Vreemde invloede in die samelewing
Dr Dirkie de Wet
BASIESE INVLOEDSFERE: Ons kan basies van twee invloedsfere in die samelewing praat, die godsdienstige en die sekulêre invloedsfere. Die mate waarmee hierdie invloedsfere funksioneer of toegelaat word om invloed op die gesin uit te oefen, sal ook bepaal in watter mate die gesin gebou word, stagneer of verbrokkel. Die ouer, predikant, kategeet, onderwyser moet die jeug bewus maak van die vernietigende krag van die negatiewe en vreemde invloede in die samelewing en moet die Christelike waardes deur woord en daad aan die jeug kommunikeer om die negatiewe invloede teen te staan.
KULTUURREVOLUSIE: Die huidige kultuurrevolusie wil tradisionele kultuurgroepe vernietig om plek te maak vir ‘n wêreldburgerskap. Dit beteken dat taal, godsdiens en tradisies prysgegee moet word en dat die kind losgemaak moet word van sy kulturele ankers. In plek van die kulturele ankers word ander praktyke in die gemeenskap aangebied wat 'n strydige uitwerking op die Christelike opvoeding het. Die kind se oordeelsvermoë word hierdeur versteur om korrekte keuse te maak. In hierdie drukgang van besluitneming tussen al die godsdienstige en wêreldse aanbiedinge, word al hoe meer kinders op ‘n jonger ouderdom vir dwelmverslawing behandel.
MULTIKULTURELE SAMELEWING: In die Suid-Afrikaanse konteks is 'n multikulturele samelewing reeds sterk gevestig wat vir die Christelike geloof 'n probleem kan wees. Die Christelike godsdiens kan binne die multikulturele samelewing aan die een kant vir politieke gewin gebruik word, maar kan aan die ander kant ook tot verdeling in kulturele groepe in die samelewing lei waarna as kulturele oorlog verwys kan word. Dit het vir die kerk nodig geword om opnuut binne die gemeenskap plek in te neem waar dit irrelevant begin word het. Die brug tussen die kerk en samelewing is in ‘n sekere sin opgeblaas. Daarom moet die kerk dit sterk oorweeg om in vennootskap met die staat en markplein saam te werk vir ‘n beter bedeling vir almal in Suid-Afrika. God het sy kerk in die wëreld ingestuur om in alle uithoeke die boodskap van verlossing te verkondig. Die kerk moet dus ook hierdie opdrag in die plaaslike owerheid en die besigheidsektor uitvoer. ‘n Beter voorbeeld as Jesus Christus self, kan ons nie vind wat hierin gehoorsaam was nie.
GESINNE SE VERANTWOORDELIKHEID: Die gesin en elke gesinslid afsonderlik moet tot die besef gelei word dat elkeen 'n spesifieke en unieke funksie in die gesin, gemeente en samelewing het om die Christelike godsdiens en kultuur met gehoorsaamheid aan God te hanteer. Die ideologiese en geestelike verwarringe in die samelewing is genoeg rede tot bekommernis, maar dit is ook 'n motivering om met Christelike waardes in die samelewing 'n positiewe en opbouende invloed te kan hê. Tieners moet na aanleiding van 'n wêreldwye behoefteuitspraak deur tieners self binne die ondersteuningsraamwerk van 'n gesin en ander leiers geleer word om Christelike waardes binne die gemeente en gemeenskap te kommunikeer.
AANBEVELING: Omdat hierdie vreemde invloede uit verskillende rigtings deur verskillende kanale die gesin binnedring, moet hierdie kanale geïdentifiseer word. Dit is dus nodig om die sekulêre wêreld in hierdie opsig voortdurend te ondersoek. Die volgende aanbevelings word gemaak om die gemeente en gesin te ondersteun om Christelike waardes in die multikulturele situasie oor te dra, naamlik:
(1) Versterking van gesinsverhoudings d.m.v. gesinsbediening.
(2) Geloofsgesentreerde en gemeenskapsgerigte Christelike opvoeding.
(3) Om die gemeente as ‘n gesin, die huishouding of familie van God te beskou.
(4) Die skep van 'n Christelike jeug-subkultuur in die samelewing om die jeug van vroeg af te leer hoe om hul Christelike waardes teenoor hul maats en ander persone uit te leef.
dirkiedewet@absamail.co.za, 011-913-4143, 072-844-8073
(Skriba van Sinode Hoëveld se Diensgroep Jeug, het ‘n netwerk, Kruisnet, vir jeugleiers ontwikkel asook ‘n Handleiding vir Kinder- en Jeugwerkers wat op www.kerkweb.org beskikbaar is.
Spesialisasie: Gemeenskapsgerigte Tiener- en Gesinsbediening.)
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css