Die Weg

Is God goed?
Hentie Krüger
www.midweek.co.za

“Wat my aangaan‚ dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.” — Psalm 73:28 —

Asaf kon nie verstaan waarom dit goed gaan met die goddeloses en sleg met die regverdiges nie. Maar nadat hy besef het dat geregtigheid wél sal seëvier‚ het hy God se wysheid erken. Hierdie tema sê vir ons dat dit een van die wysheidspsalms is. Daar is twee opvallende temas in Psalm 73: (1) die goddeloses is voorspoedig en dit laat gelowiges wonder waarom hulle nog die moeite doen om reg te leef‚ en (2) die goddeloses se besittings is só aanloklik‚ dat die gelowiges in die versoeking is om te wens dat hulle plekke kon ruil. Die twee temas eindig egter albei op ’n verrassende noot: die goddeloses se rykdom gaan nie by die punt wat die teenswoordige van die ewige lewe skei‚ verby nie‚ maar die gelowiges se beloning is tot in ewigheid. Dít wat vroeër na rykdom gelyk het‚ is dus nou ’n vermorsing en dít wat nutteloos gelyk het‚ hou vir ewig.

Annes Nel in sy boek (Om Christus beter te ken‚ uitgegee deur Bybel-Media‚ 2008) belig hierdie probleem nog verder wanneer hy sê dat ons van kleins af geleer is om Bybeltekste te onthou. Ons hou van ’n teks soos Spreuke 3:6: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” Dit klink reg. So moet die lewe wees! Psalm 1 klink na die regte lewensfilosofie: “Waarlik‚ die Here lei die regverdiges op hulle pad‚ maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang” (Ps. 1:6). Dit praat van ’n eenvou-dige lewe. As jy naby God se Woord bly‚ is jou pad voorspoedig en dra dit vrugte. As jy jou rug op God se woorde draai‚ sal jou lewe nikswerd word.

Maar dit werk nie altyd so nie.

Hoekom word mense wat altyd goed was vir hulle werkers‚ vermoor‚ terwyl mense wat ongenaakbare werkgewers was‚ in veiligheid woon? Hoekom sterf my kind‚ terwyl iemand wat nooit deur die kerkdeur loop nie‚ ’n heel gesin het? Ons verstaan nie hoekom die ouens wat nooit hulle voet in die kerk sit se plase soveel reën kry nie‚ maar op my plaas sukkel ek om te oorleef. My geliefde man kry kanker‚ maar die vrou wat nie omgee vir haar man nie en selfs meer as een aanhou‚ het geen probleme nie. Hoekom kan ons wat regtig met liefde kan omsien na kinders‚ nie kinders hê nie‚ terwyl mense wat kinders mishandel en vernietig‚ een na die ander kind het?

Daniel Simundson skryf in sy boek Waar is God wanneer ek Hom die nodigste het?: "In sekere sin reageer ons as Christene dikwels met meer negatiwiteit as ander‚ want diep binne ons glo ons dat God se getrouheid ons van die ongenaakbaarheid van die lewe sal bewaar. Ons glo diep in ons hart dat ons geloof ’n versekeringspolis is teen die hartseer van die lewe".

Dis hoekom dit so moeilik is vir ons wanneer dinge verkeerd loop. Ten spyte van Asaf se mooi belydenis (vgl. Ps. 73:1) het hy tot sy ontsteltenis agtergekom dat hy aan dié waarheid begin twyfel het en byna koers verloor het. Hy het byna die waarheid weggegooi en sy rug op die Here gedraai. Koers verloor. Want hy was eerlik genoeg deur die Heilige Gees met homself om te erken dat hy tot sy groot ontsteltenis op die goddeloses en hulle voorspoed jaloers is!

Maar dan bedink Asaf homself. Hy kom tot inkeer as hy na sy eie gedagtes en onderlangse gebrom luister en hy besef dié soort taal sal die gelowiges verloën. Met ander woorde Asaf besef: ek gaan my medegelowiges met dié tipe ingesteldheid en taal ook negatief beïnvloed dat hulle ook koers verloor en dan is ek ontrou aan hulle. So laat ek hulle in die steek wat opsien na my vir prinsipiële koers en leiding. Asaf besef dus dit is nie so eenvoudig nie soos dit op die oog af lyk nie. Hy wil dieper oor die saak gaan nadink. En die antwoord op hierdie lewensraaisel het hom bly ontwyk totdat hy in die tempel ingegaan het en die antwoord by God self gekry het.

En hy draai nie doekies om oor hoe moeilik dit was om sin van die lewe te maak nie. Hy sê in vers 16 – dit was vir hom bitter moeilik. Daarvan moet ons kennis neem. Insig in dié geheim kom nie gemikrogolf in drie minute geurig na ons toe op ’n skinkbord opgedien nie. Bitter moeilik sê die digter. Want dit raak sy vel en sy beursie en sy huis en sy kar en sy bankbalans en sy veiligheid en sy kinders en sy aftrede en sy … LEWE!

