Die Weg

Die wederkoms van die Here
Hentie Krüger
www.midweek.co.za

Wag dan geduldig‚ broers‚ totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou‚ want dit is nie meer lank nie‚ dan kom die Here.”
— Jakobus 5:7-8 —

Jakobus roep ons op om te wag. Wag? Moet ons nog wag? Terwyl die wêreld totaal deurmekaar is? Terwyl VIGS besig is om die bevolking se getalle dramaties te verminder. Terwyl die aanslag van promiskuïteit hand oor hand toeneem? Terwyl dwelmmisbruik en misdaad hand uitruk? Terwyl die oseane besoedel word? TERWYL …? Al hierdie dinge is besig om te gebeur en Jakobus vra dat ons moet wag?

Wag waarvoor? En tot wanneer? Het dit nie eerder tyd geword dat ons self iets moet doen aan die dinge nie?

Nee. Kom ons gaan kyk daarna. In die vorige verse het Jakobus hom gerig op die konkrete situasie wat daar destyds by hom in die gemeente bestaan het. Hy het die rykaards wat in die praktyk van hulle daaglikse lewe van God en sy gebod niks wou weet nie‚ hard en op die man af aangespreek. Nou praat hy met die gemeente en dan kom hy nie met ’n leë trooswoord en sê: Hou moed of sterkte of elke donker wolk het ’n silwer randjie‚ nie.

Hy skryf vir sy lesers dat hulle geduldig moet wees en gee dan die rede waarom hulle geduldig kan wees: DIE HERE KOM! Dit gaan dus oor die wederkoms van die Here en Hy wil hê dat ons daarop geduldig moet wag.

Jy het opgelet dat ek gesê het hulle moet GEDULDIG wag. In hierdie verband moet ons ’n slag onthou dat die Here met ons GEDULDIG is. Hy wil nie hê dat sommige moet verlore gaan nie‚ maar dat almal tot bekering kom (2 Pet. 3:9). Die Here het nog nie sy doel met die tyd tussen die eerste en die tweede koms bereik nie – daarom het Hy nog nie gekom nie.

Jakobus het dus met reg sy lesers van destyds aangemoedig om geduld te beoefen totdat die Here kom. By hulle moes daar ook steeds ’n lewende verwagting wees. Die Here is bewus van die dinge wat met hulle gebeur en Hy sal op die regte oomblik ingryp en uitkoms gee as hulle op Hom vertrou.

Nog meer as dit: Christus sal op die daarvoor bestemde tyd weer op die wolke kom en sorg dat geregtigheid seëvier. Gelowiges van alle tye kan die saak in sy hande laat. Hulle mag nie ongeduldig word nie. Hulle moet doen wat hulle kan en wat hulle weet Hy van hulle verwag. Hy sal vir die res sorg.

Die gelowige lewe in die eindbedeling en sy lewe behoort voortdurend gekleur te wees met die “alreeds” van hierdie bedeling. In ruimer mate moet hy vervul wees met die verwagting van die “nog nie” wat sy deel sal word by die wederkoms van die Here.

Hierdie kwaliteitslewe rafel so maklik uit en is onderworpe aan inflasie‚ veral in tye van voorspoed. Tye van benoudheid en verdrukking laat hom na uitsig soek en sy blik word deur die woord gerig op die wederkoms van die Here Jesus Christus wanneer die woonplek van God by die mense sal wees want “Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volk wees‚ en God sal by hulle wees as hulle God. Hy sal die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” (Op. 21:3-4).

Die uitsig op die wederkoms vul sy hede met betekenis‚ nie maar net omdat hy op die vervulling van die belofte wag nie‚ nie maar net soos die bruid wat drome kan droom oor die huweliksdag nie‚ veel meer. Hierdie “veel meer” wil Jakobus verwoord met: DIE REGTER STAAN AL VOOR DIE DEUR. Die toekoms van die Here is ’n aandringende toekoms wat die hede verlig soos die strale van die opkomende son. Dit is nie die son self nie‚ dit verkondig die toekoms van die dag – maar dit is reeds lig‚ warmte en lewe.

Die verlowingstyd is nie vir die bruid leë tyd nie. Sy lewe alreeds in die in die rykdom van die toekoms. Jakobus se wag is dus nie ’n fatalistiese negatiewe wag omdat daar niks aan die omstandighede verander kan word nie.

Die geduldige wag gaan gepaard met die regte perspektief op die omstandighede; dat beproewing byvoorbeeld ’n toets is vir die geloof en as volharding end-uit volgehou word‚ bring dit geestelike rypheid‚ “sonder enige tekortkoming.”

Op die wyse word die bruid geklee vir die bruilofsmaal van die Lam.

Die groot vraag is of ons nog elke dag besef dat Jesus weer kom? Leef ons as gelowiges met ons oë op Sy wederkoms? Is Sy wederkoms regtig elke dag op ons sakelys?

Miskien was die vroeë kerk te angstig in sy wederkomsverwagting. Miskien is ons probleem vandag die omgekeerde: ons dink net nooit nie of selde daaraan.

Dit mag tog nie! Daarvoor is die tyd te kosbaar. Luister Jesus sê‚ Kyk Ek kom gou! In Op. 22:6 vind ons die uitdrukking: “wat binnekort moet gebeur” en in vers 10: “want die eindtyd is naby.”

Hierdie is ’n baie dringende woord aan die gemeente‚ aan die bruid van Christus. Sy word opgeroep om gereed te maak‚ haarself voor te berei om haar Bruidegom te ontmoet. Hoe moet sy dit doen? Wat verwag die komende Here Jesus Christus van jou en my in hierdie tyd van afwagting op sy koms? Hoe moet ons die tyd verwyl? In Op. 22:11 kry ons die resep: “Wie doen wat reg is‚ moet voortgaan om reg te doen‚ en wie heilig is‚ moet heilig bly.”

