Die Weg

Maak ‘n bydrae en wen groot!!
Jan Brink

Vir slegs R500 per maand kan jy duisende terug ontvang! Klink dit dalk te goed op waar te wees?

Nie as ‘n mens na sekere programme op die Pas7/10 satellietboeket kyk nie. Is dit ‘n belegging of ‘n kasino?

Nee, ek praat hier van sekere kerkgroepe of te wel bedieninge (ministries). Hulle maak beloftes van baie welvaart vir die (goed)gelowige bydraers, en dit in die naam van die Here. Immers, die Bybel leer ons mos, dat as ons vir die diens van die Here bydra, ons baie meer terug sal ontvang. Gooi jou brood op die water, en na vele dae......!

Leraars in dié bedieninge beroep hulle op Johannes 10:10b “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” In die King James vertaling “I am come that they might have life, and that they might have it more abundantly.”

Hiervolgens sal jy materieel oorvloedig geseën word indien jy jou bydrae aan die bediening gee. Hoe groter die bydrae, hoe groter die seën. Een prediker het die afgelope naweek (14/03/2009) die voorbeeld van Elia genoem,  wat die weduwee van Sarfat opdrag gegee het om van haar laaste meel en olie vir hom ‘n ete te berei. Omdat volgens hierdie prediker die weduwee die “bydrae” aan die prediker (Elia) gemaak het, was sy so geseënd dat “die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie (1 Konings 17:16)”. Die strekking van hierdie prediker uit Texas  se woorde was: “”because she gave everything that she had to the preacher, she was blessed”. Op die woord “preacher” het hy met sy vinger na homself gewys. Hierdie prediker verstaan blykbaar nie die konteks van die gebeure in 1 Konings 17 nie, of indien hy dit weet, verdraai hy dit om by sy eie hebsug in te pas.

Die beskouing hierbo word ook welvaartsgodsdiens genoem. As ons vir die kerk geld gee, en ‘n groot genoeg geloof het dat ons baie meer op materiële gebied terug sal ontvang, dan sal ons in oorvloed kan lewe! Dra by tot die kerk en al jou finansiële sorge is iets van die verlede! Vra net wat jy wil hê, en jy sal dit kry. Ook daardie 4x4 voertuig of oorsese reis. Hoe groter die bydrae, hoe groter die seën, aldus die leraars van hierdie bedieninge.  (Die enigste wie in oorvloed lewe, is die predikers self).

Wat nou as die kerkgangers nie die beloofde oorvloed ontvang nie? Hulle het dalk geld geleen om hulle bydrae aan die kerk te maak sodat hulle die beloofde duisende of selfs miljoene terug kan ontvang. (Een van hierdie bedieninge het selfs kredietkaartfasiliteite binne die kerkgebou). Nou gaan daar dae, weke en maande verby en daar kom net niks terug nie. Die bydraers beland net in ‘n groter finansiële krisis. Dié mense raak ontnugter en teleurgesteld in die kerk en godsdiens in die algemeen. Uiteindelik sweer hulle godsdiens totaal af. Geen wonder dan dat in Amerika waar die welvaartsgodsdiens tans hoogty vier, al meer mense afvallig word. Sodanige kerke lewe ‘n leuen.

Die predikers se verweer is eenvoudig. Die mense het wel bygedra, maar hulle het nie voldoende geloof gehad nie.

Wat is die werklike boodskap tov kerklike bydraes?

Alle kerke het geld nodig om die Woord te kan verkondig. Daar kan ‘n mens nie verbykom nie. Maar die Here gee dit self in die harte van mense om vir die verkondiging van Sy Woord by te dra. Om weer na Elia terug te keer, staan daar in 1 Konings 17: “Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan 'n weduwee bevel gegee om jou te onderhou.”  Die Here het dit reeds in haar hart gegee om hom te onderhou. Daarom het sy Elia geglo en onvoorwaardelik uitvoering aan Elia se opdrag gegee. Die Here het die vrou geseën ter wille van Elia sodat sy hom vir die bestemde tydperk kon onderhou. Ter wille van Elia is daar aan haar basiese behoeftes voorsien. Sy het nie eensklaps skatryk geword nie.

Eksodus 35: 29 “Elke man en vrou wie se hart hulle aangedryf het om iets by te dra vir al die werk wat die HERE deur die diens van Moses beveel het om te verrig -- as vrywillige offergawe aan die HERE het die kinders van Israel dit gebring.”

2 Korinthiërs 9:7  “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.”

Bydraes vir die onderhouding van die kerk is ‘n dankbaarheidsdiens aan die Here. Ons is dankbaar vir alles wat ons elke dag van Hom ontvang. Die armes in die kerk is dankbaar teenoor die Here vir die versorging wat hulle weer van die kerk af ontvang. Hulle prys die Here daarvoor. So kom die lof en die eer in alles die Here toe.  As ons rykdom en eer ontvang dan is dit net uit genade, nie omdat ons Hom met ons bydraes kan omkoop nie. Hy sien diep binne die menslike hart en Hy weet met watter gesindheid jy ‘n bydrae maak en met watter gesindheid  die bydrae ontvang word!

Wat kan ek die Here vir al sy guns vergeld? Wat kan ek hom bring uit dank vir Sy genade?

Johannes 10:10 word hierbo totaal uit konteks aangehaal. Jesus sê: “die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Die oorvloed wat hier ter sprake is, is nie materiële oorvloed nie, maar oorvloed in die lewe. Al gaan ons in hierdie wêreld gebuk onder watter probleme ookal, Hy sal ons vertroos sodat ons nie mismoedig word nie. Hy vertroos ons in hartseer en pyn sodat ons nie soos die ongelowiges sê “berge val op ons, hewels bedek ons” nie. Deur Hom het ons lewe in oorvloed; ewigdurend in die Nuwe Jerusalem waarheen ons op pad is.

Habakuk 3:17 en 18: Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie --nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css