Die Weg

Om nie op perde te vertrou nie.
Ds Maarten van Helden

(Transkripsie van 'n preek deur ds Maarten van Helden - 'n klankopname hiervan kan ook onder "Uitsendings" op hierdie webwerf gekry word. Dit is die moeite werd om daarna te luister want dit gee inhoud wat nie in die teks weerspieël word nie).

Psalm 20 is gesing as die koning en sy hele leër by die stadspoort gereed gestaan het om uit te trek. Daarmee saam het die priesters hulle geseën, volgens Deuteronomium 20: “Die HERE julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg”. Dan het hulle uitgetrek en die oorlog in die Naam van die HERE gaan wen. Psalm 21 is weer gesing as hulle van die veldslag teruggekeer het.

Met Psalm 20 sing hulle reeds van die oorwinning! Dit is geloof, want jy sing van die oorwinning nog voordat jy uittrek, en wanneer jy terugkom, hys jy die vaandels!

Psalm 20

Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid. Mag die HERE u gebed verhoor op die dag van nood, mag die Naam van die God van Jakob u beskerm.
Mag Hy u te hulp kom uit die heiligdom, u bystaan uit Sion.
Mag Hy al u graanoffers onthou en u brandoffers aanneemlik vind. Sela
Mag Hy u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk.
Ons sal juig oor u oorwinning en in die Naam van ons God die vaandels ontplooi. Mag die HERE alles gee wat u vra.
Dit weet ek: die HERE sal aan sy gesalfde die oorwinning gee! Uit die heilige hemel verhoor die HERE sy gebed; die HERE gee deur sy groot mag aan hom die oorwinning.
Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die HERE ons God.
Húlle sal struikel en val, maar óns sal regop en vas bly staan.
HERE, gee tog aan die koning die oorwinning. Mag die HERE ons gebed verhoor wanneer ons na Hom roep.

Kan u sien dat hierdie eintlik 'n profesie is op Jesus Christus? ‘n Profesie wat sê die HERE sal aan Sy Gesalfde die oorwinning gee. Wie is anders die Gesalfde Koning as Jesus? In die Ou Testament was daar soveel geloof, hulle kon reeds die vaandels ontplooi, want die Messias wat die slang se kop gaan vermorsel is op pad. Die HERE sal aan sy Gesalfde die oorwinning gee.

Hierdie Psalm is eers vir koning Dawid en later vir die ander konings gesing wanneer hulle uittrek. God wou hê dat die konings nie by die huis moes bly soos Dawid, toe Batseba hom verlei het nie. God wou hê die koning moes vóór uittrek in die oorlog. Hy moes op die voorpunt wees.  Hy moes die generaal wees wat die oorloë lei. Daarom is dit ‘n lied vir die koning, uiteindelik vir die Groot Koning Jesus, wat voor ons uitgegaan, die vyande voor ons verslaan en die oorwinning behaal het. Daarom is Psalm 21 ook so mooi, want daar sing ons van die oorwinning wat reeds behaal is.

Laat ons egter  net stilstaan by die tema van vers 8.

Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde” en dan veral hierdie woorde: “maar ons”.  Die volgende vers praat van “hulle”. Wie is die hulle? “.. maar óns, ons vertrou op die Naam van die HERE ons God”. Hulle sal struikel en val, maar ons sal regop en vas bly staan. Sommige vertrou op strydwaens en perde maar ons vertrou op die Naam van die HERE ons God.

