Die Weg

Dooie bene kry lewe
Hentie Krüger
www.midweek.co.za

“Die Here sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here‚ droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

— Esegiël 37:4-6 —

Dit is die jaar 597 vC. Die Babiloniërs het Palestina binnegeval en deporteer die eerste van drie groepe mense (ongeveer 10 000 mense). Onder hulle was ’n jongman van 25 jaar. Sy naam is Esegiël. Dit beteken‚ “Die Here versterk.” Aanvanklik het hierdie groepie gedink dat hulle binnekort sal terugkeer na hulle geboortegrond. Maar die jare skuif aan en 27 jaar later is Esegiël ’n man van 52 jaar en nog steeds in Babilonië. Ons vind hom tussen die ballinge in Tel-Abib by die Kebarrivier in Babilonië. In hierdie tyd praat die Here met die Israeliete met behulp van Esegiël deur middel van visioene. Een daarvan is dié van die gelykenis van die droë bene in die laagte.

Party mense beskuldig Esegiël daarvan dat hy aan katalepsie ly. Eenvoudig gestel‚ hy is die kluts kwyt! Stel jou dit voor. Hy loop om die bene‚ tussen hulle en preek vir hulle‚ “Hoor die woord van die Here‚ droë bene!”

Hierdie beeld van die laagte vol doodsbeendere is simbolies van die volk van die Here wat‚ soos ons gesê het‚ in daardie stadium in ballingskap in Babilon sit. Die verlies van hulle land‚ hulle geliefdes‚ hulle koning‚ hulle tempel en die heilige stad Jerusalem was vir hulle ’n ervaring soos die einde van die wêreld wat aangebreek het – asof alles wat eens sinvol was‚ nou sy sin verloor het.

Die gevaar van so ’n situasie‚ of dit nou benouende omstandighede of in ’n tyd van geestelike of emosionele doodsheid‚ is dat ons vergeet wie die Here is. Dit is presies wat Esegiël vir sy volksgenote in hulle tyd van krisis kom sê – onthou wie God is. Julle wat hoop verloor het‚ julle wat nie meer in wonderwerke glo nie. Julle het vergeet met wie julle te doen het. God is ’n God van lewe wat die onmoontlike moontlik kan maak. Hy kan selfs lewe uit die dood skep.

Meer nog: God is ook genadig – Hy ontmoet mense waar hulle is. Psalm 40:2 sê: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.” God ontmoet mense waar hulle is – vir Israel in ’n tyd toe hulle net kon sê dit is klaar met ons‚ ons het geen hoop meer nie. Vir my en jou ontmoet Hy ook in ons grootste krisis en diepste hartseer. Wanneer ons hulpeloos en magteloos is‚ word Sy mag sigbaar in ons lewe‚ want Hy is God en nie ’n mens nie. Hy gee nie op of oor as ons opgee en oorgee nie. Hy sal ons optel waar ons geval het of deur ons eie hardkoppigheid self beland het‚ en deur Sy genade altyd weer oor met ons begin.

Nou is dit die jaar 2010 en hier sit ek in Bultfontein in die Vrystaat. Die land waarin ons leef is as een van die mees gewelddadigste lande ter wêreld geklassifiseer. Daar heers onrus en vrees. Hierdie groepie mense aan wie ek skryf is Christene. Hulle ken die Here en dien Hom. Hulle het almal Bybels. Hulle noem dit “die Woord van God”, want hulle glo dat die Here God steeds vandag vir hulle ’n boodskap opgeteken het in hierdie Boek.

En ook in Suid-Afrika is daar hoop en wanhoop. Ten spyte daarvan dat die land besig is om te verarm‚ kos skaars word‚ mense afgedank word‚ werkloosheid toeneem‚ voedselpryse die hoogte inskiet‚ vigs toeneem‚ moorde‚ huisinbrake‚ politieke onstabiliteit‚ korrupsie‚ wetteloosheid‚ liefdeloosheid‚ eiewaan‚ leë kerke en ’n osoonlaag wat in gate val‚ … is daar hoop! Want ons is mos Christene. Ons weet mos dis net uit genade alleen dat die Here ons uit ons sondes kom red het‚ ons uitgesoek en hier bymekaar gebring het. Ook vir ons is daar hoop in wanhoop. Hoekom?

