Die Weg

Die plan van God met ons lewe
Ds J Overduin

(Uit: J Overduin: Die Evangelie Vandag - effens verkort)

En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;
Rom. 8 : 28 en 29.

Wat is die belangrikste wat ons ooit kan weet? Dit moet wel 'n troosvolle wete wees, omdat ons lewe rou is en in 'n onuitspreeklike nood, sowel in lewensnood as in doodsnood. Dit moet 'n wete wees wat standhou, ook as ons nie meer weet nie, en as alle ander wetenskappe ons nie meer kan interesseer nie, omdat ons nodig het om één ding te weet om staande te bly in die kolkende en loeiende afgronde van die lewens- en sterwensnood.

Ja, ons weet - hoe geleerder 'n mens is, des te meer weet hy. Hierdie meerdere wete gee vreugde en droefheid tegelyk. Geleerdes weet presies hoe dit kom dat 'n blaar aan 'n boom 'n groen kleur het, en watter funksie daardie groen vertolk in die stofwisselings- en groei-proses. Hulle weet ook hoeveel ligjare dit neem voordat sekere sterre se lig op die aarde val. Hulle weet watter korrespondensie een of ander Babiloniese koning met sy onderworpe state gevoer het. Almal interessante wetenskappe. Maar almal wetenskappe wat geen antwoord gee op die nood van my lewens- en sterwensvrae, van my lydens- en kruisweg nie. Met al die interessante wetenskappe is ons niks beter daaraan toe nie, en ons het daar niks aan wanneer dit geen plek kry in daardie een groot wete nie.

“Vader, ek dank U dat U hierdie wete vir die wyses en verstandiges verberg het en dit aan die kindertjies geopenbaar het”. Ook rasend geleerde mense kom tot hierdie allerbelangrikste wete, nie in die weg van die geleerdes en verstandiges nie, maar in die weg van die kindertjies. Want die wysheid van die wêreld het God beskaamd gemaak deur die dwaasheid van die prediking.

Dit gaan hier oor belangrikste wete in ons lewe, in die lewe van die kinders van God.

Hierdie wete is nie maar net interessant nie en nie 'n weeldeartikel nie, nie 'n fraiing nie, 'n wete waarby jy niks meer of minder is as jy dit nie weet nie. Nee, hierdie wete eis 'n wete waarvan lewe en dood afhang; 'n wete wat handel oor die laaste vrae van my lewe en lot, van my daad en kruis, van my dood en graf. Ons is daar self by betrokke. Dit gaan ten diepste om die vraag na die sin, die doel en die waarde van ons bestaan; die plan van God met ons lewe; die doel van God met ons bestaan; die blywende sin in ons lewe.

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders”.

Ons spreek oor die plan van God met ons lewe en let ten eerste op die inhoud van hierdie plan en ten tweede op die troos van hierdie plan.

Ons weet. Ons weet seker — die allesbeheersende — dat God 'n plan met my lewe het. En hierdie plan maak God nie in afwagting van wat ek doen of wil nie, of afhanklik van die tye en omstandighede nie, sodat God Hom skik na die omstandighede en die mense en sodat God agter die feite van die geskiedenis aanloop nie. Nee, hierdie plan het God al gemaak van die ewigheid af. En alle mense, feite en omstandighede het Hy as materiaal gebruik vir hierdie plan.

Wat is nou die inhoud van hierdie plan? Wat is nou die eintlike sin en die waarde van ons lewe? Wat is nou die eintlike doel wat God met ons het? Want in die raadsplan van God van ewigheid af, wat Hy oor ons lewe verordineer het en waarna Hy ons in die tyd roep, lê opgesluit die doel, die sin en die waarde van ons bestaan. Daar toon God ons aan waar dit nou eintlik om gaan — wat in sy oë die belangrikste, die ewige, die waardevolle is.

Die Heilige Skrif sê nêrens dat dit die kern en die eintlike van die plan van God met ons is, of ons skoenmaker of professor, arbeider of fabrikant, dominee of minister, getroud of ongetroud, ryk of arm, gesond of swak, blank of swart is nie.

Dit is die enigste en belangrike waar God belangstelling voor het: of ons die beeld van Christus gelykvormig word. Want dié wat Hy tevore van ewigheid af geken het, het Hy ook van ewigheid af bestem en daartoe geroep deur die prediking van die evangelie om die beeld van sy Seun gelykvormig te word.

Dus: die belangrikste van my lewe lê nie hierin dat ek kruidenier of professor, arbeider of werkgewer, ryk of arm, gesond of siek is nie maar of ek die beeld van sy Seun vertoon.

Trouens, die wêreld word nooit gered of geseën deur kruideniers, professore, dominees, arbeiders nie maar alleen deur daardie mense waar die beeld van Christus vertoon word.

