Die Weg

Kinders en die rouproses
Wietske Boon
www.childtherapist.co.za/afrikaans

Die stappe van die rouproses

Elisabeth Kübler-Ross identifiseer die volgende stappe waardeur ‘n persoon gaan nadat ‘n geliefde gesterf het:

Skok
Ontkenning
Woede
Depressie
Aanvaarding

Skok is die fisiese en emosionele reaksie wat ‘n persoon ervaar na ‘n traumatiese gebeurtenis plaasgevind het. Fisiese reaksies tot skok kan versnelde harttempo, sweet, angstigheid en bewerigheid insluit. Die persoon fokus net op wat gebeur het en ervaar die gebeurtenis as onwerklik.

Tydens onkenning is ‘n mens se denke van so aard dat jy nie kan glo en aanvaar dat iemand gesterf het nie.

‘n Gevoel van woede kan ervaar word teenoor die oorledene (omdat hy gesterf het), teenoor die persoon self (omdat hy dit nie kon keer nie) of teenoor God (omdat Hy toegelaat het dat die geliefde gesterf het).

Tydens die depressie fase ervaar ‘n mens intense hartseer en geen lus of krag om met die lewe voort te gaan nie. Moegheid en die onvermoë om te konsentreer is ook simptome van depressie.

Alhoewel die hartseer vir ‘n lang tydperk steeds teenwoordig is, kan die persoon aanbeweeg met sy lewe en die afsterwe van die geliefde aanvaar.

Hierdie stappe vind nie noodwendig in hierdie volgorde plaas nie. ‘n Persoon kan enige van hierdie fases op enige tyd ervaar en die intensiteit van hierdie emosies is verskillend. Soms val die persoon ook terug in ‘n vorige fase om dan weer aan te beweeg.

‘n Kind wat deur die rouproses werk kan fisiese simptome ervaar wat moegheid, slaapprobleme, eetprobleme en psigosomatiese simptome (byvoorbeeld maagseer of hoofpyn sonder ‘n fisiese oorsaak daarvoor) insluit. Die kind ervaar ook intense hartseer en kan skuldgevoelens en vrese ervaar en uitreagerende gedrag (woede uitbarstings en aggressie) toon.

Gesonde uitdrukking van emosies

Ouers hoef nie hul hartseer en trane vir ‘n kind weg te steek nie. Dit is goed wanneer kinders kan sien dat volwassenes huil. ‘n Kind moet leer dat dit normaal is om hartseer te wees en te huil.

Ek vergelyk graag die terughouding van emosies met ‘n oorvol asblik. Wanneer ons aanhou om vuilgoed in ‘n asblik te gooi sonder om die asblik leeg te maak, gaan die asblik een of ander tyd begin oorloop. Wanneer ons emosies terughou gaan dit te veel word en gaan dit een of ander tyd begin ‘oorloop’. Dit is wanneer normale funksionering belemmer word en onbenullighede enorme emosionele reaksies uitlok.

Moedig die kind aan om oor die oorledene te praat, selfs al veroorsaak dit trane. Verduidelik vir die kind dat dit nie sy skuld is as julle begin huil nie, maar die hartseer dat die geliefde oorlede is wat julle laat huil.

Hartseer

Wanneer ‘n geliefde sterf, ervaar die kind intense hartseer. Die geliefde is nie meer daar nie, die kind kan nie meer dinge saam met die persoon doen soos van tevore nie. Die kind verlang na die geliefde. Kinders weet nie altyd hoe om die hartseer te verwoord nie. Vra die kind om ‘ n gesiggie te teken met die emosie wat hy ervaar. Gesels oor die prentjie, waar hy die emosie in sy liggaam ervaar, wanneer hy die emosies ervaar en wat gedoen kan word om die hartseer te verminder.

Uitreagerende gedrag

Uitreagering van emosies help ‘n kind om van emosies ontslae te raak (veral omdat ‘n kind nie altyd die vermoë het om emosies te verbaliseer nie). ‘n Goeie hulpmiddel vir uitreagerende gedrag is om ‘n kussing of slaansak te slaan. Wanneer ‘n geliefde sterf moet dissipline nie afgeskeep word nie, leer eerder die kind aanvaarbare maniere om uiting aan woede en aggressie te gee.

Skuldgevoelens

Somtyds sê of doen ons dinge (of doen ons dit juis nie) en dan sterf ‘n geliefde. ‘n Voorbeeld van ‘n kind se redenasie sal wees: as hy sy tas vroeër gepak het, soos sy ma gevra het, sou hulle nie laat gewees het nie, dan was pappa nie in die motorongeluk nie. Kinders glo ook dat hul denke iemand se dood kan veroorsaak. ‘n Kind wat gewens het sy irriterende sussie wil weggaan, en daarna sterf, kan glo dat sy denke sy sussie se dood veroorsaak het. Hierdie is skuldgevoelens. ‘n Kind wat skuldig voel oor iets wat hy gesê of gedoen het, moet verseker word dat dit nie sy skuld is nie. Gaan deur die gebeure en maak jou kind daarvan bewus dat hy nie die geliefde se dood veroorsaak het nie.

