Die Weg

Kersfees - God aan die Woord
Hentie Krüger
www.midweek.co.za

“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien‚ die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het‚ vol genade en waarheid.”

— Johannes 1:14 —

JP Versteeg skryf in Bybeloverdenking dat dit lyk of Johannes in sy evangelie heeltemal niks oor Jesus se geboorte sê nie. Dit‚ sê Versteeg‚ is egter nie waar nie. Al ontmoet ons nie vir Josef en Maria‚ Sagaria en Elisabeth in hierdie verhaal nie‚ al is daar geen herders op die ope velde en geen wyse manne wat Jesus besoek nie‚ skryf Johannes in een sin waaroor dit in Jesus se geboorte gaan (Joh. 1:14). Oor hierdie sin het Calvyn gesê: “Hoewel die evangelis hierdie onuitspreeklike verborgenheid‚ naamlik dat die Seun van God die menslike natuur aangeneem het‚ kortliks aanroer‚ is dit selfs in hierdie kort sin wonderlik duidelik.” Die Kersverhaal word in Johannes 1:14 opgesom. Die Woord het mens geword! Johannes is die enigste Bybelskrywer wat Christus die Woord noem. Hoekom?

Daar word verskillende antwoorde gegee. Die aanneemlikste is dat Johannes geweldig beïndruk was deur die Ou-Testamentiese voorstelling van die krag‚ die uitwerking en die skeppingsmag van God se woord. In Psalm 33:6‚ 9 staan byvoorbeeld: “Deur die woord van die Here is die hemele gemaak … Hy het gepraat en dit was so‚ Hy het beveel en dit was daar.” Net so kragvol en skeppingsmagtig as God se woord‚ wil Johannes sê‚ is Christus ook. Daarom is Hy die Woord van God‚ die éintlike Woord‚ die grootste‚ diepsinnigste en wonderlikste Woord van God‚ die Woord wat lewe en lig bring en waardeur God met ons praat (Hebreërs 1:2).

Woorde per se is iets heel besonders. Dit gee uitdrukking aan wat in jou binneste omgaan‚ wie jy is en hoe jy voel. Deur jou woorde openbaar jy iets van jouself aan ander mense. Jou woorde “verraai” jou. Maar ons weet ook hoe ontoereikend menslike woorde kan wees. Ons kan soms nie woorde vind wat werklik uitdrukking gee aan die diepste emosies van ons hart nie. Dan voel ons dat ons maar net kan stotter en stamel. Ons kry nie gesê wat ons so graag wil sê nie.

Met God is dit nie so nie. Hy het in een enkele Woord (Christus) alles gesê wat Hy wou sê‚ in een enkele Woord Homself volledig uitgedruk. In daardie Woord lê sy diepste gedagtes. Daarmee sê Hy hoe Hy oor ons dink en hoe lief Hy ons het. Met daardie Woord maak Hy sy hart vir ons oop.

Johannes het seker ook aan die Hebreeuse woord vir “woord” gedink: dabar. ’n Kenner beskryf die betekenis van dabar so: dit wat van iemand uitgaan en waardeur hy homself laat ken. Dit is presies wat Christus is. Hy is die Woord wat van God uitgaan en waardeur God Homself laat ken. Johannes skryf dat Christus‚ wat self God is‚ en die naaste aan die Vader is‚ God bekend gemaak het (Joh. 1:18). Letterlik: Hy het God ge-eksegetiseer (uitgelê) of verklaar. Hy is die Woord van God.

Die ooreenkoms tussen Johannes 1:1 en Genesis 1:1 is opvallend. Johannes het dit waarskynlik doelbewus so beplan dat die begin van sy Evangelie en die begin van Genesis dieselfde is. Dié boeke begin met: “In die begin …” In al twee gaan dit oor die spreke van God. In Genesis 1 lees ons telkens: “God het gesê …” In Johannes 1 bereik dit wat God sê ’n klimaks as Hy sy groot‚ allesomvattende Woord‚ Jesus Christus‚ die wêreld instuur.

Dit is juis in Genesis 1 dat ons leer dat God se woorde anders as mense se woorde is. As God praat‚ gebéúr daar dinge‚ ontstaan daar nuwe dinge. Hy sê: “Laat daar lig wees‚” en daar is lig. Wat Hy sê‚ gebeur. Sy woord is skeppingsmagtig want dit bring tot stand wat voorheen nie daar was nie.

So is dit ook met Christus‚ die WOORD VAN GOD. Daar sit onmeetbare krag in hierdie Woord‚ krag om‚ soos God se woord by die skepping‚ iets nuuts te skep en ’n nuwe begin te maak; krag om in ons chaos in te daal en orde te bewerk. Paulus skryf (letterlik) in 2 Korintiërs 5:17 dat iemand wat aan Christus behoort‚ ’n nuwe skepping is. Christus‚ God se Woord‚ bring nuwe skeppinge‚ nuwe mense‚ tot stand.

Soos God‚ deur sy woord‚ lig oor die donker wêreld gebring het‚ bring Christus lig in donker harte. Ja‚ Hy is Self die ware lig wat elke mens verlig (Joh. 1:9).

Die wonder is egter dat God wil hê dat hierdie Woord nie net gehóór moet word nie‚ maar dat Hy ook sigbaar en tasbaar gemaak moet word. Johannes skryf: “Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja‚ ons het … met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord‚ die Lewe” (1 Johannes 1:1).

