Die beproewing oor die hele wêreld sal nie die gelowiges oorslaan nie
Callie Opperman
www.gkws.iway.na
Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. (Openbaring 3:10)
Die Here God waarsku op verskeie plekke in sy Woord oor beproewing wat oor die hele wêreld sal kom. Dit sal die inwoners van die wêreld toets oor hulle verhouding met die almagtige God. Hierdie beproewing sal die HELE wêreld raak. Niemand sal oorgeslaan word nie. Selfs ook nie die gelowiges, die kerk van Christus, nie.
Die gemeente van Filadelfia het reeds lyding deurgemaak. Die Jode uit die sinagoge het hulle vervolg, net soos Jesus gekruisig is deur die Jode in Jerusalem. Op verskillende maniere word die gelowiges deur vervolging getoets: Liggaamlike lyding, bespotting en verwerping.
Daar kom egter ’n beproewing oor die hele wêreld, wanneer God die mensdom sal toets. In Openbaring 16:1 lees ons: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!” Hierdie bakke tref die ganse skepping, ook die mense. Die Skepper roep daardeur almal tot bekering. Dit sal die groot verdrukking wat oor die kerk kom voorafgaan.
Hoe sal gelowiges, ek en jy, hierdie beproewing kan deurstaan? Sal dit nie te erg wees vir ons nie? In Openbaring is daar vaste beloftes, waarop ons altyd kan reken. Maar daar is ook duidelike opdragte. Wie hieraan vashou en getrou bly, sal staande bly in die tyd van beproewing. Die Here beloof dat die deur om die evangelie uit te dra sal oop bly – hou aan om getuies teenoor ongelowiges te wees! Uiteindelik sal die vervolgers van Christene moet erken dat Christus sy kerk liefhet.
In die brief aan Filadelfia staan twee maal die woord “vashou”. Eers ’n belofte, dan ’n opdrag. God sal die gelowiges vashou, maar die gelowiges moet ook vashou aan hulle Christelike geloof. Dit is die waarborg vir oorwinning. In beproewing vanweë God se toorn oor die wêreld hoef jy nie te vrees nie. Die band met God sal nie daardeur verbreek word nie. God sal sy kerk vashou.
Hou ook vas aan wat jy het wanneer jy persoonlik beproef word, of wanneer jy van rampe, ellende, siektes en ander beproewinge in die wêreld verneem. In die geloof kan jy vashou dat jy uit genade kind van God is, dat jou verlossing in Christus seker is, dat die ewige heerlikheid jou erfenis sal wees. God stap doelgerig na die dag van oorwinning. Dié dag wanneer Jesus weer op die wolke kom om alles nuut te maak vir sy gelowiges.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css