Die Weg

Kersfees - datum of doel?
Maarten van Helden
www.gkcenturion.org.za

<<Luister hier na die volledige boodskap>>

"Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang".

— Galasiërs 4:4-5 —

In die komende week gaan daar fees gevier word. In Suid-Afrika waar Kersfees boonop ook nog in die groot vakansietyd van die jaar val, is dit voorwaar feestyd. Partytjietyd. Miskien ’n kersboom en geskenke...

In my voorbereiding van ’n toepaslike teks het ek agtergekom dat daar in die Skrif, buiten dit wat Lukas ons in detail vertel, tog nie soveel gemaak word van die bepaalde dag en datum van Jesus se geboorte nie.

Terwyl die koms van Jesus tog ’n grootse oomblik in die geskiedenis van die mensdom was, maak die Skrif weinig van die dag en datum daarvan. Om die waarheid te sê, sal niemand vandag met sekerheid kan bepaal wat die datum van sy geboorte presies is nie. As ons afleidings kan maak, lyk dit selfs veel eerder in April-Junie te moes gewees het. Dit is dan somertyd in Noordelike halfrond.

Die datum wat vandag algemeen gebruik word om Kersfees te vier, nl. 25 Desember, staan ook onder groot verdenking:

1.
Die vroeë kerk het glad nie so ’n fees gevier nie. Keiser Konstantyn het, nadat die christelike geloof in die destydse Romeinse wêreld aanvaar is (325nC), verskeie heidense feeste ingevoer om dié godsdiens vir die heidene meer aanvaarbaar te laat wees. Die datum (25 Desember) kom daarom ook vir eerste keer op die Romeinse Almanak voor in die jaar 354nC as die geboortedag van Jesus!
2.
Destyds was die gangbare Romeinse godsdiens dié van die aanbidding van die Persiese songod, Mithra. In hierdie godsdiens is die 25ste Desember feesgevier vir die terugkerende winterson in die noordelike halfrond, (nl. die fees van die ooroorwinlike Son).
3.
Baie kulture het hierdie fees gevier:
Die Romeine het Saturnus op hierdie datum aanbid. Die Egiptenare aanbid die seun van Isis, die Grieke vir Apollo, Dionysus en Adonis. Die Arabiere aanbid die Maan. Die Saxons (Skandinawië) aanbid Thor, die god van oorlog. Die Engelse aanbid die Noorse god Balder en die Babiloniers vier die fees van Bacchus... ens.
4.
In die jaar 600nC het die Pous, Gregorius I, hierdie feesgety en sy gewoontes in die kerk ingevoer met die hoop om die christelike geloof te propageer!
Verder kan ons nog die volgende daarby voeg:
5.
Skandinawiërs het bome aanbid, die Egiptenare het die dadelpalm in die huis gebring as ’n godsdienstige ritueel, en in Rome het hulle dennebome in die huis gesit met geskenke en kerse as teken van geluk. So ook die Duitsers.
6.
Die Romeine het geskenke tydens hulle fees aan Saturnus uitgedeel, en Sinterklaas (St Nicolas of Kersvader) kom van die die bygeloof volgens ’n ou Noorse legende waar die godin Hertha in die vuurherd/skoorsteen verskyn het en geluk gebring het.
7.
Oor die algemeen het hierdie feeste gepaard gegaan met groot uitspattighede van ete en drank en kostuums.


DUS: Die fees van die kerse en liggies en bome het in sy wese nie veel met die geboorte van Christus te make nie en staan Kersfees in die algemeen onder die verdenking van afgodery en sinkretisme.

Luister ons dus na die Skrif waar dit handel oor die geboorte van Christus, gaan dit nooit om ’n opdrag om die verjaarsdag van Jesus te vier nie. In plaas van die DATUM te vier, gaan dit veel eerder om die DOEL van sy geboorte.

So lees ons teks ook:

1.
Dit was op die bepaalde tyd. Die volheid van die tyd. Presies soos God dit in sy ewige Raad bestem het. Dit was vervulling van eeue-oue beloftes.
2.
Toe het God sy Seun uitgestuur. Christus die Seun van God, self waaragtige God. Hy het dus nie op hierdie dag in Betlehem begin bestaan nie... maar hy was nog altyd daar, of soos Miga 5 skryf: “sy uitgange is uit die voortyd”, dws die ewigheid.
3.
Hy is gebore uit ’n vrou... dus plaas die apostel die klem op sy menswording en sy vernedering.
4.
Hy is gebore onder die wet. Hy sou die wet in ons plek gehoorsaam en ook in ons plek die straf van die wet kom dra.
5.
Vers 5 noem die doel duidelik: “om die wat onder die wet was, los te koop”.

