Die dood van die dood
Hentie Krüger
www.midweek.co.za
“Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.” Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo‚ sal lewe‚ al sterwe hy ook.”
— Johannes 11:23-25 —
Jesus kom lê sy arm oor die skouer van die gelowige wat treur. Hy doen dit in Johannes 11‚ veral wanneer Hy vir ons wil verklaar wat Hy vir ons gedoen het‚ soos hier in vers 25: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo‚ sal lewe‚ al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Tog bly die dood ons laaste vyand. Dit heers oor die geskiedenis. Ten minste dit lyk so. Maar wat het die Seun van God dan op aarde kom doen? Wat het Hy vir mý kom doen? Wat sê die Bybel werklik?
Jesus het niks uit hierdie lewe kom wegneem nie‚ nie siekte nie‚ nie pyn nie‚ nie skande nie‚ nie droefheid nie en … nie die dood nie. Maar Hy het alles radikaal kom verander. Dit is die vreugdeboodskap van Sy koms‚ Sy sterwe en Sy opstanding. Alles is nou anders.
Elke traan word nou ’n profeet van die dag wanneer die Here self die trane van ons oë sal afvee. Selfs die verskriklike dood is nou anders. Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe: wie in My glo‚ sal lewe al het hy ook gesterwe.”
Dis haas ongelooflik: reeds nou tree die lewe reeds as oorwinnaar uit die stryd teen die dood; ons dierbares wat dood is en in Hom geglo het‚ lewe steeds! Die Here self sê dit. Maar meer nog. Vers 26 sê: “En elkeen wat lewe en in My glo‚ sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Jy bly lewe. Glo jy dit? Dit is die kern‚ om dit te kan glo. Maar wat dan nou van die dood waaraan ons tog nie kan ontkom nie? Die punt is dat Christus die aardse dood nie eens meer as sterwe reken nie‚ so volkome het Hy dit verander. Deur self te sterf‚ die gruwelike strafdood van die kruis‚ het Hy hierdie donker heerser van sy troon afgeruk‚ by wyse van spreke‚ tot ses voet onder die grond in. Daar is die dood nou ’n slaaf wat die laaste nederigste slawewerk vir elke gelowige moet doen.
Hy moet naamlik hierdie sterflikheid‚ wat ’n gevolg van die sonde is‚ soos ’n vuil‚ verskeurde kleed van ons afstroop. Op hom trap jou voete om na die ewige lewe deur te gaan. As Christus dus iets vir jou lewe te sê het‚ dan het Hy alles vir jou in jou dood te sê!
Om sy mag oor die dood onteenseglik te bewys‚ laat Hy Lasarus aan hierdie kant van die graf opstaan. Nie om een of ander oorbluffende spel te speel nie‚ daarvoor het Hy te dikwels gesê dat die omstanders nie eens moet gaan vertel wat hulle gesien het nie.
Hy was nie ’n towenaar wat gekom het om‚ spreekwoordelik ’n paar hase uit ’n hoed op te tower en om sodoende sy verdiende applous te ontvang‚ nie. Hy wou egter vir elkeen van God se kinders op aarde‚ deur die eeue wat sou kom‚ wys dat Hy die mag het om hulle uit die dood te laat opstaan en aan die anderkant van die dood te laat uitgaan.
Nie rigtingloos‚ dobberend in die rondte nie‚ maar op die spore van Christus. Hy het vir ons die pad deur die dood getrap. So lei Hy sy volk droogvoets deur die golwe van die doderyk‚ teen die oorkantse oewer uit na die beloofde land Kanaän.
Paulus kon van harte sê: “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” en “Ek het verlang om heen te gaan en met Christus te wees‚ want dit is verreweg die beste.”
Weet jy wat so wonderlik is. Jesus het ook begrip vir die onvermoë van die mens om dit alles te verstaan. Ons sien dit wanneer Hy besig is om sy dissipels te onderrig. As Hy hierdie wonderlike waarheid met hulle deel dan verstaan hulle op daardie stadium niks daarvan nie – ook nie as Hy vir hulle sê: “Lasarus is dood‚ en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie‚ sodat julle in My kan glo.”
Al verstaan die dissipels dit nie alles dadelik nie‚ betuig hulle hul geloof in Hom met die woorde van Thomas: Kom ons gaan ook‚ sodat ons saam met Hom kan sterwe. So ’n geloof eer die Here Jesus. Hy neem hulle saam. Ook wat die susters‚ Marta en Maria‚ betref. Wanneer Marta haar geloof bely‚ sê sy nie daarmee dat sy Jesus se woorde ten volle verstaan nie. Sy word aan ons voorgestel as ’n gelowige wie se geloof haar in ’n krisis bewaar.
Al kan ons as gelowiges‚ nie nou vir Marta en Maria letterlik na die graf volg waar Lasarus opgewek is nie‚ kan ons die twee susters volg tot hierdie punt van geloof‚ al verstaan ons nie. Die gelowige kan nie die teenwoordige duisternis met die verstand verlig nie‚ maar hulle kan Jesus gelowig vertrou‚ en hierdie vertroue gee die waarborg van hulle eie en hulle dierbares se opstanding wat in die Here gesterf het.
Jesus het ook gehuil. Ja‚ Hy huil saam met die wat huil. Wat Jesus hier by Lasarus se graf beleef is nie net hartseer soos ons dit ken alleen nie‚ maar ons kan byna sê dat dit toorn is. Hier sien ons iets van die heilige toorn of verset van Jesus teen die mag van die dood. Hy is hier om die dood te oorwin en kom in verset teen die verwoesting van die dood. Hy het sy dissipels meer lief as iemand hom menslik kan voorstel. Hy het gekom om hulle vas te hou; om aan hulle die ware lewe te gee en nou is Hy getuie van hoe die dood die bande tussen hierdie mense van Hom kom verskeur.
Jesus se trane is ook ’n bewys van sy liefde vir Lasarus. Daarom kan ons maar sy voorbeeld navolg. Huil saam met die wat huil. Dit is soms meer werd as ’n stortvloed woorde. Gelukkig kan ons iemand wat by die graf van ’n dierbare huil‚ ook wys op sy eie en sy geliefde(s) se opstanding uit die dood. God het in Jesus Christus die vloek van die dood kom wegneem.
Gebed:
Lewende Here‚
ons bid dat die lewende woorde uit u Woord
nie by ons ’n hart van klip
en ’n kop van yster sal aantref nie‚
maar ’n liergierige gees wat werklik soek
na die betekenis van die nuwe lewe in U.
Laat ons werklik ervaar
dat U ons Vader is
wat ons as u kinders aangeneem het;
dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf
en weer opgestaan het‚
en dat U deur u Gees ons harte verlig
om u stem te hoor.
amen
Johannes Calvyn – Uit: Gebedeboek vir die Lewe‚ Lux Verbi(BM)
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css