Die Weg

Die Bybel? Hoe nou?
Jan Brink

Ons ontvang soms eposse van medegelowiges by Dié Weg wat vrae het oor die samestelling van die Bybel en waarom alles daarin is wat daarin is. Ek wil met hierdie artikel poog om ‘n algemene antwoord op die vrae te verskaf.

Die Bybel begin by die skeppingsverhaal (Genesis) en eindig met die profesie van die apokalips of die eindtyd (Openbaring). Tussen Genesis en Openbaring beskryf dit God se weg met die mensdom, wat Hy vir ons mense doen en wat Hy ook van ons terugverwag. Die Bybel is dus volledig want dit dek die hele tyd wat die mens die aarde sal bewoon.

As ‘n mens die boeke van die Bybel lees, kom jy agter dat die inhoud nie altyd op dieselfde manier aangebied word nie. Elke boek van die Bybel is in die konteks van sy tyd vir sy hoorders geskryf (die mense wat kon lees was maar weinig). Daarom vind ons ook baie beeldspraak (metafore en personifikasies) in die Bybel, soos in die eerste hoofstukke van Genesis en in Openbaring. Jesus Christus het self van beeldspraak gebruik gemaak omdat dit makliker verstaanbaar was. Markus 4:33 “En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan”.

Die laaste gedeelte van die Bybel is baie meer filosofies en veral Openbaring was bedoel om geslote te bly totdat die mens daardie intellektuele volwassenheid sou bereik om die boodskap daarin te kon verstaan. Dit is: aan die einde van die tyd wanneer die dinge waaroor daar geskryf is, moet gebeur. Alhoewel dit bykans 2000 jaar gelede geskryf is, het dit betrekking op die gebeure van vandag en daarom is dit eers in die laaste paar dekades dat daar baie meer aandag aan die inhoud van Openbaring gegee is. Dit was profetiese woorde wat vandag in plek begin val.

Samestelling van die Bybel

Die Bybel bestaan uit twee dele of testamente. Hierdie testamente word ook verbonde genoem. Dit handel oor die verbonde wat God met Sy mense opgestel het. Ons sien ‘n voorbeeld van so ‘n verbond tussen mense by Dawid en Jonatan in 1 Samuel 18:3 “ Jonatan en Dawid het ‘n verbond gesluit omdat Jonatan hom (Dawid) liefgekry het soos homself”.

Die Ou Verbond

Die Ou Verbond is die verbond wat God met Abraham en sy nageslag gemaak het. Met hierdie verbond beloof God dat die nageslag van Abraham die land Kanaän sou beërwe om dáár in Sy teenwoordigheid, oor al die geslagte heen, in vrede en voorspoed te lewe. Na Israel se vertrek uit Egipte sien ons dan ook hoe God self die wette instel om ‘n ordelike samelewing te skep waar Hyself die Heerser oor Sy volk sou wees.

As ons egter verder lees, dan sien ons hoe hierdie volk later in Kanaän besluit het dat hulle eintlik hulleself wil regeer. (1 Samuel 8:6-7) ‘Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: "Gee ons tog ‘n koning om oor ons te regeer." Samuel het tot die Here gebid, en die Here het vir hom gesê: "Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het My verwerp as koning oor hulle’.

Ons sien ook hoe Koning Salomo die verbond verbreek sodat God die Koningryk van Israel in twee skeur nl Israel wat uit Samaria regeer word en Juda wat uit Jerusalem regeer word. Desnieteenstaande laat alle agtereenvolgende regeerders vir Israel en Juda al verder van God afdwaal om agter afgodery aan te loop tot op dié punt waar God besluit om Sy volk tot orde te roep. Die volk het van hulle kant die verbond verbreek. Deur Sy profete (Jesaja, Jeremia en andere) kondig Hy die swaar straf oor Sy volk aan. Die land Kanaän sal verwoes word en die volk sal weggevoer word. Jerusalem en die tempel sou vernietig word, en so ook alles wat die volk as heilig beskou het. Met dié straf is daar ook ‘n bevel: die volk moet hom aan die straf onderwerp. Dié wat hulle aan die straf onderwerp se lewens sal gespaar bly alhoewel hulle al hulle aardse besittings sou verloor. Hulle moes hulle aan die nuwe heersers wat God oor hulle gestel het, onderwerp.