Vrese

Wanneer ‘n geliefde sterf kom daar twee algemene vrese by die kind voor: dat nog ‘n geliefde gaan sterf of dat hy self tot sterwe gaan kom. Die kind sal die situasie begin vermy wat ooreenstem met die situasie waarin die geliefde gesterf het byvoorbeeld, as oupa in ‘n motorongeluk gesterf het kan die kind probeer vermy om in ‘n motor te ry, want dan gaan hy ook sterf. Stel die kind gerus deur aan te dui dat dit nie die geval gaan wees nie, baie mense ry in motors en sterf nie.

Eerlikheid

Wanneer ‘n kind vrae het oor die dood moet dit eerlik be-antwoord word. Verduidelik die emosies wat ‘n mens ervaar en dat dit normaal is om hierdie emosies te hê.

Moenie ‘mooi’ woordjies of frases gebruik wanneer van die dood gepraat word nie. Oupa lewe nie op ‘n ander plek nie, hy woon nie in ‘n ander dorp of is met vakansie nie, hy is dood. Ouma slaap nie, want sy gaan nie wakker word nie. Sy is nie weg nie, dan kan ons haar mos gaan soek. Verduidelik eerder dat haar liggaam dood is en dat haar siel in die Hemel, by die Here is. ‘n Maklike wyse om siel aan ‘n kind te verduidelik is dat ‘n mens se siel die deel van ons is wat gelukkig of ongelukkig is, wat maak dat ons lag of huil. Die “ek” binne-in ons lywe.

Algemene opmerkings

Mense is geneig om opmerkings te maak soos: “Noudat Pappa nie meer hier is nie, moet jy nou die man van die huis wees”, of “Jy moet nou mooi na Pappa kyk, want Mamma is nie meer hier om na hom te kyk nie.” Hierdie tipe opmerkings plaas ‘n groot verantwoordelikheid en las op die kind se skouers. Die kind neem hierdie opmerkings letterlik op en voel hy moet hierdie rol ten volle kan vervul. Hierdie kind word nie die geleentheid gegun om deur die normale rouproses te werk nie en word van sy kind-wees beroof noudat daar van hom verwag word om volwasse te wees. Dié tipe opmerkings moet dus vermy word.

Wenke

Wanneer ‘n geliefde sterf ervaar die kind sekere emosies, soos reeds bespreek. Aangesien kinders nie altyd die vermoë het om hul emosies te verbaliseer nie, of te bang is om dit te doen, praat hulle nie oor hul emosies en denke nie. Hier is ‘n paar algemene wenke om die kind te help om oor die dood van ‘n geliefde te begin praat en dit te verwerk:
Maak ekstra tyd om te luister en drukkies te gee. Het tonne geduld: geduld om te troos, te luister, lief te hê selfs al toon jou kind weerstand daarteen. Wanneer die tyd reg is, sal hy oor sy emosies praat en begin vrae vra.
Probeer so ver as moontlik roetine en gebruike dieselfde hou. Indien nodig vra hulp van familie of vriende sodat die kind in sy roetine en bekende omgewing bly. Dit gee vir die kind ‘n sin van veiligheid en normaliteit van sy lewe.
Wanneer ‘n ouer sterf vra ‘n ouma of oupa, tannie of oom om dinge saam met die kind te doen wat die ma of pa voorheen gedoen het.
Berei jou kind voor vir wat nou verder gaan gebeur. Die presiese gebeure tot die begrafnis, maar ook die beplanning vir die toekoms.
Betrek jou kind by die begrafnisreëlings. Gee jou kind die geleentheid om te gaan totsiens sê by die begrafnisondernemer, sou hy daarvoor instem. Gaan besoek die graf wanneer die kind daarvoor vra. Moenie jou kind weerhou om te rou nie. Moenie jou kind dwing om deel te neem aan die reëlings of om die graf te gaan besoek as hy nie wil nie.
Kommunikeer met jou kind se skool. Vra dat die onderwyser jou kind sal ondersteun en jou sal laat weet indien hy kommerwekkende gedrag openbaar.
Blaai deur albums of maak saam ‘n nuwe album en gesels oor die goeie herinneringe van die oorledene.
Laat jou kind briewe skryf of prentjies teken vir die oorledene. Skryf van die hartseer, verlange, skuldgevoelens (indien daar is) of dinge wat die kind graag vir die persoon sou wou sê, maar nie voor sy dood kon nie. Vra vir jou kind wat hy met die briewe wil doen en respekteer sy besluit. Die briewe kan gebêre of verbrand word, op die graf gesit of in ‘n helium- gevulde ballon in die lug opgestuur word.

Wanneer om professionele hulp te gaan soek:

Wanneer die kind se gedrag jou bekommer.
Die kind nie normale dagtake kan hanteer nie.
Die kind die trauma blokkeer, en emosies onderdruk.

Wanneer ‘n kind leer dat om te sterf deel van die lewe is en leer om emosies te kommunikeer is die kind reeds goed oppad om te herstel van die trauma. Gee die kind geleentheid om oor sy emosies, denke en vrae te praat en wees eerlik en geduldig. As ouer, versorg jouself en gaan soek professionele hulp indien jy nie die dood van die geliefde kan verwerk nie.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css