Die Weg

Ons Verhouding met God soos deur Sy Wet bepaal
Jan Brink

Ons vind twee tipes wette in die boeke van Moses. Die eerste is die Tien Gebooie, die tweede is die Levitiese Wette.

Die Tien Gebooie kan ook beskou word as die Grondwet vir God se volk op aarde, ook die volk wat Hy deur Jesus Christus vanuit die heidendom tot Hom geroep het. Hierdie Wet is ononderhandelbaar en staan vas van ewigheid tot ewigheid. Dit kan nie verander nie, selfs nie met ‘n volstrekte meerderheid van menslike stemme nie. Geen mens op aarde, hoe heilig hy homself ook ag, mag aan hierdie Wet karring nie.

Die tweede groep wette, nl die Levitiese Wette, was meer tydelik van aard. Dit het ‘n verskeidenheid van elemente bevat, waaronder die sindelikheidswette, seksuele wette en verhoudingswette. Hieronder was ook die priesterlike wette: die wette ten opsigte van die bediening van die tabernakel en die offerandes, wat dui op die Ou Verbond van God met Sy volk.

As Jesus Christus in Matteus 5:17 sê dat Hy die wet vervul het, dan het dit betrekking op die Levitiese wette wat as ‘n profetiese handeling met betrekking tot Sy eie offer aan die kruis moes dien. Hierdie wette het hulle gesag verloor die oomblik toe Hy aan die kruis gesterf het en die voorhangsel van die Tempel middeldeur geskeur het, waarna ons vrye toegang tot die Vader gekry het deur Jesus Christus self. Na daardie oomblik het ons nie meer ‘n aardse Hoëpriester nodig om vir ons in te tree nie. Jesus Christus doen dit nou vir ons. Die aardse offers volgens die Levitiese wette is nie meer nodig nie. Jesus Christus het vir ons dáárdie offers permanent gebring; vir wie in Hom glo. Dit is die Nuwe Verbond. Geen wonder Kajafas, wat sekerlik die skrifte geken het, wou van Jesus ontslae raak nie. As hy wat Kajafas was, Jesus Christus as die verwagte Hoëpriester van die Nuwe Verbond aanvaar het, dan was hy sy eie aardse aansien en titel kwyt. Dan het hy geen werk meer gehad nie.

Laat ons nou egter terugkeer na die wette in die Tien Gebooie, die Grondwet vir God se volk:

Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.
Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Jy mag nie moord pleeg nie.

Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

Jy mag nie steel nie.

Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.

Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie."

Wat sê hierdie Tien Gebooie werklik vir ons?

1. Dat ons die Enige Ware God alleen moet aanbid en dien. Dat ons nie ons vertroue op enigiets of enige iemand buiten God mag stel nie, van watter aard ookal. Hy alleen verlos ons vanuit die slawerny van die aardse bestaan.

2. Hierdie verlossing uit die slawerny vind ons ook in die profetiese woorde van die Sabbatsgebod. Hierdie Sabbatsgebod word op baie plekke in die Bybel herhaal. In Eksodus 31:16 word dit as ‘n ewige verbond tussen God en Israel ingestel. Maar nou kan jy vra, is hierdie verbond ook op ons van toepassing, ons wat nie Israeliete is nie? Kyk wat sê Efesiërs 2: 11-13:

Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is "onbesnedenes" genoem deur dié wat hulleself "die besnedenes" noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.

Deur Jesus Christus is ons ook deel van hierdie ewige verbond. Maar wat behels hierdie verbond en hoekom moet ons dit gedenk?

Die Sabbatsgebod is profeties en wys na die toekoms, wanneer ons aardse bestaan ten einde geloop het en ons met God verenig is:

Hebreërs 4:1- 11 Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie.
Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie.

Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: "Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie." En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel,want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: "En God het op die sewende dag gerus van al sy werk," terwyl hier weer gesê word: "In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie."

Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om in sy rus in te gaan.

God het immers weer ‘n dag bepaal, naamlik "vandag", wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê: "Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie."

As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ‘n ander dag gepraat het nie.

Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne.

Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.

Die getal sewe staan vir die volmaaktheid. Tot en met ses is alles nog onvolmaak. Dit verwys na ons aardse bestaan. Gedurende hierdie aardse bestaan sal ons swoeg en sweet en aan die onvolmaaktheid deel hê. Maar op die bepaalde tyd sal ons die volmaaktheid binnegaan. Die figuurlike sewende dag, die volmaakte dag, wanneer ons sal rus van ons aardse slawerny as ons met God verenig is. Die sabbatsrus wat God vir Sy uitverkorenes berei het.

God gebied ons dan in die vierde gebod om die Sabbat heilig te hou en dat ons daarmee saam ook sal dink aan en deel hê aan die ewige verbond van God met Sy volk - die dag van volmaaktheid wat sal kom.

Soos die profetiese handelinge van die tabernakelwette wat gedoen MOES word, gewys het op Christus, so is die profetiese handelinge ten opsigte van die Sabbat wat gedoen MOET word, ‘n heenwysing na die ewige rus in en by God.

3. Die vyfde tot die tiende gebod word baie duidelik deur Paulus in Romeine 13:1-14 verwoord:

Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.

Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.

Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. ‘n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf. Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ‘n gewetensaak is. Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.

Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: "Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie," of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem.

Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

4. Hy is die lewegewer en gewer van alles wat ons besit. Ons mag daarom nie iets begeer buiten dit wat God aan ons skenk nie. As ons iets deur harde werk verkry, moet ons steeds onthou dat dit geleenthede is wat God aan ons skenk tesame met die gesondheid en krag op dit te kan doen. Hebsug, geldgierigheid, jaloesie en die strewe na aardse rykdom gee aanleiding daartoe dat ons wraakgedagtes teen ons medemens koester en selfs dat ons ander mense se lewens kan neem. Kyk maar net na die verhaal van Agab en Nabot in 1 Konings 21 en wat die uiteinde van sy begeerte was! Ons moet in dankbaarheid teenoor God leef vir alles wat ons het. Dit gaan immers nie oor hierdie lewe nie, maar oor ons ewige saligheid.

5. God eis ook van ons in Sy Grondwet dat ons ons kinders volgens die bepalings van Sy Wet sal opvoed. As ons in gebreke sou bly om dít te doen staan ons skuldig voor Hom. Dan het ons geen deel meer aan die ewige verbond wat God met Sy mense ingestel het nie. Dan het ons eensydig God se verbond met ons verbreek. Dan sê ons letterlik: “baie dankie, maar ons het daar geen behae in nie”.

6. God se Naam is Heilig, aan Hom kom alle eer toe.

Mag ons die genade ontvang om elke dag daarvolgens te lewe. Ja, God is genadig, dit is waar. Hy het immers Jesus Christus gestuur as offer vir ons sondes. Maar, en dit is ‘n groot maar, ons moet Sy Gebod ken en wanneer ons besef dat ons ongehoorsaam daaraan was, kan ons om vergiffenis gaan smeek. Dit móét egter met diepe berou gepaard gaan, wat ook impliseer dat ons nie weer moedswillig op daardie gebied sal oortree nie.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css