(Jer 27:7 - 11) Al die nasies sal hom dien, hom en sy seun en sy kleinseun, totdat ook die dag vir sy land sal kom, en dan sal baie nasies en sterk konings hom onderwerp.
Die nasie of koninkryk wat nie vir koning Nebukadnesar van Babel wil dien en onder die juk van Babel se koning wil buig nie, sal Ek met oorlog en met hongersnood en met pes straf, sê die Here. Ek sal hulle uitroei deur Nebukadnesar.
Julle moenie luister na julle profete, julle besweerders, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie.
Dit is vals profete wat vir julle optree, en daardeur sal julle ver weggevat word uit julle land uit. Ek sal julle verban en julle sal omkom.
Maar die nasie wat onder die juk van Babel se koning buig en hom dien, sal Ek in sy vaderland laat bly, sê die Here, en hy sal sy land bewerk en daar woon.

Alhoewel God Sy volk swaar straf, kondig Hy ook aan dat Hy nie Sy volk totaal gaan vernietig nie. ‘n Klein klompie uit Juda sou oorbly wat weer na die beloofde land kon terugkeer. Die tempel sou weer herbou word. Hy het immers reeds beloof om ‘n Nuwe Verbond met die mensdom te sluit. ‘n Sterker en groter verbond wat nie net vir die Jode sou geld nie, maar ook vir die hele mensdom. Onder die Nuwe Verbond sal daar ‘n nuwe Regeerder wees:

(Miga 5:1) Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!

Die Bybel beskryf vir ons dan die vernietiging van Israel en Juda en hoe die volk in ballingskap weggevoer word. Ons lees verder ook van die terugkeer uit die ballingskap en die herbouing van die tempel.

Dit is dan ook ongeveer waar die geskiedenis van Israel in die Ou Testament van die Bybel eindig. Dan volg daar ‘n tydperk van ongeveer 400 jaar wat nie in die Bybel verhaal word nie. Dit staan ook bekend as die tyd van die Makkabeërs.

In kort kan die Ou Testament dus opgesom word as:

die verhaal van die skepping,
die sondige verval van die mensdom,
God wat vir Hom ‘n volk uitgesonder het waarmee Hy ‘n verbond aangegaan het,
die uittog uit Egipte, die instelling van die wette, die reis deur die woestyn en die besetting van die beloofde land,
die verwerping van die verbond deur die volk,
die straf wat daarop gevolg het,
die begenadiging van ‘n klein klompie mense
en dan ten laaste, profesieë van ‘n Nuwe Verbond en die apokaliptiese eindtyd soos wat dit ook in Openbaring van die Nuwe Testament verskyn.

Die Nuwe Testament en die Nuwe Verbond

Die Nuwe Testament begin met die aankondiging van die geboorte van ‘n Middelaar tussen God en die mense soos wat dit reeds op verskeie plekke in die Ou Testament geprofeteer is (bv Miga 5:1). Iemand wat vir die mens by God kan intree. Nieteenstaande die feit dat die mens (Israel) God se verbond verwerp het, bly Hy steeds getrou aan Sy woord. God stel ‘n Nuwe Verbond in tussen Hom en die mens. Hierdie verbond word met bloed verseël. Die bloed van Jesus Christus.

Met die kruisiging van Jesus kom die Ou Verbond tot sy einde en tree die Nuwe Verbond in werking . Dit is die essensie van die Nuwe Testament. Dit handel nou oor die Nuwe Verbond wat nie net vir die volk Israel geld nie, maar alle mense wat Hy uit alle volke, tale en nasies gekies het.