Die tyd om te kies en klaar te kies het lankal reeds aangebreek. Daarom dat die gedagte van die al groter-wordende skeiding tussen geloof en ongeloof‚ en kerk en wêreld‚ hier met soveel nadruk beklemtoon word: “Wie kwaad doen‚ moet voortgaan om kwaad te doen‚ en wie vuil is‚ moet vuil bly.”

Maar die gelowiges moet die tyd uitkoop en gebruik om toe te neem in die “doen wat reg is” en in “heiligheid.” Om te doen wat reg is‚ is die opdrag waarvoor elke gelowige vandag staan. En presies wat hiermee bedoel word‚ is nie vir ons maklik om te antwoord nie.

Tog beteken dit sekerlik dat ons as gelowiges elke dag die dinge moet doen wat voor God reg is‚ wat volgens sy Woord is‚ en wat volgens die gebod van die liefde is – op alle terreine van die lewe.

Oral en te alle tye moet ons as die mense van die kerk gestalte gee aan God se geregtigheid‚ aan sy regverdigheid‚ deur self regverdig te lewe en reg en geregtigheid te laat seëvier. So sê Christus self in die bergrede: Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid‚ want hulle sal versadig word (Matt. 5:6).

’n Kerk‚ ’n gemeente‚ ’n gelowige met ’n visie op die wederkoms van die Here‚ is terselfdertyd ’n kerk‚ gemeente en gelowige met ’n onversadigbare honger en dors na wat reg is. En in hierdie proses‚ geliefdes‚ is die bruid besig om haar vir die Bruidegom voor te berei. Dit doen sy deur heilig te bly. Eenkant‚ spesiaal‚ maagdelik‚ afgesonder vir en voor die Here.

As mense wat die terugkeer van Christus afwag‚ moet ons “in” die wêreld‚ maar nie “van” die wêreld wees nie. Die gelowige moet in die wêreld lewe en werk‚ maar mag nooit wêrelds word nie. En is dit nie juis ons probleem nie? Omdat die wederkoms nie altyd op ons sakelys bly nie‚ vlei ons die wêreld in stede daarvan om te vermaan. Ons is self besig om die grense tussen kerk en wêreld uit te wis‚ omdat ons nie voortdurend ons gedagtes rig op die dinge wat daar bo is nie (Kol. 3:2).

Die Gees beheers nie ons lewens nie en ons swig so maklik voor die begeertes van ons sondige natuur (Gal. 5:16). Dikwels bedroef ons die Heilige Gees van God (Ef. 4:30). Weet u hoe verskriklik dit is – mense is besig om te argumenteer moet die gesellinklubs “oop” of “toe” wees? En die argumente wat aangevoer word‚ is dan kan vigs en ander veneriese siektes beter beheer word.

Maar is hierdie en ander siektes nie alreeds ’n gevolg van die mens se losbandigheid op seksuele gebied nie? Nee‚ geliefdes‚ wie heilig is‚ moet heilig bly – dit is ’n oproep tot die bruid van Christus: Was jou kleed vir die bruilof met die Bruidegom! (Op. 22:14). Wie reg doen‚ moet daarin toeneem‚ en die wat in Christus geheilig is‚ moet sorg dat hulle heilig bly.

Die bruid moet ryp word vir die bruilof wat ophande is! Hierdie dringende oproep wat tot jou en my kom‚ wil die feit van die wederkoms onderstreep‚ wil by ons ’n wederkomsverwagting laat posvat‚ en wil dat hierdie verwagting ons lewenshouding en lewensaktiwiteit bepaal.

Terselfdertyd is hierdie ook ’n troosryke woord: Kyk Ek kom gou! God is steeds in beheer van ons daaglikse situasies. Ja‚ Hy kom gou om sy bruid by Hom te neem. Hy kom terug om dieselfde rede as 2000 jaar gelede: Omdat Hy jou en my‚ sondaars, liefhet!

Hy kom om alles vir altyd nuut te maak‚ om sy Koningskap en heerskappy finaal te bevestig. Daarom kan en mag ons‚ as arbeidende en heilige gemeenskap van gelowiges‚ as bruidskerk‚ nie anders as om saam met die skepping te sug en uit te sien na die wederkoms van ons Here nie.

Kan en moet ons trouens bid: Amen! Kom Here Jesus‚ ja‚ kom gou!

Ons moet getroos wag – dit is ons voorreg; ons moet geduldig wag – dit is ons taak; en ons moet getrou wag – dit is ons krag.

Vanuit die sekerhede gebore uit die beloftewoord: “Ja‚ Ek kom gou” weet die gelowige dat hy in liturgie en in lewe‚ in kerk en kultuur nie voor ’n nare noodlotsnag staan nie‚ maar voor Hom wat as Bruidegom kom.

So staan ons verwagtend‚ lydend‚ roepend‚ biddend in hierdie wêreld – nie voor ’n toe deur op aarde nie‚ maar voor ’n geopende deur in die hemel.

Nou word in elke skynbaar ondeurdringbare muur op aarde, ’n venster van Bo af ingebreek! En deur hierdie venster kyk die gemeente nou na Bo én na buite: Wie die hemel raaksien kan die aarde nooit miskyk nie. Openbaring 22 en Jakobus 5 wil die gemeente net weer op “vensterhoogte” bring …

KYK JY DEUR DAARDIE VENSTER?

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css