Sonder Ware Kennis, is die mens verlore
Bert Neethling
Ek lees elders op Dié Weg se webtuiste:
“Sonder kennis is daar geen begrip;
Sonder begrip is daar geen geloof;
Sonder geloof is daar geen hoop;
Sonder hoop is daar geen toekoms.”
Daar word ook verwys na al die kommervrae van die wêreld en die lewe wat swaar op die mens rus.
Ja, sonder kennis is die mens verlore. Ons lees in Jes 53:11, "deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak" Satan het egter oor die afgelope 2000 jaar die kennis wat God in die vorm van 'n mens, Sy Seun, as voorbeeld vir ons geloof aan die mensdom bekend gemaak het so verdraai dat die mens nie meer die Weg kan onderskei nie.
Hierteen het die apostels in hulle briewe aan die gemeentes reeds gewaarsku en gesê dat dit sou gebeur. Die profesie het waar geword soos al die ander profesieë in die Skrif.
God het nou, in hierdie laaste dae Sy kennis weer herstel sodat gelowiges uit Sy perspektief kan sien wat die doel en die sin van die lewe is. Paulus skryf hieroor aan die Kolossense in (1Kor 2:16) "Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus." Die KJV praat van "the mind of Christ" wat aan ons sê dat hulle dieselfde kennisinhoude aangaande die evangelie gepreek het as wat Jesus in Hom rondgedra en met hulle gedeel het. Dit is wat weer moet gebeur. Die mens moet soos God begin dink ten opsigte van geloof. Dit beteken dat die situasie wat nou bestaan, waar gelowiges hulle eie definisies aan die kernbegrippe van die evangelie toedig, herstel moet word.
Gelowiges moet weereens geleer word wat God bedoel wanneer Hy in die skrif deur Sy dienaars praat van begrippe soos genade, geloof, geregtigheid, regverdigmaking, heiligmaking, heiligheid, waarheid, God se liefde, vrede, rus, wedergeboorte, vernuwing van die verstand beteken.
God verwag nie van die mens die onmoontlike nie. Daarom kan die mens regverdig voor God staan, heilig voor Hom lewe en sodoende Sy ware vrede ervaar en in Sy rus ingaan as hy maar net weet wat God se definisie van hierdie terme is en hoe dit verder in en deur Christus vergestalt word. Dit is dié kennis wat vrymaak.
Dit is die werk van die duiwel dat soveel verskillende definisies aan hierdie begrippe gegee is, en wat die mens nie in staat is om te onderhou nie. Uit moedeloosheid het die mens 'n ander uitweg gevind, naamlik as ek God net liefhet, sal Hy my nie veroordeel nie. Net soos met die ander begrippe van geloof, het baie mense ‘n verkeerde interpretasie van God se liefde.
Jesus se, "As julle My liefhet, bewaar my gebooie". (Joh 14:15) Watter gebooie moet ons hou om te bewys dat ons Jesus liefhet. Jesus het tog nie gebooie gegee nie. Het Hy ons dan nie vrygemaak van die Wet van Moses nie? Al hierdie vrae en nog baie meer, hou die mens in 'n toestand van onsekerheid. Die onsekerheid veroorsaak diepliggende spanning wat op allerhande maniere tot uiting kom: senuongesteldhede, depressie, ongelukkigheid en wreedaardige optrede. Ek hoef nie nog te noem nie. Hier sien ons die vrug van die ongeregtigheid. Hoekom kan die gelowige nie sy vrese en "tekortkominge" oorkom nie. Die rede is omdat hy God in die vlees wil dien. (Daarop sal ek nie hier verder uitbrei nie.)
Wanneer ons ons eie betekenisse gee aan die elemente wat ek hierbo genoem het, maak ons vir ons elkeen 'n Christusbeeld volgens ons eie begrip van geloof, geregtigheid, heiligheid, vrede en God se liefde. God noem dit afgodediens, want ons is besig om ons eie "beeld" van Christus te aanbid.
God het nie Christusse aarde toe gestuur om vir ons te sterf nie maar Sy eniggebore Seun Jesus Christus. Die mens het egter oor baie jare geboorte gegee aan baie Christusse, Christusse wat hulle persoonlike aspirasies en beginsels waarop hulle hul lewens bou vir hulle moes bevestig ten einde "sy vrede" en "sy rus" te ervaar. Dit is ‘n ernstige saak. Die meeste mense sal dit ontken of ignoreer en maar hoop dat God na getalle of hulle vorm van liefde vir Hom sal kyk. Dit is aan hierdie mense tot wie Jesus die gevreesde woorde rig, "En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!" (Mat 7:23) Dit is die oomblik van finaliteit.