Mat 20:28
So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense."

1 Pet 1:18-19
Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

6.
Die doel van hierdie opoffering van die Vader én offer van die Seun volg na die “SODAT” in vers 5 – “sodat ons as kinders van God aangeneem kon word”.

Die doel van sy geboorte en koms was dus die plaasvervangende lyde ter wille van ons redding. Om van slawe weer kinders van God te maak!

Die Skrif plaas dus die klem geheel en al op die vernedering van die Seun en op die vrug van sy offerande.

Dat Hy gebore is, mens-geword het, is ’n feit, maar dan gaan dit altyd om die rede en doel daarvan. Sonder sy geboorte was daar geen kruis nie, geen betaling nie. Kersfees laat ons nie by Betlehem stilstaan nie, maar verder kyk... na sy lyde, kruisdood en opstanding.

Maar nou, Hy het gekom en ons losgekoop met sy bloed. En die doel is die verandering van ons status:

Ons word kinders van God gemaak.
Slawe van die wet, word kinders van God!

Die dure prys wat die Vader betaal het was die gee van sy geliefde Seun. Die prys van die Seun was sy eie bloed, sy dood. Maar, daardeur het God ons as sy kinders aangeneem.

Hy red ons van die vloek van die wet, en seën ons met die ryke seën van kindskap en dus ook met die erfdeel wat kinders kry. Erfgename saam met Christus. Erfgename van die ewige lewe en vrede van God.

Die geboorte van Christus sou dus niks beteken sonder die kruisdood nie. En daar by die kruis van Golgota word die kerk gebore!

Want nou kan die Gees van God ons lewe verander en is ons nie meer slawe nie maar kinders, en ons kan met God praat ("Abba Vader”) en Hy sal ons hoor as ons Hom aanroep as ons Vader.

Geliefdes, as u dus besluit om wel Kersfees te vier, moet u baie goed nadink HOE en WAAROM u dit doen:

Volg ons eintlik maar net die tradisies wat uit die heidendom kom, en vier ons ’n oppervlakkige wêreldfesie (en is ons dus maar nog net kinders van die wêreld.. of kinders van die wind?)

OF

Sal ons wegbreek van die wêreldse sentimentaliteite, van Krismis en JingleBels,... en die klem plaas op ons kindskap en die nuwe lewe? Sal ons wegbreek van ons wêreldse denke en ons eie wettiese geloof, en eerder jubel oor die vrymaking wat Christus gebring het?  Sal ons jubel oor die feit dat God sy Gees in ons harte uitgestuur het, en ons laat lei deur sy Gees?

Want hierdie nuwe gees is nie van die wêreld nie. Nee, ons staan in ’n nuwe verhouding waarin God ons Vader is en Hy ons sy kinders noem.

Laat ons dus nie by ’n dag en datum en ’n kripbeeld van Betlehem gaan stilstaan nie, maar elke dag groei na Christus toe en ons lewe verander onder die krag van sy Gees.

Laat onskersfees (let op my aanhalingstekens) dan eerder een wees waarin ons weer goed sal nadink oor ons sonde, en verlossing en die genade waaraan ons deelgekry het en God daarvoor dank.

Laat ons die stryd tussen hemel en hel (wat Christus aangeknoop het met sy koms - geboorte én dood én opstanding) saam stry, soos kinders wat weet dat ons die oorwinning in Christus het – anders as die wêreld, nuwe mense, nuwe gees. Kinders van God!

DUS:

Laat ons in hierdie feestyd meer aandag gee aan ons verhouding met Christus (onsself gee as offer aan God), as aan die koop van geskenke vir mekaar. (Wyse manne het geskenke vir Hom gegee, nie vir mekaar nie!)

Laat ons besef Jesus is die lig van die wêreld, en ons kan as sy kinders ons lig laat skyn, eerder as die kersliggies wat die tydelike en oppervlakkige wêreld bied.

Laat ons in plaas van kersbome liewer aandag gee daaraan dat ons soos bome sal wees wat vrug dra, die vrug van die Gees, omdat ons dag en nag soos bome is wat by waterstrome geplant is (Ps 1).

Laat ons in hierdie tyd dink aan die minderbevoorregtes en die armes, soos God aan ons in ons nood gedink het... en nooi hierdie Kersfees iemand wat niks het nie, uit na julle feesmaal!

En laat so die goeie bedoelings wat ons het met Kersfeesviering nie by een dag en datum in die jaar bly nie... maar laat dit jou elke dag bepaal, want Christus is nie net hierdie één dag belangrik nie, maar elke dag en dan tot in alle ewigheid!

"ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê."
(Gal 2:19b-20)

Amen.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css