U sal sekerlik met my saamstem dat die perd die mooiste en die edelste dier op die aarde is. Ons lees in Job 39 dat God self so oor perde dink. Kyk hoe jubel God as Hy vir Job oor die vingers tik omdat hy so klein van God dink. Dan jubel God oor Sy eie skepping. Job 39:22-28: “Gee jy vir die perd sy krag, sit jy vir hom maanhare aan? Het jy gemaak dat hy kan spring soos ‘n sprinkaan, dat hy almal bang maak met sy trotse gesnork? Hy kap die grond met sy pote en trippel rond, met krag skiet hy vorentoe, die geveg in. Bang wees bestaan vir hom nie, hy skrik nie, hy deins nie terug vir oorlog nie. In die koker aan sy sy ratel die pyle, die spies en die swaard blink in die son. Opgewonde en oorgehaal kap-kap hy die grond, hy kan nie wag vir die blaas van die trompet nie. By die blaas van die trompet runnik hy, hy weet die geveg kom, hy ken die offisiere se bevele en hulle krygskrete”. En tog, terwyl God so jubel oor die oorlogsperd, is dit buitengewoon en opvallend, en heel vreemd dat die Israeliete nooit van perde gebruik gemaak het nie. Die Israeliete het nie in hulle oorloë op perde uitgetrek nie. Ook in hulle alledaagse lewe het hulle nie eintlik van perde gebruik gemaak nie. Van donkies (esels) wel, daarvan lees ons oral in die tyd van Israel en in die land van Israel. Moet egter nie dink dat hulle te dom was en nie van beter geweet het nie. In die Ou Testament is daar 200 verse wat na perde verwys. Hulle was baie goed bekend met hierdie kragtige diere, maar tog weet ons uit die Bybel en uit buite Bybelse bronne dat die Israeliete nie eintlik perde aangehou het nie. Wat wel voorgekom het is donkies en soms muile (kruising tussen 'n donkie en 'n perd) - 'n baie sterk dier.

Dit is net in die tyd van Salomo dat perde gebruik is. In 1 Konings 10 staan daar dat hy vir hom 'n hele mag van strydwaens en ruiters, maw, perde opgebou het. Verder lees ons in 1 Konings 10:26 dat hy die perde hoofsaaklik by Egipte gaan koop het. Dis belangrik. Maar was dit nou goed? Was die krag van Israel nou beter? Ek dink nie so nie, en u gaan dit netnou beter verstaan.

Salomo was baie wys maar hy het te ver gegaan. Dink maar aan sy baie vrouens. Hy het baie vrouens, baie perde en baie silwer aangehou. Dit is juis dié dinge wat die HERE nie in Israel gesoek het nie. Hierdie invoer van perde was ‘n sonde in Israel. Salomo se een sonde was die perde en die ander sonde was die vroue. Ons lees dan dat die latere koning Josia weer al die perde uitgeroei het wat Salomo ingebring het. Daar mog nie perde in Israel wees nie. Hy het die perde uitgeroei en die strydwaens met vuur verbrand (2 Kon 23:11). Dus het die Israeliete in hulle alledaagse lewe hoofsaaklik donkies gebruik. U sien ook dat in die gebooie van die HERE nie na perde verwys word nie,  maar “.. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie” - nooit perde nie.

Ook die koning mog nie op 'n perd ry nie. Ons lees dat koning Dawid en sy prinse (sy seuns) op muile gery het (2 Sam 13, 1 Kon 1). 'n Muil kon bietjie vinniger hardloop as 'n donkie. Hierdie feite is doodgewoon só omdat God in sy wetboek perde in Israel totaal verbied het,  en hier moet u die knoop verstaan. God wou hê hulle moes tevrede wees met donkies. “Hy mag nie baie perde aanhou nie en hy mag ook nie die volk na Egipte toe laat teruggaan om vir hulle baie perde aan te skaf nie. Die HERE het vir julle gesê: ‘Julle mag nooit weer daarheen teruggaan nie. Die koning mag ook nie baie vrouens hê nie, sodat hy nie aan die HERE ontrou word nie. Hy mag ook nie sy silwer en goud te veel laat word nie” (Deut 17:16-17). Die vrouens en die perde kom hier bymekaar. Nie baie perde nie en nie baie vrouens nie. Dit is wat Salomo gedoen het en Josia het dit gestop. Jesaja, ‘n profeet in die tyd van die konings, sê: “Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie" (Jes 31:1 OAV) .  Hier lê die spanningslyn.