God is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde en sal nie Sy plan verander om by menslike voorkeure aan te pas nie. Hy het soveel vertroue in Sy plan vir die verlossing van die mens dat Hy persoonlik bereid was om bespot, gegesel en gekruisig te word. Hy het gesweer by Sy plan en sal nie menslike aspirasies en beginsels van geloof toelaat om Sy plan te verander nie. "Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met 'n eed gewaarborg" (Heb 6:17).
Die onveranderlikheid van God skep 'n lewende hoop in dié wat Hom dien in Gees en Waarheid, volgens die gebod van die Nuwe Verbond in Jesus Christus. Hulle weet, hulle hoef nie te raai of sommige dae "maar net te glo" (soos somtyds geleer word) nie. Hulle weet presies wat God van hulle verwag en geniet dit om in Sy teenwoordigheid te kom, want hulle kan deur Christus in geregtigheid voor Hom staan.
God was nog nooit 'n God van vaaghede nie, maar van eksakte feite. Ons sien dit in die opdragte aan Moses en Dawid ten opsigte van die bou van die tabernakel en die tempel. Hierdie was materiële tekens. Die hart van die mens is geestelik. Hoeveel te meer sal Hy NIE toelaat dat die mens die innerlike tempel sommer volgens sy eie verbeelding bou nie.
Die bose het egter deur met die mens se begeertes te simpatiseer, ons geloof vervaag sodat elkeen glo soos hy/sy wil. Dit is hoekom daar in die moderne wêreld soveel denominasies bestaan. Die situasie in die wêreld lyk soos met die koms van Jesus, toe Hy aan die vrou by die put gesê het, "Julle aanbid wat julle nie weet nie" (Joh 4:22).
Ons sien op die internet die volgende:
"Today in America, there are more than 1500 different faith groups professing many diverse and conflicting beliefs. It would be an understatement to say that Christianity is a severely divided faith."http://christianity.about.com/od/denominations/a/denominations.htm
en verder op:
Christianity Today - General Statistics and Facts of Christianity ...
Christianity is the largest religion in the world today. ... Number of Christian Denominations: There are approximately 38000 Christian denominations in the ... http://christianity.about.com/od/denominations/p/christiantoday.htm
Is dit God se doel dat "Christianity is a severely divided faith". Of is God inkonsekwent, of deurmekaar ten opsigte van wat Hy van die mens verwag? Nee, beslis nie, dit is die mens wat deurmekaar is as gevolg van die werk van Satan oor 2000 jaar. Hy het die mens geleer om 'n leuen van sy eie verbeelding te aanbid en dit Jesus te noem.
Dit is tyd dat eenheid in die kerk herstel word, nie deur menslike ekumeniese pogings nie, maar deur die eenheid wat die onveranderlike, ewig dieselfde Waarheid van Christus bring. (Joh 4:23) "Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid". God het in Sy liefde weer aan ons die geheimenis van Jesus se Nuwe Verbond-Wet van Gees en Waarheid bekend gemaak en dit is vry vir almal wat Hom met 'n opregte hart soek. Die waarheid gaan geen kompromieë aan nie, want dan word dit 'n leuen. (Mat 16:6) "Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs."
God se bruid kan nie verdeeld wees nie. Die getalle van ware gelowiges gaan baie, baie min wees (a remnant), want baie is geroep, maar min is uitverkies. Die wat hulleself te jammer gaan kry om te verander en die wat te trots is om hulle eie aspirasies en beginsels neer te lê, sal nie die vreugde ervaar van dit wat God in hulle lewens wil doen nie.
God het Sy waarheid aan die kerk bekend gemaak. Dié wat Hom reeds in Waarheid en Gees volg, ervaar Sy ware vrede elke dag, ongeag persoonlike of wêreldsomstandighede, hulle ervaar Sy vreugde, want elke dag word hulle meer en meer vrygemaak van die bande waarmee Satan hulle gebind het. Hulle ervaar hoe hulle persepsie van die lewe verander en ken die rede vir hulle bestaan en God se plan vir hulle lewens volkome. Hulle vrede is nie langer van aardse omstandighede afhanklik nie, maar van God se daaglikse lewende betrokkenheid in hulle lewens.
Die kennis van God is lewend en onuitputlik en Hy deel dit met dié wat Hom in nederigheid van hart soek. "daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade" (Jak 4:6).
"Geseënd is dié wat God dien in Gees en in Waarheid, want hulle word gevul met die kennis van God, wat die leuen van Satan ontbloot en ons vrymaak in Christus. Dit is die krag van die ware Lig".
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css