Om dit heel konkreet te sê — en u moet dit vir uself nasê: daartoe het God my gebore laat word en laat lewe, en daartoe het ek predikant geword, nie sodat ek sou slaag vir hierdie lewe sonder meer nie; nie sodat die mense my sou toejuig nie; nie...... en vul maar in wat u wil, maar alleen. sodat ek op hierdie plek en in hierdie lewensvorm en in hierdie lewensgedaante en in hierdie lewenskema, wat tog eenmaal verbygaan, die nie-verbygaande, die ewige, sou openbaar, naamlik die beeld van sy Seun.

Hierdie is nou die allerbelangrikste wete. Dit raak nou die diepste sin van ons bestaan. Dit is die laaste antwoord op die laaste vraag: Waarom bestaan ek eintlik? Wat het God bedoel met my nietige verskyning op die wêreldtoneel vir enkele jare? God het nie bedoel dat u of ek naam sou maak nie, dat u of ek ryk sou word of gelukkig getroud sou wees so sonder meer nie, maar alleen dat die beeld van sy Seun in ons sigbaar sou word onder alle omstandighede.

Dit wil nou sê, as ons die konsekwensies van die geloof hieruit trek:

U en ek moet maar in een ding geïnteresseerd wees, op een ding bedag, op een ding toegespits, na een ding gerig wees, want een ding is nodig en een ding het ek begeer in die bonte verwarrende veelheid van die lewe, naamlik dat ek sy beeld mag dra.

Daarom is daar maar een vraag belangrik in alle kwessies, en is daar maar een kriterium, een norm, een doel, wanneer ek voor moeilike beslissinge staan of wanneer ek baie moet ly of wanneer ek voorspoed het of wanneer ek onreg aangedoen word of wanneer ek 'n rusie moet besleg, wanneer ek sake doen en wanneer ek my arbeid doen, wanneer ek kinders opvoed en wanneer ek vakansie hou — een ding belangrik, een vraag belangrik: Word ek so, as ek dit of dat doen, sê, nalaat of weier, die beeld van Christus gelykvormig?

Ander faktore as die hooffaktor kom nie in aanmerking nie. Ander norme het geen selfstandige bestaansreg nie. Ander belange het geen waarde voor God nie. Ander doelstellinge kom nie daarby te pas nie. Ander besorgdhede het geen plek nie, want God het een plan met 'n kind van God: om aan die beeld van sy Seun gelykvormig te word. Dit is vir Paulus die allerbelangrikste wete. Hy het dit met sy hart geweet — nie alleen met sy verstand, wat toestem, maar hom dan verder nie in die lewe daarvolgens gedra nie. As hy onregverdig gevange sit of as hy die liefde van die gemeente ervaar, as hy 'n deurstriemde rug het van die geseling, as hy honger, dors en gevaar ly of wanneer hy oorvloed het, as hy die doodvonnis voor oë het of wanneer hy mag geniet van die liefde van die mense, dan het hy alleen oog vir die groot plan van God: dat hy in al hierdie omstandighede die beeld van Christus gelykvormig mag word, en die res interesseer hom maar min. Want hy laat dit aan God se soewereiniteit oor om dit nou uit te werk met allerhande materiaal in allerlei lewensvorme. Die skema waarin dit gebeur, is 'n bykomstigheid. Dit kan oorvloed en gebrek wees, eer en smaad, vryheid en gevangenis, lewe en dood. Daar gaan niks wesentliks en sinvols verlore wanneer die skema van hierdie lewe van aangenaam in onaangenaam verander nie.

Ons mense is presies soos kleine kindertjies wat nie 'n gevoel vir werklike waardes het nie. Wanneer jy 'n kind laat kies tussen 'n mooi stukkie geslypte glas, in 'n pragtige mooi papier verpak en 'n mooi toutjie daarom, en 'n diamant, maar verpak in 'n vuil stukkie koerantpapier, somaar op die straat opgetel, dan sal die kind die mooi verpakte stukkie glas neem en die egte diamant in 'n koerantpapierverpakking weggooi. So is ons ook telkens. Ons staar ons blind op die verpakking van die lewe waarin die dinge tot ons kom. God sê: dit is nie belangrik of die verpakking aangenaam of onaangenaam is, in voorspoed of teenspoed nie, maar die inhoud, die diamant: om die beeld van Christus gelykvormig te word, is belangrik.

Paulus was so diep onder die indruk hiervan dat hy in Filippense 2 kan sê: ...... as Christus maar groot gemaak kan word in my bestaan, hetsy deur my lewe, hetsy deur my dood. Dit is nou die inhoud van die plan van God met sy volk, sy kerk en die waaragtige gelowiges. Dit is die kern. Die omhulsel kan mooi en lelik wees; die pêrel van groot waarde kan pragtig en ook smerig verpak wees, maar dit gaan om die inhoud: ek leef, maar nie ek nie, Christus leef in my.

