan nie: hy het sy klere geskeur, sy hare afgeskeer, op die grond gaan lê in sy smart. Daar word nie gesê dat 'n Christen of gelowige mens emosioneel gespaar gaan word nie. Want as iemand swaar kry, kry hy swaar. God het juis trane gegee om jou blydskap of jou hartseer mee uit te druk en dit as't ware uit jou uit te was. As jy rou moet jy huil, jy moet smart hê, pyn hê, rou hê, treur. Laat dit sy gang gang. Dis 'n proses wat God in ons gegee het waardeur ons moet gaan. So kry die vriende van Job hom op die ashoop. Hulle het hom nie eers herken nie, so swaar het hy gekry, so siek was hy, so vol van smart in sy hart oor dit wat gebeur het. Kop kaal geskeer, as op sy kop gegooi, in rou en in smart.
U moet mekaar en uself toelaat om ook die smart van die wêreld op u hart te dra en te verwerk, met die genade van die Here. Ons sê nie, as hy nou belydenis doen van sy geloof dat dit hom emosieloos maak nie. Weet, God gee vir jou jou trane, sodat jy as't ware jou smart uit jou siel kan laat uitvloei. Huil saam met iemand dan voel hulle beter, dra saam met iemand, voel saam met iemand. Ons het 'n Hoëpriester, sê die boek Hebreërs, wat met ons medelye het omdat Hy ons ken. Die woordjie daar in die Grieks is die woordjie “sumpathësai”. Ons het 'n Hoëpriester wat met ons simpatie het, wat saam met ons voel. Ons sê ons moet empatie hê met iemand, maar simpatie is nog nader – dis om saam met iemand te voel. Gaan sit by iemand, voel saam met iemand, maar weet ons het 'n Here in die hemel, Jesus Christus wat met ons simpatie het.
Maar dan kom ons, as ons dit gesê het, tog uiteindelik in die smartlike omstandighede by Job uit wat hierdie verklaring maak, en van wie dit gesê word dat hy onder alles niks slegs van sy God gesê het nie. Onder alles het hy met geen woord teen God gesondig nie. Hy het nie sy vinger in God se oog gedruk en gesê: “ek verdien dit nie”, soos wat ons dit baie keer doen nie. Dit het sy vriende gedoen en daarom moes hy vir hulle gaan intree. Sy woorde in vers 20 en 21 is 'n belydenis van geloof: die Here, die Here het gegee, die Here het geneem, prys die Naam van die Here. Die woorde wat ons hiervoor sou gebruik – waarvan party mense nie hou nie - is die woord berusting. Dis 'n baie mooi woord: om te berus in die geloof, die Here se besluit te aanvaar - dis berusting. Ek rus in my God. U moet uself oefen daarin – dit beteken nie dat jy niks gaan doen nie, dat jy maar net rustig moet raak en Gods water oor Gods akker laat loop nie. As jy iets aan jou slegte omstandighede kan doen, medisyne kan drink of 'n plan kan maak, dan doen jy dit. Dis wel belangrik dat jy dit doen deur te aanvaar dat God in hierdie punt steeds in beheer is. Geloof sê: ek vertrou die Here. Al kan ek nie die antwoord presies gee nie, al het ek nie daardie oplossing nie en ek het nie 'n plan nie. Dis wat Job se woorde is: “Ek aanvaar die Here wat gegee het. Hy het die mag om te gee. Hy het ook die mag om te neem”. So kapituleer jy, so gee jy jou WIL oor aan God se WIL. Dis wat ons bid deur die Onse Vader: “laat U wil geskied”. Dan aanvaar jy. En die begronding daarvoor vind jy dan in vers 12, wanneer ons sê dat die Here hier openbaar is, dat God vir Satan sê waar die grense lê wat hy met Job mag doen. Kyk hoe magtig is dit. Die Satan daag vir God uit, maar God sê vir die Satan daar is grense. So wie is in beheer, Satan of God? Sien, die punt is, God is altyd in beheer, ook as die Satan, ons gebruik die woordjie “toegelaat word”. As die Here die Satan toelaat om sekere dinge op hierdie aarde te doen dan bepaal God die grense daarvan.
