Die Weg

Wêreldchaos
Gerrit Kruger
www.gkcenturion.org.za

Ons het die afgelope tyd gelees en op televisie gesien van ontsettende oorstromings, van geweld in Egipte - tot 1 miljoen mense wat op 'n slag staak -, klipgooiery, voortslepende oorlog in die Ooste, magshebbers wat nie van hulle trone wil afstand doen nie, CHAOS.

Die Skrif is baie duidelik hieroor. Die Skrif leer ons dat hierdie dinge sa! gebeur in die laaste dae en dit des te meer namate die oordeelsdag naderkom. En al dink ons dit is baie erg, is dit maar net die geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

Die grootste chaos is egter dat die Woord nie meer suiwer gebring word nie. Baie mense leef op “voorspoed boodskappies". Predikers wat net preek en sê wat mense graag wil hoor: “God wil graag hê dat jy ryk moet wees”.

Die boodskap is dat Jesus Christus weer aarde toe kom en dan sal Hy kom om te oordeel. Is jy gereed? Is jy reg en voorbereid? Is jou lamp vol olie? Ons moet onsself afvra ook as kerk: is daar by ons 'n erns om die Blye Evangelie van verlossing aan almal te bring? Of raak ons bevrees vir die wêreldchaos? Skrik ons vir die oorstromings, die sake waaroor ons geen beheer het nie?

Dawid het gesê: Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur. Waarvoor is ons bang? Niks kan ons skei van die liefde van God in en deur Jesus Christus nie. Ons hoef nie bang te wees nie. God het ons juis duur gekoop met die bloed van sy eie Seun, Jesus Christus.

Kom ons hou in die geloof vas aan God en sy beloftes! Kom ons bly Hom dien van ganser harte! Kom ons leef en verkondig die evangelie!

Moet nie bang wees nie, God sal ons bewaar nou en vir altyd en oral waar ons gaan, al is dit deur swaarkry heen.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css