Dit is nou die Christelike lewe! Ken u dit? Is dit u lewenstyl, u lewensgrond, u lewensdoel? Dit gaan heelwat dieper as die sedes en gewoontes in ons kringe waaraan ons moet voldoen. Leef u uit die ewig uitverkiesende raad van God, of het u self 'n plan met u lewe gemaak? Het u u self maar uitverkies en geroep tot...... ja, waartoe eintlik? Wat is die inhoud van u raadsplan? Steeds meer geniet van die lewe? Wat is u ideale? Is dit nommer een: om goed geld te verdien? Beweeg dit u doen en late, o sakeman, om daaruit te haal wat daaruit te haal is? Dit is heel wat anders as die ideaal: om die beeld van Christus gelykvormig te word.

Wat is die inhoud van ons lewensplan? Om vir jou 'n naam te maak, veel invloed te hê, deur dik en dun jou eie wense en begeertes deur te sit, altyd gelyk te wil hê? Dit is heelwat anders as om die beeld van Christus gelykvormig te word.

O, watter soort kerkgangers is dit, wat Sondag sing; “O Seun, maak ons u beeld gelyk”, as die eintlike sin van hulle bestaan en waarde, hulle hele lewenstyl en openbaring daarmee in stryd is.

As dit by ons so is, dan staan ons buite die koninkryk van God, want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie maar in krag. Dan is ons nie uitverkore en geroep tot hierdie ewige lewe nie. Ons wêreldgelykvormigheid bestaan hierin dat daar 'n noodlottige verskuiwing van waardes plaasgevind het — die verskuiwing as 'n afval vanaf die lewende God, die verskuiwing van die beeld van Christus na ons eie beeld, van die pêrel van groot waarde na die uitwendige verpakking.

Ons wêreldgelykvormigheid bestaan hierin dat ons liewer 'n aangename verpakking het sonder die skat van die beeld van sy Seun, as 'n onaangename verpakking met hierdie skat van groot waarde. Hierdie evangelie het nog maar weinig beslag gelê op ons kerkmense. Hierdie evangelie word maar bitter sleg verstaan. Daarom kyk die wêreld nie na ons op nie, en daarom word die wêreld nie halt geroep deur die werklikheid van God se genade in ons lewe nie.

Sê ek te veel? Antwoord my, sakeman, wanneer u op kantoor sit, wanneer u inkoop en verkoop, wanneer u loon uitbetaal of watter saaklike handeling u verrig — is dan u bede bo alles: O Seun, maak ons u beeld gelyk?

Sê ek te veel — en nou kan ek iedereen opnoem, maar ek wil myself nie uitsluit nie. Ons as predikante, wanneer ons ons voorberei tot die prediking, wanneer ons op die preekstoel staan, wanneer ons besoeke doen, wanneer ons moeilikhede in die gemeente het — is die enigste wat ons dan beweeg: O Seun, maak ons u beeld gelyk? Ons ken almal tog, as dit wel is met ons, die pastorale smart van elke dag, dat dit so weinig leef in die lewe van die gemeente. Wanneer ons moeilikhede moet oplos, rusies moet besleg, gebroke huwelike moet heel — wat 'n wêreldgelykvormige reaksie is daar dan; hoe weinig sien ons dan die beeld van Christus en veel meer die beeld van die duiwel. Ons huiwer soms voor die mentaliteit van die kerkmense. Watter gees word geopenbaar? Ag, uitwendig is alles goed en netjies en godsdienstig. Maar die krisis moet eers kom. Wanneer byvoorbeeld 'n mens beledig is, wanneer hy gegrief is, wanneer hy te ná gekom is, saaklik of by 'n erfenis, dan kom dit uit wat in hom sit. Dan sien ons dikwels heel weinig die beeld van Christus, maar veel meer die beeld van die duiwel.

Maar daar is 'n oorblyfsel ná die verkiesing van die genade van God, wat ná die nuwe mens met vreugde deur hierdie eng poort gaan en hierdie smal weg bewandel, mense wat hulle nie laat uitverkies en roep deur die vlees nie maar wat hulle laat roep deur die evangelie, omdat die uitverkiesende God daaragter staan, wat met gesag na hulle toe kom.

