Dankie vir vandag!
Hentie Kruger
www.midweek.co.za
“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe‚ oor wat julle moet eet of drink nie‚ of oor julle liggaam‚ oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?”
— Matteus 6:25 —
In die artikel Tree vir tree het ons gesien dat as dit begin donker word, moet jy stadiger begin beweeg en selfs stilhou. Ons moet onsself nie moeg dink oor wat môre of selfs volgende jaar kan gebeur nie.
Alhoewel ons dit vir mekaar sê‚ wil ons tog so graag vêr sien.
Jesus het op baie plekke seker oor baie dinge gedink. Maar ek wonder of Hy Hom ooit bekommer het oor waar Hy gaan eet en slaap. Hy sê: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie‚ want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matt. 6:34).
Inderdaad het elke dag genoeg moeilikheid van sy eie. En genoeg vreugde‚ bloot om die skoonheid van die lelies te sien waarvan Jesus in dieselfde hoofstuk praat‚ die voëls en die gras‚ die dinge van God se skepping. Paulus het nooit gedink aan wat môre sou bring nie. Hy was ook by uitstek ’n realis wat hom nie met fabels besig gehou het nie. Ons lees dat toe hy die ouderlinge van Filippi gegroet het‚ mense wat hy geweet het hy nooit weer sou sien nie‚ hy duidelik vir hulle gesê het dat daar waarskynlik boeie en gevangenskap op hom wag. Op ’n ander plek sê hy vir Timoteus: “Ek het die goeie stryd gestry‚ ek het die wedloop voleindig‚ ek het die geloof behou.”
Daardie wedloop waarvan hy praat‚ het hy nie klaargemaak deur op vlerke van engele rondom die lewensbaan te vlieg nie. Hy het nie op ’n silwer wolkie gereis nie. Hy moes tree vir tree sy geloofsvoete optel‚ tree vir tree rondom die baan gaan‚ tree vir tree die Here volg‚ tree vir tree‚ dag na dag. Want dit is die enigste manier om die wenpaal te bereik waarvan Paulus praat.
Dit bring ’n mens by die moeilike kwessie van geloof‚ moeilik omdat ons dit met allerhande groot terme moeilik maak. Geloof is om nie eintlik duidelik te weet waarheen jy op pad is nie‚ maar om in elk geval God te vertrou en te gaan.
Toe God vir Abram uit Ur van die Galdeërs geroep het‚ toe Hy gesê het Abram moet trek‚ het Abram nie eens by God gehoor wat sy volgende adres sou wees nie. Hy gaan sonder ’n padkaart‚ sonder selfs ’n wolk in die dag en ’n vuurkolom in die nag. Dit staan daar in die Bybel: Abram het uitgetrek sonder om te weet waar hy sou kom.
Maar hoe help die dag-vir-dag-ding my met my huwelik wat elke dag versleg‚ of die ouderdom wat my inhaal‚ of wat ook al? vra iemand‚ en vervolg: my probleem is juis dat ek môre se krisis maar te duidelik sien. Ek vra nie oor die dag van môre nie‚ ek weet sommer daar is geen uitweg uit my krisis nie. Ek sien hoe ek alles verloor. Alles dui daarop. Ek sien al hoe ons sukkel om met ’n verminderde inkomste klaar te kom.
’n Mens kan nie oor alles ’n vrolike vinkie wees nie. Daar is so iets soos verantwoordelikheid ook. Maar daar is ook net sóveel wat jy aan die saak kan doen en dan moet jy dit verder aan die Here oorlaat.
As Jesus van ons verwag om nie bekommerd te wees nie‚ wat stel Hy voor moet ons dan wel doen? Die antwoord vind ons in vers 33: “Nee‚ beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God‚ dan sal Hy julle ook al hierdie ander dinge gee.”
Sien‚ kommer oor die basiese dinge in die lewe, soos eet en aantrek, kan ons aandag so vasvang dat dit al ons tyd opeis. Daarom vra Jesus dat ons moet let op die voëls en die lelies wat uit die sorgsame hand van God leef. Hulle is nie belas met saai en oes soos wat met die mens die geval is nie. Wat nou belangrik is om te verstaan‚ is dat Jesus nie hierdie beelde uit die natuur gebruik bloot as ’n “natuurlessie” nie. Die gedeelte roep ons met ander woorde nie op om soos die voëls en die lelies te word nie. Nee‚ Jesus vra van ons om na hulle te kyk en te verstaan dat dit nie nodig is om ons te bekommer nie. As mense saai en oes ons‚ maar ons kan dit of in vrees en kommer doen‚ of in geloof en met die wete dat die Vader weet wat ons nodig het. Die punt is duidelik – God se sorg moet nie deur ons eie sorge verduister word nie. God regeer! Dit is die betekenis van die koninkryk.
In dié verband sê Johan Smit is dit vir ons belangrik om vir onsself uit te maak hoe ons oor ons hemelse Vader dink. In hoe mate vertrou jy die Vader? Neem jy die Vader op sy woord? Jesus leer ons juis hier dat ons nie vir God net as ’n noodhulp moet gebruik nie‚ maar dat ons dag vir dag uit sy Vaderhand moet lewe. Ontvang elke dag se stukkie brood uit sy hand. Eer Hom vir elke goeie gawe. Vertrou Hom met jou hele lewe. Sê vir Hom dankie vir die klere wat jy elke dag kan aantrek. Leer om so volledig in en uit die Here se hand te lewe dat jy loshande kan lewe – nie voortdurend geteister deur allerhande drifte om jouself te bewys in rand en sent nie. En al word God se kinders by tye ongunstig getref deur omstandighede is hulle nie aan die noodlot uitgelewer nie; hulle is in die hande van ’n liefdevolle Vader.
Onthou: in die lewe gaan dit om een tree op ’n slag. Een dag op ’n keer. En Jesus sê: Kyk‚ Ek is met julle al die dae. Dis so belangrik dat Hy sê al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Want al die dae beteken ook die swaarkrydae of die lekker-lag-dae – ja‚ al die dae!
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css