Waarom 'n gemeente?
Callie Opperman
www.gkws.iway.na
“Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1 Timoteus 3:15)
Besef ons die voorreg om deel van ‘n gemeente te wees? Maar ook watter baie groot verantwoordelikheid ons terselfdertyd dra? In ons fokusvers word die kerk beskryf as huisgesin en gemeente van God, maar ook draer van die waarheid.
Die Christelike kerk is geen stigting deur mense nie, maar het haar oorsprong by God. Vir eeue het God se verbond met die afstammelinge van Abraham, die ou Israel (waarvan later net die Jode oorgebly het), gestaan. Die een ware God wat Hom aan een verbondsvolk verbind het. Die Seun van God, Jesus Christus, het mens geword en deur sy verlossingswerk die belofte wat aan Abraham gemaak is, vervul. Al die nasies van die aarde word nou ingesluit by sy liefdeswerk. Die evangelie moet aan almal verkondig word. Hulle wat in Jesus Christus glo, sal erfgename van Abraham genoem word en deel kry aan die heerlike beloftes van God (Gal 3:29).
Die kerk is dus gemeente van God, omdat dit saamgestel is uit mense wat ter wille van Jesus kinders van God geword het. Die Heilige Gees woon in hulle wat deur sy krag nuut gebore is. Hulle glo opreg in die Verlosser, dink en doen nuut om God bo alles te gehoorsaam. Die seën vir jou as deel van die gemeente is dan eerstens om kind van God te wees. Van jou en die hele gemeente word egter ook verwag om God se wil te soek en uit te leef. Sy wil is opgeteken in sy Woord, die Bybel, waaruit ons weet hoe om ons te gedra (1 Tim 3:15).
Daarom is die gemeente ook draer van die waarheid. Hierdie waarheid word opgesom in vers 16
As mens het Jesus in die wêreld gekom,
deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is,
aan die engele het Hy verskyn;
aan die heidennasies is Hy verkondig,
in die hele wêreld is Hy geglo,
en in heerlikheid is Hy opgeneem.
Kom ons verheug ons vandag oor ons band met God in sy gemeente-huisgesin, streef daarna om gehoorsaam aan ons Vader op te tree en dra die waarheid oor ons Verlosser uit aan almal wat Jesus Christus nog nie ken nie.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css