Die Here is in beheer
Hentie Krüger
www.midweek.co.za
“Wie weet‚ miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.”
— Ester 4:14 —
Twee woorde wat nie in die oorspronklike teks van die boek Ester voorkom nie‚ is “God” en “geloof.” En tog gaan Ester in ’n baie besondere sin om God én om geloof. Dit vertel hoe die Here gesorg het dat Ester koningin van Persië word; hoe Hy Mordegai gebruik het om die Jode se vyand‚ Haman‚ teen te staan; hoe Hy op die regte oomblik al die regte dinge laat gebeur het om Haman uit te skakel en Mordegai sy plek in die regering te laat inneem.
Ja‚ God se hande beweeg agter die geskiedenis wat hom in die boek Ester afspeel. God is in dié boek aanwesig.
So ook geloof. Mordegai se woorde aan Ester – “Wie weet‚ miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het” – getuig onteenseglik van geloof in die God van sy en Ester se voorgeslagte wat dinge op ’n bepaalde wyse laat gebeur. Dit klink half onseker (“Wie weet …”)‚ maar dit spreek in werklikheid van ’n oortuiging dat niks toevallig en buite God se wil gebeur nie.
Hou met God rekening!‚ wil Mordegai vir Ester sê. Jy het koningin geword. Nie om dowe neute nie. Jy moet goed nadink waarom dit gebeur het.
Die boek Ester lees soos ’n roman. Intrige op intrige. Onverwagse wendinge. Dis ’n kort boek wat ’n mens se aandag enduit gevange hou. (Lees dit weer ’n slag van voor tot agter deur!). Toegegee: Dis eers as jy oor die boek nadink nadat jy dit deurgelees het‚ dat jy agterkom dit gaan om méér as die stryd tussen Haman en Mordegai en die drama as Ester haar lewe vir haar volksgenote waag. Dis by nadenke dat jy die Hoofkarakter raaksien – die Here – en dis dán dat jy ontdek hoe ’n belangrike plek geloof in Hom in hierdie verhaal inneem.
Ester is ’n baie vertroostende boek.
Dit sê vir ons: Kom wat wil‚ die Here is dáár en sy Woord is die laaste woord.
Dit sê vir ons: In die haglikste omstandighede moet jy Hom in gedagte hou‚ moet jy jou geloof in Hom behou.
Natuurlik verloop alles nie altyd so klopdisselboom soos met Ester en Mordegai nie. In hulle geval het dinge pragtig uitgewerk en was die einde goed en reg. Gelowiges vind egter soms dat dinge enduit skeefloop. Dink maar aan ’n Nuwe-Testamentiese voorbeeld soos Johannes die Doper. ’n Gelowige mens‚ ’n voorloper van Jesus Christus. Maar op die ou end beland sy kop in ’n skottel (Matt. 14:11). Waar was God tóé?‚ kan jy wel vra. En wat het sy geloof hom in die sak gebring?
Daar is tallose vrae wat ’n mens besig hou as jy oor die dinge begin kopkrap. Maar onthou dan vir Jesus Christus. As daar ooit Iemand was wat wanhopig kon geraak het‚ was dit Hy. Aan die kruis stel Hy dan ook die vreeslike vraag: “My God‚ my God‚ waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46).
Maar Hy het daardie vraag gestel sodat ek en jy dit nooit weer hoef te vra nie. Sy dood – en sy opstanding uit die dood – gee sin aan elkeen van ons se lewe. Dit buig ons vraagtekens reguit sodat dit uitroeptekens word. Al lyk dit soms of dinge tóg nie vir ons reg wil uitwerk nie. Op stuk van sake regeer God. In die boek Ester. In jou lewe. Glo dit!
Jesus het gesê: “… In hierdie wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh. 16:33).
Hoe kon Hy met soveel gesag praat? Dis eenvoudig. Om ’n beeld te gebruik (onthou dit is maar net ’n beeld). Hy is soos ’n vlieënier wat weet wat ons nie weet nie‚ en Hy kan sien wat ons nie kan nie. Wat weet die vlieënier? Hy weet hoe om die vliegtuig te loods.
Wat sien die vlieënier? Die storm wat voorlê. Wat weet God? Hy weet hoe om die geskiedenis te rig. Wat sien God? Ek dink u het die boodskap. God wil ons veilig by ons bestemming kry.
Juig die lewende God is in 2010 nog steeds in beheer!
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css