Om dit moontlik te maak‚ het God besluit om iets te doen wat nooit in die hart van ’n mens sou opgekom het nie‚ maar wat Hy gereed gemaak het vir dié wat Hom liefhet (1 Kor. 2:9). Johannes beskryf hierdie gebeurtenis met ’n paar sober woorde: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14). Ons kom nou by ’n punt wat spesiale aandag verdien. Ons moet “proe” watter mooi betekenis‚ watter diepte daar in dié woorde skuil. Die Grieks sê hier letterlik: die Seun van God het onder ons kom “tent opgeslaan.” Met hierdie woorde haak Johannes die wonder van die menswording van die Seun van God‚ aan Israel se trek deur die woestyn vas.

Ons ken die woord “tent” as uitdrukking vir: ’n tydelike woning op aarde. Die aartsvaders‚ byvoorbeeld‚ het in tente gewoon. Hulle moes leer dat die beloofde land nog nie bereik is nie. Elke dag weer moes jy jou tente afbreek en verder trek. Die apostels gebruik dié woord dan ook as beeldspraak vir die sterflikheid van ons liggaam. “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word‚ ons ’n gebou van God het” (2 Kor. 5:1‚ 4; vgl. 2 Pet. 1:13). Sterflikheid‚ tydelikheid: is dit wat Johannes oor Jesus as die Seun van God aan ons wil oordra? Nee. Dat die Woord sy tent onder die mense opgeslaan het‚ wys terug na die geskiedenis van God met sy volk.

Toe Israel in tente gewoon en deur die woestyn getrek het‚ het God mos saamgetrek! En‚ wat was al die jare die hart van die tentekamp? Die tent van die samekoms! Ja‚ God het ook‚ by wyse van spreke‚ ’n “tent” gehad. Daar kon die volk die Here ontmoet. In Eksodus 29:42 lees ons van die lammers wat in die môre en teen die aand geoffer moes word. Twee keer per dag moes ’n lam geoffer word “by die ingang van die tent van die samekoms‚ voor die aangesig van die Here‚ waar Ek met julle sal saamkom om daar met julle te spreek.” So was die Here al die jare saam met sy volk op pad: met ’n tent‚ soos hulle. Naby en bereikbaar.

Dit is waaraan ons herinner moet word wanneer ons hoor: nou het die Seun van God mens geword “en onder ons Sy tent opgeslaan.” Die Here het al eerder (op reis saam met Sy volk deur die woestyn) “onder ons gewoon en sy tent opgeslaan.” Maar nou het God op ’n nuwe manier na sy volk gekom: God‚ die Seun‚ het mens geword! Hy is inderdaad Immanuel! Jesus is nie net ’n teken van God se teenwoordigheid soos die tent in die woestyn nie. Hy is die enigste Seun van die Vader. Hy is die unieke‚ onherhaalbare teenwoordigheid van God. Uiteraard gryp dit ook vooruit na die dag wanneer God se woonplek by die mense sal wees – wanneer alles nuut sal wees!

God kan nie swyg nie – Hy praat met ons op die golflengte van Christus. Hy praat sy hart uit. Ferdinand Deist sê in Dade kan alles verander dat ons ook moet onthou: “God is lig en Sy woorde maak lig. En toe die lig daar is‚ kon die mense en die diere en die plante op aarde verskyn‚ want toe was daar lewensmoontlikhede en lewensruimte. As God praat‚ word die sinloosheid en onbruikbaarheid van die ewige nag deurbreek en word die woelende watermassa meteens bruikbaar en bewoonbaar. God se skeppingswoord‚ God se skeppingslig‚ het ’n liggaam gekry‚ die liggaam van Jesus van Nasaret. Deur Hom het die Skeppingslig weer gedaag en in Hom kan ons sien wat die lig van God in der waarheid beteken as dit in ’n mens se lewe gestalte kry. Waar hy ook al gaan‚ bring Hy lig‚ bring Hy lewensruimte en lewensvreugde. Elkeen wat met Hom in kontak kom se lewe kry nuwe sin en betekenis: Saggeus‚ Nikodemus‚ Maria Magdalena‚ Petrus‚ Tomas‚ almal. Oral is Jesus besig om God se skeppingslig aan te steek.

Gedurende hierdie feestyd dink ons dan weer heel besonder daaraan dat Jesus as God voor ons staan. Die Een wat van ewigheid af bestaan het‚ het mens geword. Die Kersboodskap is daarom ook soos ’n afloswedloop. Ons moet die stokkie aangee. Die verhaal van Jesus se geboorte mag nie by ons eindig nie. Ons moet weer soos kinders opgewonde aan die babbel raak oor die “wonder van God in die stad Betlehem”‚ soos die bekende Kersliedjie lui. Ons moet ander ook opgewonde en bly maak oor dié wonder. Die apostel Johannes het dit gedoen‚ en nie net sodat ánder bly kan wees nie! Hy skryf: “Hom wat ons gesien en gehoor het‚ verkondig ons aan julle‚ sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê … sodat ons blydskap volkome kan wees!” (1 Joh. 1:3-4).

Ons het immers veel meer as boompies en liggies‚ poppe en treintjies gesien wat ons bly kan maak. Ons het God gesien.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css