Hierdie oorblyfsel is getroos deur die feit dat hulle geroep en voortbestem is — voortbestem tot die ewige lewe. Hulle is verheug dat hulle broeders en susters mag wees van die Eersgeborene onder baie broeders. Ja, Jesus Christus is die Eersgeborene van die groot geestelike huisgesin van verlostes. Soos in die huisgesin, die familie, die bande van bloed die innige verbinding aantoon tussen broers en susters, ouers en kinders, so sien ons in daardie geestelike huisgesin dat die bloed en die gees van Christus almal saambind. Hulle geniet dieselfde geestelike maaltyd, dieselfde geestelike voedsel. Ja, ons is uitverkore in Hom, in Jesus Christus. Jesus Christus is die Eerste, die alles Bepalende, die groot Uitverkorene van God, die Eersgeborene onder baie broeders, die Eerste in rangorde, die Eerste as fondament, die Eerste as Wortel, die Eerste as Begin en Beginsel, die Eerste in die openbaring in die tyd en tydsorde; maar Hy het baie broeders, ook nou tot sy wederkoms.

Dit is wat die Skrif êrens anders sê: Ons is uitverkore in Hom, sodat ons heilig en onberispelik voor Hom sou wees in die liefde. Merkwaardig — beeld van Christus, dit is eintlik: liefhê, want lewe, ewig lewe, is liefhê. Dit behoort tot die wese van die herstelde mens. Daar staan immers: vir hulle wat God liefhet, sal alle dinge ten goede meewerk. En hulle wat God liefhet, is die mense wat hulle deur God laat roep deur die versoening heen om die beeld van Christus gelykvormig te word. En hierdie mense leef alleen uit die waaragtige vertroosting, want vir hulle alleen geld: alle dinge sal meewerk ten goede, naamlik vir hulle wat God liefhet. En daarin voel hulle hul veilig en alles-oorwinnend.

Wat 'n troos! Want dan is ons lewe nie meer die produk van die omstandighede nie; dan is ons geen slagoffers van demoniese en menslike magte nie; dan is ons geen resultaat van natuurelemente nie. Ons lewe is uitgelig uit die tragedie, die treurspel van die raaiselagtige bestaan, en opgehef in die Goddelike komedie, die Goddelike blyspel van verlossing en van die ewige lewe. God het 'n plan met ons, ook in die chaos, ook met die mees weerbarstige materiaal: van die kleinste tot die grootste, van die belangrikste tot die geringste, van die mooiste tot die afskuwelikste, van die soet tot die bitter, van die lewe tot die dood. Ja, alles sal meewerk ten goede, niks meer daarteen nie.

Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie sal teen ons wees? As God ons uitverkies en geroep het, wie sal ons dan uitruk uit sy almagtige Woord soos in Jesus Christus geopenbaar? Dit is dus die allerbelangrikste wete, en dit weet ons dan ook seker met die hart; maar dit weet alleen diegene wat God liefhet, wat hulle laat roep tot sy beeld.

Diegene wat God nie liefhet nie, verstaan daar niks van nie. Hulle begryp nie dat alles ten goede meewerk nie. Hulle word opstandig en sê: Is dit nou ten goede? Hulle het ook geen begrip van wat eintlik goed is nie. Die begrip “goed” het hulle verwêreldlik, veruitwendig, ver-tydelik, asof dit die goeie sou wees dat ons alles kry wat ons vlees begeer. Asof dit die goeie sou wees dat God soos 'n werker staan in die lekkergoedwinkel van ons tydelike begeertes. Die goeie is tog nie die kwaad waaraan die wêreld tot niet gaan nie. Die goeie is tog nie dat God my moet dien op my wenke nie. Die goeie is tog nie ons selfhandhawing, ons grypende kloue nie.

Wat noem u goed? Niemand is goed nie behalwe God alleen. Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef U, o Heer, oor ons die lig van u Aangesig! Dit is die lig van Christus, die Lig van die liefde van God, die Lig van die beeld van God.

Alles (hoor u dit), alles sonder onderskeid, ten goede. Wat 'n ontembare optimisme! Selfs die lastigste mense om ons heen, hulle word ons weldoeners, het iemand eenmaal opgemerk. Bid hulle nie weg nie, vloek hulle nie weg nie, werp hulle nie weg nie.

Die onverklaarbare en verbysterende ruïne word nog die goeie. U lydensnode word die seënende hande van God. Daar het 'n boek verskyn met die titel: Die moed om ongelukkig te wees. Wat 'n wonder: die moed om ongelukkig te wees. Dit is in die gees van Paulus, wat 'n doring in sy vlees gehad het maar gehoor het dat God se genade genoeg was, en nou gaan roem in sy verdrukkings. Want al is ek selfs van vader en moeder verlate, die Here is groot en goed. Hy is en bly my Vader en Behoeder. Leer my, o God, u weg in alle nood! U weg van uitverkiesing en roeping, van geloof en bekering, van heiligheid en heerlikheid, totdat ek versadig is van u Goddelike beeld!

Dit alleen is die belangrikste wete. Dit mag ons bly weet, ook wanneer ons in die horisontale vlak in angs uitroep: Nou weet ek nie meer nie!

A M E N.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css