Die tweede keer wanneer Satan weer uitdaag, sê God: “goed jy kan verder gaan en sy lyf raak, maar jy mag nie aan hom raak nie”. In vers 12 sê Hy: “alles wat hy het is in jou mag, net aan homself mag jy nie raak nie”. God is die één wat alles bepaal, ook die mag van die duiwel. En daarom dink ek, ons het van God en die duiwel ook 'n verkeerde prentjie. Ons sien dit baie keer soos wat die filmpies dit vir ons kinders wys: Tom en Jerry, en ook ander films. Ons sien dit altyd as die goeie en die slegte wat teenoor mekaar staan – dis God en die Satan - hulle staan teenoor mekaar – gelyk. Maar verstaan net baie mooi, wat in hierdie gedeelte vir ons gewys word, is dat God in die hemel is, en die duiwel beweeg op die aarde rond en hy doen verslag soos 'n engel aan God. Hy is hier. Nooit in die hele bestaan van God sal die duiwel God se gelyke konkurrent, gelyke opponent wees nie. Dit moet jou vandag vry maak. As die Here die Satan toelaat om Suid-Afrika om te dolwe met korrupsie en misdaad, maak nie saak wat se verskriklike dinge jy daarin beleef nie, nooit, maar nooit, kapituleer God aan die duiwel nie. Die duiwel is 'n gevalle engel. Hy is 'n skepsel. God is God, Hy het die skepsele gemaak.
Miskien begryp u dit nog nie. Maar u glo dit. Dit is wat Job doen, hy bely sy geloof in die God wat al die mag het, en wat ook die grense van die bose en die verganklikheid bepaal, en wat ons uiteindelik daarvan sal verlos. Nou wat gebeur hier?
God sê as't ware dus vir die Satan “Ek God, gee vir Job in jou hand Satan”. Dieselfde God is ook vir Job. “Jy mag nie aan hom raak nie”. Dit is presies dieselfde wanneer God met Jakob by Pniel worstel en Hy vir Jakob op die heup slaan. God het met Jakob geworstel, en gaan luister na enige goeie preek oor daardie gebeurtenis, dan kan ek vir u sê God het daar teen Jakob geveg, maar hy het ook vir Jakob vasgehou. Hy het saam met Jakob geveg.
Daar is net één mens op hierdie aarde wat God tot sover nog losgelaat het om alleen die stryd teen die bose te stry. Net één mens, en Hy stry daardie stryd vir al sy kinders van Adam af tot aan die einde. Ook vir Job. Daarom, God het om Christus wil vir Job nie losgelaat nie.
Terwyl God vir Job in die hande van die Satan gee, gaan staan God aan Job se kant en hy veg teen die Satan, sodat Job sy geloof behou, deur die genade van die Gees van God - die krag van God. Want geloof is nie iets wat jy besit, wat op jou CV staan nie. Geloof is 'n gawe wat God aan jou gegee het, waaroor jy eendag verantwoording sal doen. Dis jou geloof dat God aan jou kant teen die bose staan, want God is in beheer, nie die duiwel nie. En dis nie jou kwaliteit nie, dis God se kwaliteit in jou wat jou staande hou, anders sal jy dit nie maak nie. Dis die evangelie vanmôre. God het vir Jesus Christus as mens verlaat - “my God, my God waarom het U my verlaat” - sodat Job reeds kon sê: “Ek weet my verlosser leef” en daarom sê hy hier: “Prys die Naam van die Here”. Hy kan doen wat Hy wil, ek is in sy hand. Hoor u wat sê vers 12? Die Here gee hom in die Satan se hand, maar daar is grense, “moenie sy lewe neem nie”. “Raak aan sy lewe, maar moet hom nie doodmaak nie”.
Ons leef in 'n gebroke wêreld, maar in die hande van 'n almagtige God. Al wat Hy vra is dat jy, wanneer die treinongeluk met jou gebeur, jy saam met Job sê: ek verstaan dit nie, ek hou nie hiervan nie, dis vir my verskriklik, ek lê in stof en as, maar ek bely die Naam van die God van Jesus Christus, wat my nooit sal verlaat nie. Ek is nie alleen nie.
Onthou Job het nie geweet wat aangaan nie. Maar Job het geglo en geloof is 'n gawe van die Here. Onthou dis Jesus wat gesê het: die hare van jou kop is getel. En daarom moet u uself vandag toerus, en deur die Heilige Gees laat toerus, vir die ongeluk van môre en oormôre, sodat jy dan staande kan bly tot eer van God. En soos Paulus in Romeine 5 kan sê: “swaarkry kweek hoop”.
So, hoe kan dit gebeur? Hoe kan jy self by die punt kom om te sê: “die Here het gegee en die Here het geneem, prys die Naam van die Here”? Wel ek dink, as jy solank as wat jy rykdom besit, in enige term daarvan, solank as wat jy iets op aarde besit, of dit nou goeters is of geleenthede of geloof of die Heilige Gees, alles, jy dit nooit vanselfsprekend moet aanvaar nie. Dat jy elke dag moet kan sê: wat ek is en wat ek het, is net genade. Dit is punt 1 - dis geloof. Jy moet dit só oefen sodat, as die Here dit wegvat, jy nie daarop aanspraak sal maak: ek moes dit gehad het nie. Ek is vir die Here kwaad. Jy hoef nie vir Hom kwaad te word nie. Jy kan saam met Job sê: “Here U kan gee, U kan neem, ek sal U Naam prys. Ek verstaan dit miskien nie. Maar ek weet alles wat ek het is gawes van Bo. En ek weet dat U om Christus wil, in watter krisis my lewe ook al instuur, U sal my nooit verlaat nie. U die almagtige sal bepaal in hoeverre ek hierdie proses nodig het om voorberei te word vir die ewige lewe”. Dis geloof. En daarom, hoe moet jy dit hanteer as 'n Christen wat in Jesus Christus glo? Jesus wat vir jou deur God verlaat is, sodat God jou nooit sal verlaat nie. Hoe moet jy dit hanteer as hierdie treinongeluk gebeur?