Maar watter insig kry die digter wat hom nugter laat word oor die goddelose se skynbare en werklike ongebreidelde voorspoed in hierdie wêreld? Hy sê God het hom attent gemaak op hulle EINDE. Waar eindig hierdie godlose manne en vroue? En dan word dit vir hom duidelik. Daar is eintlik niks om op jaloers te wees nie want die goddeloses se manier van doen dra klaar die kiem van hulle eie ondergang in hulle rond. Die digter sê reguit: hulle loop op dun ys en gladde plekke en in ’n oogwink stort hulle in die afgrond in.

En waar beland hulle? Ver van God. Hulle hele indrukwekkende vertoning in hierdie lewe kom soos ’n droom tot ’n abrupte einde as God sy hand toemaak en hulle biologiese lewe wegvat en hulle uitvind dat die tweede dood in plaas van die ewige lewe op hulle wag.

En nou kry Asaf ook perspektief op sy eie optrede. Ek was dom Here‚ bely hy. Soos ’n redelose dier. Ten spyte van die skyn van die teendeel dat God soms weg is weet die digter met ’n heilige sekerheid – v. 23: “Tog was ek nog altyd by U‚ want U vat my aan die hand.” Selfs as sy einde kom sal God hom in eer by Hom neem.

En dan kom Asaf by die kern van die antwoord op die raaisel van die lewe en sy regverdigheid. God self is die antwoord! Vers 25: Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir hom meer werd is as God nie. God self is die antwoord op die raaisel dat goddeloosheid skynbaar lonend is en dat regverdigheid ellende bring.

Hoe kan ons die lyding en swaarkry verbind met die liefde van Christus? Hoe kan ons die aanvaarding en oorwinning op die bergkruin bereik? Om dit te kan doen‚ moet ’n mens die bergpad van geloof loop. Benoon Duvenage in “Worstelinge oor die waaroms in die lewe” (2005) verduidelik dit soos volg: By basiskamp 1 moet jy jou eie onmag besef. Alleen deur die Heilige Gees wat ons aan Christus bind‚ kan ons die smal pad vind wat na die lewe lei. Dan moet jy eers deur die poort van versoening deur Christus gaan (Matt. 7:14). By basiskamp 2 op jou bergklimtog besef jy dat jy ’n kind van God is. Op die smal bergpad van die geloof‚ te midde van struikelblokke en beproewings‚ is dit ’n geweldige houvas. Jy het ’n Vader wat jou hand teen die steiltes vashou. Basiskamp 3 moet jou leer om nie ’n korttermynmens te wees nie. Leef altyd in die verwagting en hoop op die heerlikheid wat God vir ons as erfgename beskik het. Elke swaarkry is soos ’n venster wat God oopmaak‚ waardeur ons kan uitsien om die heerlikheid en die geure van die môre van die ewigheid te kan belewe. Basiskamp 4 leer jou dat jy met geslote oë die berg kan uitklim as jy onder die oop venster van die gebed leef. Ons begryp nie altyd die plan van God in ons lewe nie‚ maar dit beteken dat ons nooit teen die klaagmuur ons smart hoef uit te kerm nie. By die muur van ons lyding maak Hy ons stil. By basiskamp 5 moet jy terugkyk na wie jy is wat so begenadig is. Jy deel nou al in die heerlikheid wat Christus verwerf het. Basiskamp 6: Nou kom jy bo-op die bergkruin en sien die magtige panorama. Paulus leer ons in Romeine 8:31-39 sing: God is vír ons en dit het Hy bewys deur sy eie Seun te gee! Hy beskryf die oorwinning van Christus oor al die magte van smart en sonde in die beeld van die Romeinse generaal wat van die slagveld af terugkom. Christus is die oorwinnaar en deur Hom is ons ook hiper-oorwinnaars (meer as oorwinnaars). Dit is nie maar later‚ eenmaal‚ nie‚ maar nou IN al hierdie lyding en smart IS ons hiper-oorwinnaars‚ oorwinnaars in die hoogste graad.

Wat aanvanklik na ’n probleem gelyk het‚ naamlik hoe jy hierdie dinge kan rym met die liefde van God‚ is vir hierdie oorwinnaars geen probleem nie. Byna uitdagend sing hulle in die oortreffende trap: niks kan ons van Gods liefde skei wat ewig-vas in Christus bly (Skrifberyming 5-4:6).

Nou wéét Asaf‚ hy behoort aan die Here! Nie in wat aan hom behoort nie‚ maar aan Wie hy behoort‚ daarin lê die troos. Nêrens blyk dit so duidelik dat God ons aan sy bors wil druk en wil sê: Jy is myne!‚ as juis in sy Seun nie. Nêrens anders as in Jesus Christus sien ons dat die heelal nie koud en leeg is nie‚ maar dat dit gevul is met ’n hart‚ ’n warm hart‚ ’n Vaderhart. Vind ons nie eers rus as ons dit vind in God nie? (Augustinus). Die Vader wat my aan sy bors druk as sy eiendom‚ wat my soos ’n kind sus aan sy Vaderbors. Asaf getuig in hierdie Psalm dat in vreugde of smart‚ in voor- of teenspoed‚ dit waar is dat ons hoogste vrede en vreugde is om naby God te wees‚ om soos ’n Henog altyd met God te wandel. Mag jy dit ook beleef.


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css