Die Weg

Wat is wysheid?
Gerrit Kruger
www.gkcenturion.org.za

Ons heg aan die woord wysheid, KENNIS, wat dan gebruik word om in die lewe sinvolle besluite te neem.

Ons beskou mense wat ver in die lewe gekom het as wyse mense. Mense met geleerdheid, hetsy matriek, grade of diplomas is wys of slim. So beskou ons mense van aansien dikwels as wys. Dikwels dig ons ook wysheid toe aan mense wat baie geld het, wat mag het, wat dinge in die samelewing laat gebeur.

Ons kry motiveringsprekers wat met ons kom praat en motiveer oor hoe ons die lewe moet sien of moet leef.

Dink maar aan hoe slim en wys het ons geword met die tempo waarteen kennis vermeerder en die beskikbaarheid van rekenaars en die Internet.

Ons sê die wêreld het klein geword. Dit is niks meer om oor die hele wêreld heen te vlieg nie. Hoeveel mense werk in die week in Engeland, Europa, Amerika, Australië, Nieu-Zeeland, Afrika of in die Ooste en naweke is hulle terug hier by hulle gesinne?

Met ons wysheid en kennis het die aarde klein geword! So word ons vandag baie slim en wys in ons eie oë, en dalk ook tereg.

Maar ons moet versigtig wees, want ook die Jode en Grieke in die tyd van Korinte het baie wys geword en het gedink dat hulle al die antwoorde gehad het. Die aardse wysheid het ook die gemeente van Korinte binnegedring en nou waarsku Paulus die gemeente oor wat werklike wysheid is.

Korinte

Die kerk van Korinte was ‘n kerk met baie verval en sondes. Baie lidmate was skuldig aan

seksuele immoraliteit,
sommige het drankprobleme gehad,
ander het die genade van God misbruik om steeds wêrelds te lewe,
ander het in partyskappe verval.

Korinte was ‘n geestelik besoedelde stad waar geld en wêreldse plesier geseëvier het. Dit was ‘n belediging om vir iemand te sê: Jy is ‘n Korintiër!

Maar Korinte was ook ‘n trotse stad, waar daar baie gefilosofeer is en waar geleerdes hulle geleerdheid verkondig het.

Daarom dat die evangelie nie suiwer verkondig is nie. Want die suiwerheid van die evangelie hang nie af van wie die prediker of die geleerde is wat dit verkondig nie, maar dat wat jy verkondig, in opregtheid en eerlikheid in ‘n persoonlike verhouding met God geskied! Dit gaan oor die suiwere verkondiging van die Woord.

“Dit was die bedoeling van God, in sy wysheid, dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.” (1 Kor 1:21)

Die Jode het naamlik geglo dat iemand wat aan ’n kruis sterf, vervloek is (Deut. 21:23). Die kruisiging het hulle finaal daarvan oortuig dat Jesus nié die Messias kon wees nie. Selfs Jesaja 53 kon hulle nie daarvan oortuig dat die komende Messias ’n lydende Messias sou wees nie. Daarby was die Jode altyd op soek na tekens (v. 22).

Die Jode het opgegroei in die tradisie dat God Hom telkens in hul geskiedenis deur tekens openbaar het, bv.

Gideon met die wolmatjie,
Moses en die brandende doringbos,
Jona in ’n vis,
Daniel in die leeukuil ens.

Die Jode is ook diegene wat Jesus om ’n teken gevra het om daardeur te bewys dat Hy wel deur God gestuur is. (Mat 12:38 ev)

Die Grieke het weer die boodskap van Jesus Christus as gekruisigde, as onsin belewe. Hulle was intens geïnteresseerd in gesofistikeerde, intellektuele argumente en in slim redevoeringe. Vir hulle was kennis, intellek, bewysvoering en logika van die allergrootste belang. Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle denkers is en moes dus op intellektuele vlak benader word. Daar moes bewys word dat hierdie nuwe leer van Christendom, belangriker is as die bekende filosofie wat hulle destyds gehad het.

Paulus sê egter in 1 Kor 2:1-5 hoe hy na hulle toe gekom het: “Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.”

Daarom dat Paulus baie duidelik stel wat dit is wat hy verkondig: (1 Kor 1:22-25) Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

Wat beteken dit dat Jesus die krag van God en die wysheid van God is?

Christus is vir die wêreld onsin! Die kruisdood van ‘n Man is dwaasheid en onmenslik vir die wêreld. Die verlossing deur een Man is vir die wêreld onmoontlik!

Vir die wêreld is die geleerdheid van mense die alfa en die omega! Vir die wêreld raak die kerk en sy boodskap irrelevant!

So skryf Paulus aan die Korintiërs in 1 Kor 1:26-29: Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.

So stel Paulus dit baie duidelik dat God nie mense met aansien, of rykdom, of geleerdheid of wysheid nodig het, om die evangelie uit te dra en Hom te dien nie. God vra opregte, eerlike mense wat net die Woord van God suiwer uitdra. God vra dat Jesus Christus as gekruisigde, as opgestane en as verheerlikte God verkondig word.
Ja al verstaan ons dit nie altyd nie, glo ons dit, bely ons dit en leef ons daarvolgens.

Hoekom is Christus die krag van God? (dinamus in grieks)

God se krag word baie in Paulus se briewe genoem. Die hele skepping is die openbaring van God se krag.
Romeine 1:20: Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie.

Maar God se groot krag is geopenbaar in die kruisiging en die opstanding van Jesus Christus. Dit beteken dat in Hom en deur Hom, God sy krag en almag geopenbaar het. Jesus is gekruisig, begrawe en het na drie dae opgestaan.

Onlogies vir die menslike verstand.
Onverklaarbaar, onuitredeneerbaar, maar waar.
Daar is oog en oor-getuies daarvan.

Die krag lê daarin dat, voordat Christus gekruisig en begrawe en opgestaan het, was ons dood in die sonde. Ons kon die sonde nie oorwin nie. Ons lewe was en is sondig.

Nou het Christus dit volkome vervul in ons plek. Dit is die krag van God in Christus! Nou heers die sonde nie meer oor ons nie, maar ons kan oor die sonde heers vanweë die oorwinning in Christus. Ons het ook die Heilige Gees ontvang wat ons beheers. “Dus is ons geloof nie gegrond op die wysheid van mense nie, maar op die krag van God.” (1 Kor 2:5).

Ten Slotte (Rom 1:16): Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: "Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe."

Moet u daarom nie onstel oor mense, geleerdes, komediante of wie ookal wat met God en sy gebod spot nie. Moet u nie ontstel oor diegene wat nie wil glo nie. God sal sy kinders altyd bewaar. God sal sy kinders veilig na Hom neem op sy tyd.

Die wysheid van God, is om te glo in Jesus Christus as die gekruisigde, as ons Verlosser, as die krag en wysheid van God.

In 1 Kor 1:19 sê God: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css