Pascal se weddenskap
Maarten van Helden
In die sewentiende eeu het die Franse wiskundige en filosoof, Blaise Pascal, sy pragmatiese argument vir geloof in God, geformuleer. Hy nooi daarmee mense uit tot ‘n weddenskap insake die bestaan van God.
In kort: As jy sou wed dat God bestaan en by jou dood bevind jy dat Hy nie bestaan nie, dan verloor jy niks. As jy daarenteen egter wed dat God nie bestaan nie en by jou dood agterkom dat Hy wel bestaan, dan verloor jy alles.
As jy verkeerdelik in God glo, verloor jy niks (veronderstel dat die dood die absolute einde is), terwyl as jy ten regte in God glo, wen jy alles (ewige saligheid). Maar as jy ten regte nie in God glo nie, dan wen jy niks (dood eindig alles), terwyl as jy verkeerdelik nie in God glo nie, verloor jy alles (ewige verdoemenis). - Pascal se weddenskap |
Heel praktiese gesproke sou dit dus absoluut dwaas wees om nie aan die bestaan van God te glo nie. En dit is dan ook die eintlike argument van Pascal: As jy nie wil glo nie, sal jy nie.
Sy argument is nie ‘n poging om God te probeer ‘bewys’ nie. God is immers nie bewysbaar nie. Die stelling van Pascal toon egter duidelik dat daar geen plek vir neutraliteit is nie. Jy glo in God , of jy glo nie. Dit is eenvoudig so. En die dwaas sê in sy hart, daar is geen God nie (Ps 14).
Augustinus, wat ‘n groot invloed gehad het op Pascal, het al gesê: "Ons self-liefde maak ons blind vir die liefde van God". Dus beweer Pascal: “dit is nie ons onvermoë om God te verstaan nie, dit is ons onvermoë om Hom lief te hê. Ons gebrek aan liefde vir God, maak ons dwaas genoeg om te dink en te glo wat ons wil. Blind genoeg om God nie raak te sien nie!
Jesus het vir Nikodemus gesê: “As iemand nie weergebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”(Joh 3:3). Die sondaar is dus blind gebore! Slegs die Here kan ons oë oopmaak.
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css