Die Weg

Om Satan se greep te breek en te oorwin
Callie Opperman
www.gkws.iway.na

Met dank aan Die Kerkblad**

Die afgryslikste wêreld ontvou voor jou wanneer 'n mens na die houvas van Satan op mense se lewens ondersoek instel. Dit is die tragiese verhaal van persone wat (meestal) as jong kinders stappie vir stappie ingesuig is in die wêreld van die okkulte. Dit lei na die verloëning van God, doelbewuste oortreding van sy gebooie, asook 'n skaduwêreld van skokkende rituele, wat selfs moord insluit.

Heel dikwels voel selfmoord na die enigste uitweg uit hierdie binding van Satan en sy demone. Die getuienis van mense wat by Satanisme betrokke was, bevestig die houvas wat demone op 'n mens kan kry.

Vir sommige van ons klink dit na 'n fantasiewêreld waaraan ons nie blootgestel word nie. Dit klink na sensasionele berigte waarin ons nie belangstel nie. Tog is Satan, die duiwel, die groot draak, die slang van ouds (Openb 12:9) 'n werklikheid. Hy weet dat sy tyd min is voordat die finale veldslag tussen die koninkryk van die lig en die duisternis sal plaasvind.

Daar is uiterstes waarteen ons moet waak: om die mag van die Bose te oorskat, of te onderskat. Die Skrif gee twee bakens waarbinne ons na die saak kan kyk:

Baken 1: Jesus Christus se koms na die wêreld het die mag van Satan verbreek. Hy het die duiwel kom “vernietig”. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig, en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry (Heb 2:14-15).

Baken 2: Die duiwel, of Satan, tesame met sy bose geestesmagte, sal tot die dag van die wederkoms van Christus steeds poog om mense in sy mag te kry. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1 Pet 5:8). Ons stryd is nie teen sigbare mense nie, maar teen die bose geeste, as deel van die listige aanslae van die duiwel (Ef 6:11-12).

Jesus Christus, Verlosser uit nie mag van Satan

Die Seun van God het na die wêreld gekom, in die “huis” van Satan, om hom te bind sodat mense wat in sy mag was, verlossing kon ontvang (Matt 12:29). 'n Vrou wat 18 jaar lank deur Satan "gebind was" (Luk 13:10-17) het 'n kromgetrekte, verswakte liggaam gehad. Wanneer Jesus die mag wat Satan oor haar gehad het verbreek, word sy na liggaam en gees genees. By verskeie geleenthede is Jesus deur duiwelbesetenes gekonfronteer (Mark 1:23; 3:11; 9:17; Luk 8:26). Dit is duidelik dat hulle Jesus geken het en dat daar vyandskap tussen hulle was. Ons weet ook dat Hy sewe bose geeste uit Maria Magdalena gedrywe het. Hy tree, soos met sy versoeking deur die duiwel, telkens as die oorwinnaar uit die konfrontasie.

Paulus beskryf sy sendingopdrag deur Jesus Christus soos volg: Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hul van die duisternis tot die lig en die mag van die Satan tot God kan bekeer (Hand 26:18).

Vir die eerste gemeentes en daarom vir die kerk deur die eeue was daar nie net waarskuwings teen die wyse waarop Satan werk nie (listigheid, wreedheid soos 'n leeu), maar ook die belofte: God wat vrede gee sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter (Rom 16:20).

Satan, steeds 'n vyand van gelowiges

Na die hemelvaart van Christus word Satan en sy engele oorwin en uit die hemele gewerp. Op aarde word hulle aanslag gerig teen die vrou (kerk) se nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het (Openb 12:1-18). Die verskillende wyses waarop die Bose 'n houvas op mense kan kry, word in die Skrif aangedui. Satan doen hom voor as 'n engel van die lig (2 Kor 11:14). Hy is leuenaar, vals, listig en werk op 'n subtiele manier om mense in sy mag te kry (Joh 8:44).

Jesus het vir Simon Petrus gewaarsku dat Satan hulle soos koring sou sif, maar dat Hy vir hom gebid het dat sy geloof hom nie sou begewe nie. Petrus se lewe hierna vertoon die siftingsproses. Hy verloën Jesus, maar word herstel toe hy drie keer gevra word: “Het jy My lief?” (Joh 21:15-19). Hy tree kragtig op na die uitstorting van die Heilige Gees. Hierna ly Petrus, soos die ander gelowiges, dikwels vervolging. Hy bly staande, omdat Jesus vir Hom (en ons) bly bid.

Soms hits die duiwel mense aan om die verkeerde te doen, en kry 'n vatkans op jou lewe. Die Woord waarsku dat ons kwaad-wees, wanneer daar nie vrede gemaak word nie, hom so 'n geleentheid gun (Ef4:26).

Die sondige natuur oorheers soms vir 'n tyd en laat jou die wil van Satan doen. So het Dawid die sensus van Israel gehou om sy eie mag te bepaal (1 Kron 21:1).

Die duiwel is ook aanklaer. Voor die hemelvaart van Jesus kon hy gelowiges voor die troon van God aankla (Job 1:6), en die hoëpriester Jesua word voor God aangekla (Sag 3:1). Ná die hemelvaart van die Here kan hy ons egter nie meer so aankla nie. Hy kla ons wel aan in ons gewete, sodat ons skuldig voel en begin twyfel aan God se genade in Jesus Christus. Dan kan ons deur gebed, op grond van die waarheid van die evangelie, Satan teenstaan.

Om die houvas van Satan te verbreek

Wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel (1 Joh 3:7-8), maar Christus het sy werk tot niet kom maak. Deur sy Gees wek Hy in sondaars 'n nuwe geboorte, sodat ons sy kinders word. Hy bewaar hulle, sodat die duiwel geen houvas meer kan hê nie (1 Joh 5:18). Daarom doen hulle nie meer moedswillige sonde nie.

Verlossing uit die houvas van Satan is moontlik. Nie uit eie kragte nie, maar deur die wapenrusting van God is ons oorwinnaars (Ef 6:10 ev). Die duiwel se beheersing van mense word soms 'n strik of vangstrik genoem (1Tim 3:6; 2 Tim 2:25-26). Deur bekering tot Jesus Christus en kennis van die waarheid word mense daarvan bevry.

Ons kan Satan suksesvol teenstaan. Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug (Jak 4:7). Ons is nie hulpelose slagoffers van die duiwel nie. Nee, ons hoor: Bly standvastig in die geloof en staan hom teë (1 Pet 5:9).

Ons vind ook duiwelbesetenheid, wanneer een of meer demone (bose geeste) jou lewe heeltemal oorheers. Daar was verskeie besetenes in Jesus se tyd op aarde, vyandig teenoor Jesus. Soms het dit gepaard gegaan met gebreke soos doofheid of ineengetrekte liggame (Mark 9:17; Luk 8:26). Dit mag ons nie die afleiding laat maak dat alle dowes, of mense met sulke gebreke, duiwelbesete is nie. Openlike godslasterlike optrede, vyandigheid teenoor Jesus en duidelike tekens van navolging van byvoorbeeld die kerk van Satan is egter tekens van besetenheid. God gee die gawe aan gelowiges om geeste uit besetenes te drywe (Mark 3:13). Slegs deur geloof in Jesus Christus kan die houvas van die bose geeste verbreek word.

Die sekerheid dat Jesus God is en nie Satan nie, bring verlossing. Soms op traumatiese wyse, maar tot groot vreugde van hulle wat so vrygemaak word .

** (Met dank aan Die Kerkblad,
Deputate Kerklike Tydskrifte van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika,
Posbus 20008, Noordbrug, 2522)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css