Die vier evangelies (Mattheus, Markus, Lukas en Johannes) handel oor Jesus Christus se eerste koms na die aarde. Hier leer ons Hom ken soos Sy eie woorde aan ons oorvertel word. Die Handelinge van die Apostels vertel vir ons die geskiedenis van die ontwikkeling rondom die evangelie en die verspreiding daarvan na ander dele van die wêreld. Die res van die Nuwe Testament gee vir ons meer perspektief wat van ons, as begunstigdes van die Nuwe Verbond, verlang word. Die Nuwe Testament sluit dan ook af met die grootste profetiese boek in die Bybel. ‘n Boek waarvan die inhoud deur Christus self aan Sy apostel Johannes gegee is. Dit handel oor die eindtyd, wanneer die verbondskinders van God ‘n nuwe bedeling sal sien kom en ervaar. Dit is dié wat aan Sy verbond getrou gebly het. Dit sal alles gebeur met die wederkoms van Christus, nou nie meer as mens soos die eerste keer nie, maar in Sy verheerlikte voorkoms.

Parallellisme tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond

Lees ‘n mens die Ou Testamentiese geskiedenis noukeurig, dan sien ons hoe die volk Israel geleidelik wegdwaal vanaf die vereistes wat die verbond met God aan die volk gestel het. Hierdie vereistes was vasgelê in die wette van Moses soos dit in die Pentateug (eerste 5 boeke van die Bybel) omskryf is. Volgens die bevel van God moes dit van geslag tot geslag oorgedra word. Soos die tyd aangestap het, het die priesters begin om die wette te verwater en hulle eie wette daarby te voeg. Dit het sover gegaan dat die volk God en afgode saam gedien het. Die volk het begin om op hulle eie verfoeisels (sien Jesaja, Jeremia en Esegiël – Ou Vertaling) staat te maak. Die wetboeke van Moses het êrens in die tempel gelê en stof vergader. Net wanneer daar ‘n groot krisis was het een of ander heerser besluit dat dit dalk sou help om God deur een van Sy profete te raadpleeg . God vra egter volkome vertroue op Hom alleen .

In die regeringstyd van Koning Josia het die priester Hilkia weer op die wetboek in die tempel afgekom. Ons lees in 2 Konings 23:24 (Ou Vertaling) “ Ook het Josía die dodebesweerders en die waarsêers en die huisgode en die drekgode en al die verfoeisels wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei, om die woorde van die wet te bevestig wat geskrywe is in die boek wat die priester Hilkía in die huis van die HERE gekry het”. Dit het egter nie die godspraak oor Israel en Juda beïnvloed nie, want die hart van die volk was verrot. Die effek van die afgodery van die vorige heersers en die volk kon nie so maklik ongedaan gemaak word nie.

Die uiteinde van die saak was die verwoesting van Jerusalem en die tempel én die wegvoering van die Jode na Babel.

Die Nuwe Testamentiese geskiedenis is nie juis anders gesteld nie. Dit is nie alles in die Bybel opgeskryf nie, maar daarvoor het ons baie ander betroubare bronne. Die vertrekpunt is die 4 evangelies. Dit is die grondslag van die Nuwe Verbond en ons Christelike geloof. Stelselmatig het heidense godsdienste hulle invloed laat geld en het die mens begin om hulle eie interpretasies aan die verbond te heg. Die ganse menslike geslag loop die gevaar om dieselfde uiteinde van Israel en Juda te beleef. Is die geskiedenis van Israel en Juda ook profeties van die mense onder die Nuwe Verbond? Gaan daar ook net ‘n klein klompie wees wat die Nuwe Jerusalem sal kan binnegaan?

(Lukas 13:23-24 – Ou Vertaling) “Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie”.

(Mattheus 7:14 – Ou Vertaling) Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

(Openbaring14:9-13 – Nuwe Vertaling) ‘n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: "Wie die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar."

Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.

Toe het ek ‘n stem uit die hemel hoor sê: "Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe." "Ja," sê die Gees, "hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle."

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css