Ware, diepe blydskap motiveer ons tot ’n heilige lewe
Maarten van Helden
www.gkcenturion.org.za
Het jy nie ookal die engele beny nie. Om elke dag in volmaaktheid by die Here te wees klink immers tog té heerlik. En as ons daagliks die kommer en ellende om ons heen sien, dan nog meer.
As ons die daaglikse stryd teen die sorge en probleme en gevare en sonde stry, wie sou nie wens ons kon sommer nou soos die engele wees nie. Soms het ek al gewens dat ons maar net kan sing soos die engele in die hemel, so volmaak, so mooi.
Die “slegte nuus” is egter dat ons nooit engeltjies gaan word nie! ’n Mens word nie ’n engel as jy doodgaan nie. Dis ’n ouvrou-storie wat jy sommer vandag al kan vergeet.
Die “goeie nuus” darenteen, is om te weet dat ons eendag by die Here, MÉÉR as die engele sal wees! Ja, want dit is hoe ons geskape is. Die mens, geskape na die beeld van God, die kroon van die hele skepping!
Tog het ons ’n kort tydjie minder as die engele geword. Die rede daarvoor is die sondeval! Ons het ons kroon-status verloor en minder as die engele geword. Deur die sonde het ons kinders van die toorn van God geword.
En dit is waarom ons ook lees dat Jesus, die Seun van God, ’n kort tydjie minder as die engele moes word (Heb 2:9). Hy het van sy hemeltroon neergedaal en vlees geword en onder ons kom woon.... soos ons, minder as die engele!
Maar dit het Hy gedoen om ons van ons sonde te verlos, sodat ons deur sy kruisoffer weer in ere herstel kan word as die beeld van God ... net minder as ’n goddelike wese (Ps 8)... dus weer bo die engele... die kroon van die hele skepping!
En nou lees ons in 1 Petrus 1:12 dat die engele begerig is om soos ons te wees! Hoe is dit moontlik?
Kom ons bekyk Petrus se argumentering: Hy handel hier oor die heerlike blydskap wat ons as mense het: “ ’n Heerlike en onuitspreeklike blydskap”(vs 9). Hierdie blydskap kom deur die geloof in Christus. Al sien ons Hom nie nou nie, het ons deur die geloof reeds deel aan die saligheid. (vs 8 – sekerheid!)
Die sondaarmens, ek en jy, weet dus dat al is ons dodelik siek weens die sonde, het ons die dokter wat volkome genesing bewerk het. Deur die geloof sal ons dus nie die ewige dood sterwe nie, maar lewe saam met Christus!
Joh 6:47 – “Voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo HET die ewige lewe!”
Joh 11:25 - "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook.”
En daarna vertel Petrus van ons groot voorreg om hierdie evangelieboodskap te kon kry. Hy verwys na DIE PROFETE wat hierdie boodskap gebring het. Hulle het dit getuig maar nooit soveel insig gehad dat hulle dit ten volle begryp het nie.
Ons wat vandag, ná Christus lewe, en die vervulling van die profesieë gesien en gehoor het, ons is veel meer bevoorreg as die profete! Ons weet wat hulle nooit kon weet nie.
Wat ’n voorreg het ons dus vandag bo die profete!
Ons het die Bybel wat alles so klinkklaar uitspel! Ons kan daar lees en lees, en weer lees, en vervul word met ’n heerlike blydskap, omdat ons deur die Woord insig kry in sy grootse werke!
Maar ons is nie net grootliks bevoorreg bo die profete van ouds nie. Ons is ook baie bevoorreg bo die engele. Ja, selfs terwyl ons nou ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is weens die sondeval... ook nou het ons wat in Christus glo iets “waarin selfs die engele begerig is om in te sien” (vs 12).
Ons het die voorreg om te verstaan wat VERLOSSING beteken. Ja, wat dit in die ware sin van die woord beteken! Ons kan dit aan eie lyf ervaar! Die engele sal nooit die ervaring van Christus se oorwinning so kan beleef soos ons nie!
Onthou dat die engele die evangelie net so goed soos ons ken, miskien selfs beter.
“Ere aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, vir die mense in wie God ’n welbehae het” (Luk 2:14).
O ja, die goeie evangelie ken hulle goed. O, so goed! Maar hulle kan dit nie so diep soos ’n mens beleef nie.
