Die Weg

My ontnugtering, God se verbasende werking
Maarten van Helden
www.gkcenturion.org.za

Hierdie is 'n direkte transkripsie van 'n preek deur ds Maarten van Helden van die Gereformeerde Kerk Centurion.  U kan ook hier na hierdie preek luister.

Genesis 29:1-35

Ons teksvers, broers en susters,  is hoofstuk 29 vers 25: “Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea”.

As jy die Ou Vertaling lees dan sal jy sien dit sit daar 'n woordjie by . Dit is een van daardie woordjies in  Hebreeus wat 'n mens wonder of jy dit moet vertaal. Dit is net so 'n klein niksseggende woordjie kan 'n mens dink. Die Afrikaanse Ou Vertaling sê: “Kyk in die môre was dit Lea”.  Die Engelse vertaling vertaal dit met behold.  Die woordjie is hie-nee. Dit is 'n twee-letter  woordjie in Hebreeus, so 'n woordjie soos sela, wat jy nie eintlik moet vertaal nie.  Ek sou nou dink as 'n mens dit hier vertaal, in hierdie vertaling, moes daar darem  'n uitroepteken wees. Want hie-nee sê iets van: kyk mooi, let mooi op, neem waar, in die môre was dit net Lea.

Ek moet nog 'n versie vir u lees broers en susters, om vir u die krag te gee van hierdie boodskap. In Openbaring hoofstuk 5 lees ons van die Lam van God,  van die Leeu wat die boekrol oopmaak. Kyk wat staan hier: Toe sê een van die ouderlinge  vir my: “Moenie huil nie. Kyk die Leeu uit die stam van Juda , die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en is magtig om die boek met sy seëls oop te maak”.

In die more was dit toe maar net Lea.

Maar broers en susters, kinders van ons Here Jesus Christus, ons is almal waarskynlik ontnugter in hierdie lewe deur die stampe en die stote van ons dag tot dag bestaan. Ons praat oor ontnugtering.  Soms wonder ‘n mens: jy  word wakker in die oggend en dink: “wat soek ek op hierdie plek, wat soek ek  in Centurion, wat soek ek  in Suid-Afrika, in hierdie deurmekaar land met al sy probleme? En ons het nou gedink dit gaan maar woes by ons totdat ons nou gesien het wat gebeur het in Egipte, nê? Maar wat soek ons in hierdie land? So sou ons dalk sê, wat soek ons in hierdie dorp? Wat soek ek in hierdie huwelik?  Ek bedoel, kyk wat het van my vrou geword, kyk wat se man het ek getrou. Het ek nie dalk 'n fout gemaak nie,  moet ek nie dalk skei nie?

Mense stel jou teleur, kinders stel  jou teleur, ouers stel jou teleur, vriende stel  teleur en laat jou in die steek, selfs jou kerk stel teleur. Broers en susters, dit voel baie keer of jy nie so in beheer is van jou lewe as wat jy dink nie. Nou, ek dink Jakob het 'n hele paar keer in sy lewe presies so gevoel. Ontnugter. Maar hierdie spesifieke een is seker die ergste een van hulle almal. Jakob word wakker die oggend en tot sy verbasing:  hier lê Lea. Dis nie my liewe Ragel nie! En u kan dit uself voorstel: hy storm eenvoudig, ruk die tentseile oop,  storm uit sy tent uit, daar na die stoep van Laban toe, met swaaiende arms. Hy wil baklei vandag. Hy bevlieg sy skoonpa:  “wat het jy aangevang, waar is my Ragel,  gee haar vir my”, en dan begin die onderhandelingsproses. Eers die baklei en dan die onderhandelings.  Laban verduidelik so al wat hy kan voor daar bietjie vrede kom, en dan kry Jakob weer nuwe lus en nuwe krag. Hy sê:  “gee vir my Ragel nou! Ek wil nou met haar trou, ek voel niks vir Lea nie. Ek wil nie met haar getroud wees nie, maar ek is nou klaar met haar getroud, maar ek het haar nie lief nie. Ek wil vanaand nog met Ragel trou!”. U sien daar kom die menslike oplossings. En hulle onderhandel daar vir hulleself  in 'n vrede in en 'n week later is hy met twee vrouens getroud.

Dis was ook sonde, want God het bedoel dat een man met een vrou getroud is. Maar Jakob? Kyk, jy moet vir Jakob ken, hy neem wraak nê? Sy wraak sal soet wees. Hy sal nie vir Lea liefkry nie. Wie durf die bedrieër Jakob, wie durf die bedrieër bedrieg? Wie durf hom in sy eie strikke vang? Hy sal nie vir Lea liefhê nie! Dis sy stille wraak. Ek moet sê, u kan dalk ook so voel.