Die eerste rede waarom die HERE perde verbied het en die Israeliete tevrede moes wees met hulle donkies, was dat die groot perdetelers in die Midde-Ooste uit Egipte gekom het. Die HERE het egter vir die volk Israel gesê dat Hy hulle uit Egipte uitgelei het en hulle nooit weer daarheen mog teruggaan nie. Hy sê: “Ek sal vir julle sorg. Ek gaan julle na die beloofde land toe neem en Egipte moet in die beloofde land heeltemal uit julle gedagtes wees. Ek sal vir julle sorg”. Die HERE het geweet dat as hulle perde gehad het, hulle sou begin handeldryf met die Egiptenaars en dus op daardie pad sou teruggaan. Nee, die HERE sê: “Ek het julle uit Egipte bevry. Ek het julle dwarsdeur die Rooi See laat gaan en die Rooi See agter julle toegemaak”. En nou kan u gerus kyk na Eksodus 14. Daar lees ons die volgende: "Maar die HERE het vir Moses gesê: ‘Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom’" (vers 26). "Toe die water terugstroom, was die strydwaens en bemanning, die hele leërmag van die farao wat agter die Israeliete aan die see in is, tóé onder die water. Daar het nie een van hulle oorgebly nie" (vers 28). In hoofstuk 15 lees ons: "Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die HERE gesing: ‘Ek wil tot eer van die HERE sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger. Die HERE is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom’” (vers 1). "Die strydwaens van die farao en ook sy leër het Hy in die see geslinger" (vers 4).  Hoor hoe jubel Moses se lied: (vers 10) “..... hulle sink soos lood in die magtige waters ... Wie is soos U, so hoog geëer en heilig”. Dan in vers 19:  "Waarlik, toe die perde van die farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die HERE die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan". Miriam sing met die koordanse in vers 21: "Sing tot eer van die HERE omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger”. Sien u wat die HERE nou sê: “Ek wil nie hê dat julle perde moet hê nie. Ek gee vir julle donkies”. Julle het Egipte permanent agtergelaat.

Jy kan nie as jy oorgegaan het van die koninkryk van die wêreld na die Koninkryk van God, maar weer wil teruggaan nie. Dít wat daar is moet jy heeltemal vergeet, al was dit vir jou lekker, vinnig en oulik. Vergelyk nou maar die perd met 'n resieskar, ‘n oorlogstenk, of 'n vinnige vegvliegtuig. Dit is mos baie beter om die oorlog in te gaan met daardie soort wapentuig as met donkies. Maar so sê die HERE:  “moenie teruggaan na die ou paaie nie”.

Dan moet u daaraan dink dat ons self ook deur die Rooi See gegaan het. Ons sê by die doop:  “die doop is ‘n afbeelding van die deurtog deur die Rooi See”. Ons gaan deur die water. En as jy deur die water gegaan het, is jy ingelyf in 'n ander Koninkryk. En in hierdie ander Koninkryk is dit nou "ons". In die ou koninkryk is dit “hulle”. Dis “ons” en “hulle”. Ons, maar ons, ons vertrou op die Naam van die HERE. Hulle wat struikel en val, hulle vertrou op strydwaens en perde. Ons het deur die Rooi See gegaan. Die perde is weg. En daarom het ons as gedooptes ook ‘n nuwe identiteit. Ons is ingelyf in die Koninkryk en ons behoort niks meer te doen te hê met die dinge en die standaarde van die wêreld nie. Jy moet ‘n totale kopskuif maak. Jy moet 'n omkeer beleef. Bekering beteken om heeltemal anders te dink. Óf dit nou is oor jou tienerlewe, of jou ouers na wie jy opkyk, jou onderwysers of jou skoolwerk (vir die kinders). Óf dit nou is jou huis, jou huwelik, jou werk, jou kerk of jou predikant. Jy moet heeltemal anders dink. Dis “ons” en “hulle”. Jy het deur die water gegaan. Ons wil nie meer met Egipte te doen hê nie. As jy jou bekeer het, is dit 'n totale breuk met die sondige verlede en daar is nie verskonings daarby nie.

 Dit is die eerste rede hoekom God dit verbied.

Die tweede rede hoekom God perde in Israel verbied kom voor in Deuteronomium 20:1 "Wanneer jy teen jou vyande gaan oorlog maak en jy merk hulle het perde en strydwaens en hulle is meer as jy, moet jy nie vir die vyande bang wees nie. Die HERE jou God wat jou uit Egipte laat trek het, is by jou". Dit verander alles. Die vrees vir die vyand en sy pragtige perde, dáárdie vrees word oorwin deur die vertroue op die HERE, maak nie saak hoe groot die aanslag en die bedreiging is nie. Ek gaan dit weer sê: maak nie saak hoe groot die bedreiging is nie. Wat hou die toekoms vir Suid-Afrika in? Watse vreeslike dinge word vir u voorgesê? Dit is die duiwel wat met vrees werk. Ons werk met vertroue. “Hulle” en “ons”. Die HERE wat hulle van die perde bevry het, toe hulle in die see versuip het en met hulle strydwaens soos lood gesink het. Die HERE wat die redder van Sy kinders is, is by ons. Wat moet ek nog vir u sê? U het iets om vandag baie goed oor te gaan nadink.

