Die Weg

Maak 'n hoopvolle kind groot
Wietske Boon
www.childtherapist.co.za/afrikaans

(Verskyn ook in die Vroueblad Februarie 2011)

Ons kinders word nie in kokonne groot nie. Hulle leef in ons huise, hoor ons praat van geweld, beleef soms self geweld. Hulle toekoms ten opsigte van werksgeleenthede is baie onseker, sosiale druk is hoog en huislike omstandighede is dalk nie na wense nie. Hoe leer ’n mens jou kind van hoop? Van die wáre hoop in die Here?

Wat sê die Bybel oor hoop

As Christene hoop en vertrou ons op Jesus Christus wat vir ons sonde gesterf het en ons hoop (het die vooruitsig of verwagting) op sy wederkoms. Deur sy kruisiging is ons sonde vergewe en het ons die vooruitsig (hoop, verwagting) op die Ewige Lewe.

“Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God” (Rom. 5:2).

Ons stel ons verwagting op God se beloftes waarvan ons in die Bybel lees. Ons glo daarin al kan ons dit nie sien nie en ons vertrou volkome op God.

God is die bron van ons hoop, deur geloof kan ons dus aanhou hoop. Deur die inwerking van die Heilige Gees kry ons die nodige krag om te kan hoop.

Paulus skryf dit ook vir die Romeine: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.” (Rom 15:13).

Riglyne om ‘n hoopvolle kind groot te maak:

‘n Kind fokus nie op die bogenoemde aspekte van geloof nie en plaas ook nie sy hoop volkome op God of die vooruitsig van die ewige lewe nie. Vir kinders is dít wat in die hier en nou met hulle gebeur van belang. Wat hier en nou met ons kinders gebeur stel hulle bloot aan moedeloosheid, terneergedruktheid en onsekerheid.

Vir ons kinders is die lewe baie keer nie maklik nie. Hulle hoor van geweld, beleef dit soms, hulle toekoms ten opsigte van werksgeleenthede is baie onseker, sosiale druk is hoog en huislike omstandighede is dalk nie na wense nie. Bogenoemde dinge is meesal buite ‘n kind se beheer, maar hy moet daarmee saamleef.

Te midde van enige spanningsvolle gebeure, kan jy jou kind help om die verwagting te hê op positiewe gebeure of uitkomste. Die beste manier om jou kind op te beur, is deur ‘n Christelike opvoeding:

Leer jou kind van jongs af om sy hoop op God te plaas en volkome op God te vertrou. Gebruik die natuur as voorbeeld. Verduidelik vir jou kind hoe God na sy skepping omsien. Net so sien God na ons ook om.
Help jou kind om ‘n goeie verhouding met die drie-enige God te bou deur gebed, deur Bybel te lees en huisgodsdiens te hou.
Die invloed van die geloofsgemeenskap is ‘n belangrike deel van jou kind se opvoeding. Moedig jou kind aan om deel te neem aan gesonde aktiwiteite byvoorbeeld deur aan te sluit by die kerk se jeuggroep.
Maak jou kind bewus daarvan dat alle mense nie Christene is nie en as gevolg daarvan kom daar byvoorbeeld dinge soos geweld voor. Verduidelik ook aan jou kind dat die sonde gelowiges ook tot verkeerde dade dryf.
Leer jou kind van jongs af dat God hom met ‘n unieke persoonlikheid geskape het en dat hy sy ware identiteit (= dus wie hy is) by God gekry het (Psalm 139: 13-15). So bou jy aan jou kind se selfbeeld en verseker jy dat dit van so ’n aard is dat hy homself aanvaar en liefhet. Bou jou kind se selfvertroue deur komplimente en positiewe terugvoer te gee as hy iets goeds doen of iets regkry.

Ander praktiese wenke:

Wees onvoorwaardelik lief vir jou kind. Sê dit, wys dit, skryf dit op briefies vir jou kind.
Help jou kind om met die regte vriende om te gaan, vriende wat jou kind opbou.
Verduidelik situasies aan jou kind, byvoorbeeld: mamma en pappa stem nie oor alles saam nie, maar ons werk ons verskille uit en is steeds baie lief vir mekaar en vir jou. Hierdie verduidelikings moet ouderdomsgerig wees, sodat jou kind spanningsvolle situasies leer verstaan.
Hou aan om geduldig te wees wanneer jou kind moedeloos is. Hou aan om hom te motiveer en te ondersteun.
Beklemtoon positiewe gebeure en jou kind se positiewe eienskappe.
Wees self geloofspositief en leef dit aan jou kind voor deur jou lewensvreugde en vrede te put uit ’n innige verhouding met die Here. Jou positiwiteit sal na jou kind toe oorspoel. Net so sal ‘n ouer se negatiwiteit en gebrek aan geloof en hoop op die Here ‘n kind negatief maak.
Help jou kind om suidelik HAALBARE doelwitte vas te stel. In so geval lyk die oorkoepelende oogmerk nie so onbereikbaar nie. Wanneer jou kind dus ‘n doelwit bereik, gee dit weer hoop vir toekomstige doelwitte en uitdagings.
As ouer, bid onophoudelik: vir jou kind, vir jouself en jou gesin. Ons het sy genade nodig om staande te bly in hierdie gebroke wêreld.

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Pet 1: 3-4).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css