‘n Mens kry hom nogal n bietjie jammer, vir ou Jakob. As ons dan na die teks kyk broers en susters, dan vind ons daar 'n leidraad wat u ongelukkig nie kan lees  in die Afrikaans nie, maar ons vind daar 'n leidraad hoe ons hierdie geskiedenis as gelowiges anders kan lees. Die Hebreeuse  woordjie hie-nee, waarna ek netnou verwys het. Hierdie woordjie kan baie betekenis hê, maar dit wil eintlik maar in sy wese jou op aandag laat staan. Dis 'n woordjie wat verbasing uitspreek. Kyk, wow, kyk, let op, behold.  Gaan dit nou hier oor Jakob se verbasing?  Want dit is hoe 'n mens dit sou lees as jy net die storie lees. Die Nuwe Lewende Vertaling sien ek, vertaal dit met,  “daardie oggend het Jakob met 'n skok besef”. Die woordjie sit daar aan Jakob vasvertaal. Maar onthou as ons met die Bybel besig is, gaan dit nie in die Bybel oor Jakob  nie, maar oor die God van Jakob. So hie-nee, kyk, kyk mooi, kyk diep, kyk ver. Want wat hier vertel word broers en susters is 'n verbasende openbaring van God se genade. Kyk mooi, dis meer as 'n storie van Jakob se lewe, dis meer as 'n tragiese verhaal van ‘n man wie se eie planne op hom geboemerang het. Kyk mooi, dis nie maar Laban wat vir die bedrieër in sy eie strikke gevang het nie. Hie-nee, kyk mooi, kyk diep, kyk ver, neem waar wat gebeur daardie nag in ‘n man se lewe, 'n man wat altyd ‘n plan het - sy eie plan- . Kyk mooi, en die môre was dit net Lea, die lelike eentjie, was nie Laban se truuk nie. Kyk diep, dit was die Here. Dit was die Here, die God van Abraham en Isak, die God van die Belofte, die God van die Verbond waardeur al die nasies geseën moes word. Kyk mooi, broers en susters, en sien die openbaring van God raak.

Hoe dit gebeur het, weet ek nie. Jy kan daaroor die snaakse gedagtes hê, maar God broers en susters, het op een of ander wyse beskik dat Jakob daardie nag in so ‘n toestand was dat hy nie geweet het dat hy by die ander vrou slaap nie. God het dit beskik, God van Bet-El, die God wat sy belofte gegee het toe die engele op- en af-klim, gesê het:  “Ek bewaar jou as jy daar in die heidense wêreld in die vreemde ingaan”. Dieselfde God bewys dit later by Maganajim as Hy sê: “Ek het jou met 'n dubbele  beskerming, met 'n dubbele leërskare beskerm”. Hierdie God, broeders en susters, het vir Jakob opgepas want Jakob, Jakob moes baie mooi opgepas word, want Jakob was Jakob. Hy moes baie mooi opgepas word,  Jakob met sy eiewillige planne,  Jakob moes van sy eiewilligheid bewaar word. U sien hy wou mos met Ragel trou. Hy was smoorverlief, sewe jare word soos 'n paar dae. Alles lyk so reg, maar dit sou groot fout wees as hy met Ragel sou trou, want as hy met Ragel sou trou, sou hy nie met Lea trou nie, en Jakob was die draer van die saad van die belofte. Maar Jakob vra nooit vir die Here van die Belofte met wie moet hy trou nie . Hy weet mos, sy hormone sê vir hom met wie moet hy trou. Sy was beeldskoon, mooi van aansien,  maar die Here weet beter. Die Here,  broeders en susters, hou Jakob se oë toe daardie nag in sy tent en hy word wakker langs Lea. In die môre was dit toe maar net Lea, die lelike eendjie. Kyk mooi , hie-nee, sien die hand van God raak as Jakob, broers en susters, nie met Lea sou getrou het nie. Kan u dink hoe verskriklik, dan was Juda nie gebore nie.  Juda die vierde seun, nie van Ragel nie ,maar van Lea. Juda die seun Jakob,  die vierde seun, die stamvader van die stam van Juda, van Dawid, uit wie gebore word die Seun van Dawid uit die stam van Juda, wat sou word die Leeu uit die geslag van Juda, uit die stam van Dawid. Kan u u voorstel as Jakob se plan geslaag het? Maar God het sy engel opdrag gegee en hulle het Jakob se oë toegedruk om die belofte te bewaar, om die belofte aan Abraham en Isak en Jakob en ons te bewaar, deur Lea na Christus toe.

