Beproewings
Callie Opperman
www.gkws.iway.na
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!
Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.
In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.
Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer.
(2 Korintiërs 4:1-6)
God die Vader gee moed. Hy bemoedig ons ... in elke omstandigheid en in elke moeilikheid.
Paulus, die apostel van die Here Jesus, het dikwels die bemoediging nodig gehad. Hy beskryf die teenstand in die tyd van sy sendingwerk in die provinsie Asië soos volg: “Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.” (2 Kor 4:8).
Ook vandag is daar baie Christene wat vervolg word, wat dikwels selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Jeff King (president van ICC*) het soos volg reageer toe die International Hall of Shame (oor vervolging van Christene) saamgestel is: "In compiling the report, it was striking to see the rate at which Christian persecution has accelerated around the globe, especially in the Islamic world. Anti-Christian hatred arising from Islam has flowed into 2011, as seen in the horrific attacks in Egypt, Pakistan and Iraq already this year. ...”. Op 31 Oktober 2010 is 50 Christene in ‘n kerk in Baghdad, Irak, doodgeskiet, en op 1 Januarie 2011 het ‘n selfmoord bomplanter 21 Christene vermoor voor ‘n kerk in Alexandrië, Egipte. Dit sal ook nie nou reeds ophou nie! Die Woord waarsku ons dat dit sal vererger namate die wederkoms van die Here Jesus nader kom (vgl. Matt 24:9,19-21).
Behalwe vervolging van Christene, is daar baie ander moeilikhede waarmee kinders van die Here daagliks worstel. Siekte, armoede, geweldpleging, onregverdige behandeling in die arbeidsmark, belediging, weerstand teen Christelike optrede.
Hoe reageer ons daarop? Hoe bly gelowiges staande onder sulke moeilike omstandighede? Hoe kan jy kop bo water hou wanneer hierdie jaar 2011 vir jou swaar beproewing bring?
Die Woord van God leer in 2 Korintiërs 4, deur die getuienis van die apostel wat self bitter moes ly ter wille van die evangelie, dat ons ‘n Vader in die hemel het. Hy ontferm Hom oor sy kinders. Hy draai nie sy rug op jou wanneer daar moeilikhede op jou pad kom nie. Sulke dinge kom soms juis oor ons, sodat ons nie op onsself sal vertrou nie, maar op God wat dooies opwek tot die lewe (2 Kor. 4:9). God, die Vader bemoedig sy kinders in moeilike omstandighede. Hy gee krag deur sy Gees, Hy hou staande en gee uitkoms.
Daarom is dit so belangrik om die getuienis van mense wat beproewing deurgaan te hoor. Van die sterwende wat nie opstandig word nie, maar God loof omdat sy seker is van haar verlossing. Van Paulus wat God dank vir sy bemoediging, sodat hy ook ander kan bemoedig. Van vervolgde Christene vandag se kragtige getuienis te midde van die haglikste omstandighede. Gelowiges ervaar God se bemoediging om ’n volgende een te kan bemoedig.
Die God en Vader van ontferming is steeds in beheer. Moeilike omstandighede en tye moet ons nie in ons geloof laat wankel nie. Hy self sal op sy tyd daaraan ’n einde bring. Nou het ons die sekerheid van die lewe in Christus, wat deur niemand weggeneem kan word nie. Ons kan uitsien na die volle verlossing, wanneer Hy weer kom om die Bose te vernietig en aan sy volgelinge die heerlikheid te skenk.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css