Hoe bid ons?
Callie Opperman
www.gkws.iway.na
Die motivering van ons gebede is ‘n baie belangrike saak. Veral wanneer ons worstel oor gebedsverhoring. Soms hoor ‘n mens die klagte: Die Here verhoor nie my gebed nie, daarom het dit geen sin om te bid nie. Of: die Here verander nie ons omstandighede nie, dit lyk nie of Hy vir ons lief is nie.
Wanneer Paulus in die Naam van die Here opdrag gee oor smeking, voorbidding en danksegging vir die regeerders en ander gesagvoerders, is die motivering baie duidelik: sodat ons in toewyding aan God kan leef. Ja, dis waar, hy vra gebede vir ‘n rustige en stil lewe. Soms vra ons ook daarvoor, veral as misdaad oor ons pad gekom het, of ons bekommerd is oor ons materiële voortbestaan, of oor ons kinders se toekoms in die land. Maar dan is ons motivering selfgerig: Ek bid, omdat ek wil rustig leef, sodat ek veilig kan wees, sodat ek seker is van my toekoms, sodat ek nie materieel swaar sal kry nie, ens. ens. Ek, ek, ek ... staan in die middelpunt van my gebedsmotivering.
Ons moet ons dissiplineer dat ons gebede God se eer en sy koninkryk eerste stel. Nie ons eie klein wêreldjie en behoeftes nie. Beloof Jesus dan nie dat ons Vader ons alles sal gee wat ons nodig het, wanneer ons sy koninkryk en sy wil eerste soek nie? (Mat 6:33). So lui Jesus se eerste bede in die Ons Vader gebed ook: “... laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, ...” (Mat 6:9-10).
Die wyse waarop ons vir die regeerders en mense met gesag bid, sodat ons in meer toewyding aan God kan leef, is ook belangrik. Dit moet met erns gedoen word. Drie woorde beskryf die gebede: smeking, voorbidding en danksegging. Smeek: nie net bolangs noem nie, maar smeek vir wysheid vir die president, die kabinet en al die ander parlementslede, die stadsrade, ensovoorts. Die internasionale wêreld te midde waarvan leiding gegee moet word, die politieke drukgroepe, die werkloosheid, noodsaaklike instandhouding en nuwe ontwikkeling, die regte moraliteit en dienslewering vra meer as wat ons besef. Smeek God vir die regte leiding. En glo dat Hy gebede sal verhoor, ‘n rustige en stil lewe sal gee, sodat sy kinders in hierdie land nog meer Sy eer sal soek en opeis. Voorbidding: daardie gebede waarin jy ander se belange eerste stel en vir hulle intree by die almagtige God. Dankie sê: hoe maklik vergeet ons dit nie! Ons moet die hemelse Vader dank dat ons Sy kinders mag wees, mag bid in die Naam van Jesus Christus, Hom mag ken as die Almagtige. Sien ook raak hoe Hy gebede verhoor en te midde van onaangename dinge, tog rustigheid en vrede gee. Dank Hom daarvoor.
Maak dit dan een van jou nommer een gebede elke dag: smeking, voorbidding, danksegging vir alle mense, maar spesiaal vir daardie mense wat die regeertaak in ons land het. Watter seën kan dit nie vir toewyding aan Hom en sy koninkryk inhou as ons met die regte motivering en op die regte wyse bid nie!
Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css