 As Israel perde gehad het, dit in hulle oorloë gebruik het en hulle vertroue op perde gestel het, dan kon hulle gesê het: maar ons perde was tog vinniger as hulle perde. Dis mos wat ons doen. Ons loop en vergelyk ons met hierdie bure.. hulle.. ons en hulle. Dan vertrou ons nie meer op die HERE nie maar op ons vermoëns, ons perde! Sien u, geen perde nie, en veral geen perde nie. Jy kan nie met 'n donkie gaan oorlogmaak nie, so jy moet te voet gaan. Nou kan u dink, wat is nou die moontlike uitkoms van 'n oorlog teen duisend of honderdduisend voetsoldate en duisende strydwaens en perde. Wat kan die moontlike uitkoms wees? Tog het Israel geen perde in hulle weermag gehad nie. En nou kan u daardie oefening self gaan doen. Dan moet u gaan kyk hoeveel keer Israel die wenners was in die oorlog. Feitlik elke keer. Hoor u wat ek vir u sê? Die HERE sê: “want Ek is met julle! Julle is nie alleen nie”. Dan moet dit wees soos die storie van die mier wat op die olifant se rug gery het. Daardie storie, dink 'n bietjie daaraan, die mier is op die olifant se rug. Toe hulle oor die brug loop, sê die mier vir die olifant: "Kyk hoe laat ons hierdie brug bewe”. Ons twee, die mier en die olifant. Ons is die mier, God is die olifant. As die HERE sê: “ek is by julle”, dan praat ons van die magtige God van hemel en aarde, die God wat jou uit Egipte bevry het, die God van Golgota. Waar die Gesalfde die oorwinning behaal het oor die bose, die sonde en die dood. Het u 'n benul van hoe groot hierdie olifant is?

Daarom is daar geen perde nie, sodat jy nie in versoeking kom om nie op die HERE te vertrou nie. En so help die HERE ons eintlik teen onsself. Jy sê ek het nie baie geld nie, ek is maar so arm soos 'n donkie. Maar onthou die HERE gee vir jou net genoeg wat jy nodig het. Die Bybel sê as jy teveel het kan jy Hom vergeet, Hom verloon. Hy gee net vir jou genoeg. Soms gee Hy vir jou net genoeg vir elke dag. Leef jy van die hand na die mond het jy nog genoeg, baie keer nog meer as miljoene mense in hierdie wêreld. Maar as jy te veel het, dan sal jy God nie meer nodig hê nie. Kan jy op jou eie perde vertrou? Pas op vir jou bankrekening waar die geld ophoop, vir jou polisse en vir rykdom, want 'n ryk man/vrou sal beswaarlik in die Koninkryk ingaan (Luk 18:25). Jy moet diep gaan dink waarvoor God dan vir jou geld gegee het, en gebruik dit daarvoor. Israel moes altyd weet dat hulle met hulle donkies en voetsoldate baie swakker was. Elke oorwinning sou dus 'n wonder van God wees. So elke dag wat jy eintlik leef, wat jy dit nie in eie krag gedoen het nie, word jy beïndruk deur die wonder van God se standhoudende genade, op genade, op genade.

Dis wat God wil hê: 'n verhouding. 'n Verbondsverhouding waarin Hy verheerlik word. 'n Verhouding waarin ons verstaan dat God anders dink as ons natuurlike mense. Hy wil hê ons moet soos Hy begin dink. Ons moet ander standaarde hê. Die hele Koninkryk van God is anders.