Ons het die grootste Troos en Hoop in hierdie siek‚ onvolmaakte en gebroke wêreld. Ons het God se Gees‚ want ons is kinders van God.

Maar wat beteken hierdie hoop prakties?

In hierdie verband sou ons kon dink aan die gelykenis van die verlore seun. Toe hy nog in sy pa se huis was‚ het hy gehoop dat hy sy vervelige lewe een van opwinding en plesier kan maak. Hy doen wat hy kan om dit te realiseer. Hy vra sy pa vir sy erfporsie en gaan weg. Sy hoop word ’n werklikheid‚ maar net vir ’n kort tydjie. As hy dan later tussen die varke sit en sy situasie in alle opsigte uiters haglik is‚ hoop hy weer. Weer voeg hy daad by die woord. Die ontvangs by sy pa se huis is veel groter as waarop hy gehoop het. Hy het gehoop om soos ’n slaaf behandel te word‚ maar word ontvang soos ’n belangrike eregas. Dink net wat sou gebeur het as daar by hom geen hoop was toe hy tussen die varke gesit het nie; of as hy maar passief gehoop het en sy hoop hom nie tot die daad aangespoor het nie.

Die gelykenis sê nog iets oor hoop. Hoop word nie net uit ’n situasie gebore nie. Hoop gaan nie net om die situasie en veral jou eie posisie in die situasie nie. Hoop het ’n anker nodig. Hoop hang nie in die lug nie. Dit is gebaseer op iets waarvan die mens seker is. In die geval van die verlore seun het sy eerste verwagting nie end-uit gematerialiseer nie omdat hy iets nagestreef het en op iets gehoop het wat nie op vaste fondamente gestaan het nie. Sy tweede verwagting was gebaseer op sy kennis van sy pa.

Hy het geweet sy pa sal hom nie wegjaag nie. Hy het geweet die posisie van sy pa se slawe was baie beter as die waarin hy hom op daardie oomblik bevind het. Hy het sy pa geken – dit was die anker van sy hoop. Oor hierdie hoop kan ons ons verheug!

Swaarkry is die instrument waarmee God die hoop wat Hy in ons gelê het‚ lewend hou! Want die swaarkry kweek volharding. As jy swaarkry‚ bly jy soort van op jou knieë en is jy oomblik vir oomblik bewus hoe afhanklik jy van die Here is. En dis dié naby-die-Here-leef wat egtheid van geloof kweek.

Geloof is baie meer as ’n verstandelike instemming met ’n klomp mooi waarhede. Dis ’n vir-lewe-en-dood-vasklou aan die Here. Só ’n geloof kweek hoop. Jou ervaring van God se genade gee vir jou moed en vertroue vir die pad vorentoe. Jy kan te midde van swaarkry die pad na môre aandurf want jy word geborg deur God se onverganklike liefde. En dit is ’n lewende hoop. Of‚ soos Paulus sê‚ ’n hoop wat nie beskaam nie.

Hoop is nie ’n droom oor die letterlik onbereikbare nie. Hoop is om te huil oor die seerkry van vandag maar met die hand aan die ploeg en die oog op ’n beter môre. As dit vir jou voel asof alles in duie stort; of jy voel soos ’n bondel bene wat nie meer kans sien om te lewe nie‚ dan wil God jou kom troos met die Grootste Trooster van alle tye‚ met sy Heilige Gees. Die boodskap van die Here is: “My kind‚ daar is hoop! God se Gees laat jou lewe! Hier en nou!” Moet dit nooit vergeet nie.

Esegiël 37 herinner ons dat God nie sy heerskap en koningskap geabdikeer of opgegee het nie. God het ’n plan vir die wêreld‚ vir jou en my lewe. So vasbeslote is God oor sy plan vir die wêreld en vir jou en my lewe dat Hy bereid is om sy Seun se lewe daarvoor te gee. Voor Johannes se geboorte getuig Sagaria‚ die pa van Johannes die Doper‚ oor Hom die Messias wat moes kom: “Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal‚ om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe …” Psalm 23 in die OAV sê ook: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee‚ ek sal geen onheil vrees nie‚ want U is met my; u stok en u staf dié vertroos my.” Of soos die NAV lui: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes sal ek nie bang wees nie‚ want U is by my. In u hande is ek veilig.”

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css