U sien die duiwel, broers en susters, jaag jou eiewilligheid soos by Jakob. Maar die duiwel kan nie, hier hoor ons dit, die draak, die slang van ouds, kan nie die koms van  Christus keer nie. Die duiwel kan nie God se plan, God se verlossingsplan, verydel nie, al probeer hy hoe hard, en daarom broeders en susters,  die duiwel speel in op die mens se eiewilligheid,  se eie planne. Hy moedig jou aan, maar God laat sy raad nie keer nie. Ons eie planne word dikwels deur God beskerm van onsself. Maar daarmee saam gaan ontnugtering en dan begin ons - dis ons reaksie-  ons begin baklei met almal  wat ons seergemaak het, en as ons nou begin  onderhandel dan begin ons dit met ons verstand uit te werk, maar ons hart is nie daarby nie, ons geloof is nie daarby nie,  dan kom al die verduidelikings en die redenasies. O, ons verstaan so goed en dan kom al die sondige oplossings soos wat Jakob maak met Ragel. Hy trou ook met Ragel. Ek sal julle terugkry! Sondige menslike oplossing. En dan besoedel hy sy huwelik sodat die res van sy huwelikslewe deur hierdie twee susters met mekaar, in 'n geveg -  kat en hond. Wat ek vir u sê broeders en susters,  ek dink u begryp wat die Woord van die Here sê. Gaan kyk na jou eie lewe, gaan kyk na jou eie ontnugterings, gaan dink bietjie waar woon jy, met wie is jy getroud of nie getroud nie, jou werk, jou land, jou kerk. En nou kan jy  hier sit soos Jakob en sê:  “hier sit ek nou met die vrou met wie ek nie wou getroud gewees het nie. Ek dink ek het n fout gemaak”. Of jy sit sonder man of vrou, of jou drome het nie uitgedraai soos jy dit alles mooi uitgewerk het nie. Nou veg en raas en baklei jy met alles om jou en jy raak swaarmoedig en jy het 'n negatiewe gees en jy maak al hierdie planne, nuwe planne. Of jy kan as gelowige ‘n slag stil word en hie-nee sê. Kyk, kyk 'n bietjie dieper, kyk verder, kyk of jy nie die hand van die Here in jou lewe kan raaksien nie, die bewarende hand van die Here. Dit mag dalk nogal vir jou vrede bring as jy vir jouself kan sê:  “hier is ek en hier is die lewe en die dinge soos die Here dit vir my beskik het”. Jou lastige buurman se blaffende hond, jou befoeterde baas,jou sukkelende besigheid.

U sien broers en susters, die eerste pad na vrede in jouself is vrede met die besluite van God, die almag en beskikking van God, die wete dat God met jou en my, soos met Jakob besig is en oppad is. Die wete dat, en hier lê die knoop, dat God om Christus wil met my en jou te doen wil hê. Die wete dat hy ons in sy groot plan van verlossing ingesluit het. Hier lê die punt vanmôre en daar kom jou vrede vandaan. Dan kyk jy nie teen die dinge vas nie,  dan sien jy die Here, dan kyk jy op. Die vrede, ek herhaal dit, die wete dat God my om Christus wil in sy magtige verlossingsplan oor die eeue heen, my om Christus wil, daarby ingesluit het, soos vir Jakob en Lea, bo-oor Jakob se planne heen.  Die Koning wat sy Koninkryk laat kom, dié Koning is Jesus Christus. Sy eie lewe was ook een groot ontnugtering: vervolg toe hy nog 'n babatjie was, uitgelag, bespot, gespoeg, gemartel, gedood. En tog broers  en susters, is die tragiese verhaal van Jesus Christus deel van die verbasende werk van God se heilsplan, sy verlossingsplan, en daarvoor het God sy engele opdrag gegee om Hom ook te  bewaar. U kan maar gaan kyk wanneer Hy daar in Getsemane  bid, dan kom daar 'n engel om Hom te versterk. Ja, Hy het 'n tyd gehad wat Hy alleen was sodat God ons nooit weer alleen laat nie,  sodat God altyd sy engele sal opdrag gee om ons op die hande te dra.  Christus wat oorwin het, en Hy deel sy Gees uit aan ons, sodat ons deur die Heilige Gees in die geloof vrede kan maak met God se manier, God se plan in ons lewe. Dat ons kan sê:  “ook my lewe met al sy ontnugterings en teleurstellings, dramas, is in die hande van die Almagtige God wat sy koninkryk laat kom, my lewe in sy hand”. En dit is nie nodige broers en susters, dat jy 100 jaar moet wag voordat jy daardie vrede kry nie. Ek sê dit, want Jakob moes 100 jaar veg met die Here, om daardie vrede te kry.