Onthou dat die goeie engele geen sonde het of doen nie. Die engele is volmaak gehoorsaam aan God. Geen sonde nie, dus ook geen bewussyn van die volle betekenis van die versoening van Christus, wat hulle nie nodig het nie.
Laat ek dit met ’n voorbeeld verduidelik: As iemand ernstig siek was en gesond geword het, dan is hy daaroor buitengewoon bly... veral as jy baie ernstig siek was.Jy besef terdeë hoe groot die genade van genesing is. Iemand wat nog nooit so siek was nie, kan dalk verstaan as die persoon daaroor praat maar kan dit nooit ten volle begryp nie. Ons kan dit op ’n manier met mekaar deel, maar as jy self nog nie daar was nie, self dit nie so ervaar het nie, dan mis jy daardie dieper dimensie.
As sondaar-mense wat so diep geval het, en so wonderbaarlik verlos is, het ons dus ’n ervaring-dimensie wat die engele nie het nie.
Hulle blydskap verskil dus grootliks van ons. Hulle is vol blydskap en dien God dag en nag, omdat dit hulle taak is. Hulle MÓÉT dit doen! Hulle is dienende geeste van die hemel.
Maar ons... ons is vol blydskap en dankbaarheid omdat ons presies weet wat Jesus se verlossing vir ons beteken. Ons WIL dit. Ons blydskap is veel dieper. Ons motivering nog meer!
God self het die groot omkering gebring. En ons mag die rykdom van sy genade belewe. En deurdat Christus self mens geword het soos ons, is Hy nou die Hoëpriester wat met ons medelye (Gr: sympatos) kan hê (Heb 4:15).
apatie – voel niks;
empatie – voel saam/gee om
simpatie – voel soos jy, in jou plek]
“Dinge waarin die engel begerig is om insig in te kry”.
Soos die twee gerub-engele op die verbondsark se deksel, wat afkyk na die deksel van die versoening. Hulle kyk begerig om te sien en in te sien en te ervaar ... (Eks 25:20).
Maar, dit is nie vir hulle bedoel nie. Dit is vir julle bedoel, skryf Petrus aan die kerk in die verstrooiing! (1:1; 1:12).
Die vraag wat dus bly is eenvoudig: Beleef jy dit ook so? Is jy bewus dat jy meer bevoorreg is as die profete van ouds? En ook meer as engele?
Dan sal dit jou mos vervul met ’n “onuitspreeklike en heerlike blydskap” (vs 9).
En dit word jou motivering om verder te lees ( en te doen):
1 Petrus 1:13 -16 “Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig."
Laat hierdie blydskap (oor jou saligheid) jou lewens-motivering wees. Jou dryfveer tot heiligmaking – om elke dag verander te word na die beeld van Christus, deur die krag van dieHeilige Gees.
Jaag nie die dinge van die wêreld na nie. Geld, sport en plesier kan nooit soveel vreugde gee nie. Sukses of selfs liggaamlike gesondheid sal dit nie bewerk nie.
Nee, laat die evangelie-boodskap van genade jou siel aanraak. Laat dit toe om hierdie dieper dimensie van jou lewe te beleef. En laat so die Heilige Gees toe om jou deur die Woord te motiveer tot daagliks en groei en heiligmaking... nader aan Christus, nader aan God.
“Wees heilig, want Ek is heilig, sê die Here”
Laat dit jou motiveer om uit te sien na jou bestemming, waar ons volmaak sal wees en waar ons elke dag sal jubel in die Here.
Dan sal ons nie eendag saam met die engele sing nie, Nee.... veel meer, die engele sal saam met ons sing!
Ten slotte nog dit.
Is dit nie wat nodig is dat ons met nuwe ywer die evangelie aan die wêreld wil verkondig nie. Daardie blydskap en opgewondenheid oor Christus se genade, kan dan nie meer binne-in jou bly nie.
Nee, elke dag is jy weer van vooraf so opgewonde soos ’n nuwe bekeerde, wat bewus is van sy voorreg om gered te wees, en borrel jy van die blydskap oor dit wat Christus vir ons gedoen het.
Elke keer saam met die engele bly oor een sondaar wat hom/haar bekeer!
Dan sal ons soos die apostels wees wat op Pinksterdag sê: Ons kan nie stilbly oor die groot dinge van God nie!
Geliefdes,
Laat die Here jou meevoer deur sy Woord en Gees, besef die groot voorreg wat jy mag beleef, en wees getuies van sy onuitspreeklike genade wat Hy ook aan jou en my bewys het.
Amen.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css