 Kom ek gee u weer 'n voorbeeld. As jy in die Koninkryk ingaan, sê die Koninkryk dat die wat laaste is, eerste sal wees. Dis mos heeltemal anders!  As jy nommer een wil wees, moet jy 'n dienaar word. Dis mos heeltemal anders. As jy belangrik wil wees, dan moet jy diens lewer - dít is die Koninkryk. Prediker sien dit, en hy sê in Prediker 9:11 dat dit anders werk. Hy sê "ek sien dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie". Die HERE stel sy beginsel vir uitredding in Hosea 1:7: ".. sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie ", maar op ander maniere.

Kan u hoor, die redding van God is anders. Israel (en daarmee ons) moet besef dat ons anders is: ons dink anders, ons doen anders, ons droom anders. So gou as wat ons kan besef ons moet vir mekaar sê: “sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar ons vertrou op die Naam van die HERE” - as ons dit vir mekaar kan begin sê en dit bely - dan verstaan ons waaroor dit gaan. Ons meet anders, ons wen anders, ons is tevrede met ander goed as die wêreld. En as Hy net vir jou donkies gee, sit jy nie net die hele tyd en wens jy het perde nie. Dit kan jou werk wees, dit kan jou huwelik wees, of dit kan jou land wees.

Kom ons dink gou oor ons land. Dit sal die maklikste wees. Israel is net so 'n land soos ons. Daar is altyd een of ander politieke gemors. Altyd is daar een of ander oorlog. As jy dink daar is vrede, dan is daar weer vyandskap, is daar weer misdaad, is daar weer probleme. Nou, as ons soos Israel 'n land is wat altyd onstuimig is, waar ons nooit seker is wat die toekoms inhou nie, dan is dit God se manier om jou en my op ons knieë te hou. Welkom in Suid-Afrika. Dan het ons 'n roeping in hierdie land met ons donkies. Dit is wat die HERE vir ons gesê het. Gaan soek dit nie op 'n ander plek nie. Dit kan jy toepas op jou huis, op jou huwelik, op jou ouers. Partykeer dink jy jou ouers is soos 'n klomp donkies, hulle weet niks nie. Maar dis die HERE wat hulle vir jou gegee het, sodat jy 'n wen lewe kan hê. Want die HERE self is by jou. Watter HERE? Die HERE wat op 'n donkie in Jerusalem ingery het. U sien sy standaarde is anders. Jy sou mos nou op 'n perd daar aangejaag het met vaandels! Nee Hy ry op ‘n donkie, nederig op 'n donkie. Ons Koning op 'n donkie, want Hy is een van ons en Hy werk met die maatstawwe van die Koninkryk.

Daarom kan ons Psalm 20 vir mekaar sing. Julle is Koningskinders, julle moet hier uitgaan en gaan wen in die Naam van die HERE. Mag die HERE u gebed verhoor. Dit is wat ons vir mekaar wil sing. Nie maar net 'n honde lewe, 'n donkie lewe nie. Nee, 'n wen lewe met die donkies wat die HERE vir jou gegee het. Dan is die donkie 'n wonderlike ding. Jy wat 'n wenner is wat nie meer kyk na die oomblik hier voor jou nie. Jy kyk vorentoe en wat sien jy? Jy sien Jesus wat die stad ingery het met 'n donkie. En hy kom weer, en dan ry Hy op die wolke van heerlikheid, en soos beskrywe in hoofstuk 19 van Openbaring, op 'n wit perd. Maar hoekom is daardie perd so wit? Weet u hoekom? Omdat die Ruiter die Oorwinnaar is. Hy is die Koning en Hy gee eer aan die perd. Hy kom op die wolke, die Seun van die Mens, die Oorwinnaar, en Hy sê: “wie in my glo is ook 'n wenner. Meer as oorwinnaars omdat Ek jou liefhet”. Gaan hier uit soos wenners. Gaan met die Gees van God. Hoor hoe sê Sagaria dit in die Ou Testament al: Sag 4:6: "Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die HERE die Almagtige". Deur My Gees, so sal jy wen. Biddend op jou knieë met die Woord van die HERE in jou hart. Vol van die Heilige Gees is jy 'n wenner. Jy kan anders wees, jy kan 'n ander tiener wees, jy kan 'n ander ouer wees, jy kan 'n ander werkgewer of werknemer wees. Jy kan 'n ander lidmaat wees van die Kerk van die HERE.

Wenners! Op donkies!


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css