Op 147 sterf hy en op sy sterfbed dan sien ons eers vir Jakob in totale oorgawe en in vrede dan sê hy:  “begrawe my in Lea se graf”, maar hy sê: “ ek het vir Lea in die belofte graf begrawe -  nie vir Ragel nie”. Dit was Lea, dit was al die tyd God se plan,  dít was die regte weg. Dan maak hy vrede met God se besluit, en ek vra u vanmôre broers en susters, wat ookal in u lewe gebeur, moenie 100 jaar wag nie, maak vandag vrede met God, vandag nog, dit is waarom dit hier staan.  ' n Almagtige God wat beskik oor ons lewe en ons lot. Jakob aanvaar dat God beter geweet het as sy eie plannetjies, en Ragel is nie meer deel van die prentjie as Jakob sterwe nie. Sy lê êrens langs die pad begrawe.  Vrede met die weg van God, die verbasende weg van God. Jou ontnugtering broers en suster, jou teleurstelling. As jy diep gaan kyk, dan sien jy die hand van die Here raak. Hy is met jou en my op pad. Natuurlik het jy drome, het jy planne, het jy wense,  maar broers en susters, gaan daarmee biddend na die Here toe en wees dan dapper genoeg om hierdie gebed te bid, dapper genoeg: “Here laat nie my wil nie, maar u wil geskied”, soos Jesus dit gedoen het, en maak vrede met die wil van God, onderwerp jou aan die wil van God en leer om nie te kyk , nie te dink, oor jou lewe elke keer weer nie. Dis waarvoor ons vir mekaar daar is, om mekaar te help dink.  Praat met mekaar meer oor wat die Here in jou lewe doen en kry u ook vrede broers en susters, dan laat gee u ook vrede, vertrou op God, vertrou op God my broer,  my suster.  Weet hy het jou ingeskakel in ‘n Koninkryk wat aan die kom is en Hy is die Almagtige. Dit gaan nie meer oor my drome nie, want my drome sal teleurstel, my Ragel is môre net Lea, God se Lea, en God stel nooit teleur nie. Hy maak jou deel van sy grootse werk.

Kom ek som dit vir u op, vier punte,  ek dink dan kan u dit vasknoop. Kyk mooi, broers en susters, hie-nee, neem waar. Dit gaan nie oor my plan vir my lewe nie,  dis hoe die wêreld dit aanbied:  live your dream,  visualiseer jou plan, waar is jy oor 5 jaar.  Ken jy hierdie woorde? Jou planne, jou drome -  dit gaan nie daaroor nie. Kruisig dit. Dit gaan in die tweede plek broers en susters, nie oor  God se seën oor my planne nie, want dis nog steeds mý planne. Natuurlik bid jy God se seën af op jou besluite, maar pasop vir jou planne, wees baie versigtig. Dit gaan broeders en susters, hoe heilig dit ookal mag klink,  nie eers oor God se plan met mý lewe nie, want God se plan met my lewe is diep verborge. Jy weet nie wat Sy plan met jou lewe is nie, behalwe dat Hy jou in die ewigheid wil bring. Jy weet nie waar jy môre gaan wees nie. Dis 'n verborge plan en jy sal die avontuur beleef hoe God jou lewe rig en lei, na Sy wil.  Maar weet u waaroor gaan dit om vrede te kry? Die vrede van die geloof dat ek en jy deur Christus plek het in die groot plan van God se Koninkryk, net dit. Gaan dink vandag, gaan kyk hierdie week dieper daarna, want wat God begin het sal Hy klaarmaak, al moet Hy bo-oor jou hardloop, al moet Hy jou neerslaan soos Jakob by Pniel en jou op die heup slaan. Maar wat God in Christus begin het, sal Hy met jou klaarmaak tot op die jongste dag. Hy is die beeldhouer, Hy kap aan jou, Sy beeld, totdat jy uitgebeitel is na die boustyl van Sy paleis, om ten volle deel te wees van Sy Ewige Koninkryk.

Amen.

Transkripsie deur Ontowebmedia en Inligtingsdienste

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css