Ek dink ons hoofstuk sê vir ons: behou jou geloof en bely jou geloof. Glo dat God die groot prentjie sien. Ons kyk na 'n film of 'n foto en dink ons verstaan, ons sien partykeer net die foto van ons lewe, van die ongeluk, maar God sien die totale prentjie van die wêreld. Hy het die wêreld in Sy hand. So onthou, God sien die prentjie. Geloof is: wat ek nie weet nie, weet Hy. Hy weet alles. Geloof is: ek glo dat Hy weet al weet ek nie. Dan sal bitterheid jou nie verwurg nie. Jy sal nie kwaad word vir almal en die wêreld om jou nie. Jy sal nie ander mense blameer en selfs die blaam op God plaas nie.
Ons het die vraag in die begin gevra: hoe moet jy dit gelowig, Bybels hanteer, wanneer jou lewe in 'n treinongeluk verander? Behou die geloof soos Job wat sê: God het die reg en die mag om te gee wat Hy wil, en te neem wat Hy wil, ons prys net die Here want dis waarvoor ons op aarde is.
In die tweede plek is hierdie woorde van Job nie net 'n belydenis nie. U moet mooi kyk: “die Here het gegee, die Here het geneem”, is ook 'n gebed. Moenie ophou om te bid nie, moenie só skrik vir dit wat gebeur, dat jy ophou om te bid nie. Moenie so verbitterd raak dat jy jou afsny van die kommunikasie met die Here en sy kerk nie. Want wat die Here eintlik hier in hierdie gedeelte vir ons wys, en Hy wys dit op soveel plekke in die Skrif - dat ons die hele dag hieroor kan besig bly. Die Here sê: “Ek is by julle”, selfs as julle in die storm op die see is. As Jesus by die dissipels kom dan sê Hy: “EK IS, EK IS WAT EK IS”. God is hier. God het die wêreld nie versaak nie.
God het nie 'n krisis met die wêreld nie. U weet, God het nie 'n krisissentrum nie. God het nie 'n plan B of plan C nie. God het net één plan, dis plan A. Al die sonde, gebrokenheid en verganklikheid is in plan A ingesluit. God het nie 'n krisissentrum nie, Hy het 'n beheersentrum. Hy is in beheer, dis wat hier staan. Maar as jy in die geloof aan Hom vashou, dan sal jy bly bid, Hom bly loof: “prys die Naam van die Here. Ek begryp nie, Here, my onkunde laat U grootheid net groter word. My onmag laat my nog meer U prys, want U is groot, U is goed”.
Ek gaan kerk toe en hoor weer die beloftes van die Here en van sy evangelie en behou hierdie vertroue deur elke dag van Hom te lees. Weet jou lewe is 'n gawe van die Here. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Terwyl jy op Hom wag, kan jy sy boodskap gaan lees in hoofstuk 38, wanneer Job uiteindelik soos 'n klein seuntjie met sy pa saam deur die tuin loop – God sy Vader. In hoofstukke 38-41 is dit asof die Here vir Job aan sy hand vat soos 'n seuntjie en saam met hom stap en sê: ”het jy gesien hierdie blomme, het jy gesien hierdie diere, het jy gesien hierdie.. en hierdie ... en hierdie ... wat Ek alles gemaak het”. En die seuntjie dink sy pa is die grootste, wonderlikste pa op die aarde. Dis hoe die hoofstuk moet lees. God stap met sy kind deur die skepping en sê: “Het jy gesien waar ek My sneeu bêre en waar die wilde donkies kos kry en waar die takbokke lam? Het jy gesien dis wat Ek doen”. Sodat jy verwonderd bly: ek het die grootste wonderlikste pa in die wêreld. Dit is hoe jy dit moet aanpak, saam met die Here deur hierdie ongeluk stap en sê: My God, hierdie grote God, wat kan gee en kan neem, ek sal Hom prys in lewe en in sterwe.
Hy sê vir my, ek is nie immuun vir 'n ongeluk nie, vir 'n krisis nie, vir skade nie, vir gevare nie. Ek is nie immuun vir die lewe se ongelukke nie, maar ek hoef nie alleen te staan nie. Ek is nie alleen nie. Die Here is by my en sy gemeente ook.
U is nie alleen nie. Mag die Here u ook daarin toerus en aan u sy vrede gee.
Amen.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css