Die Weg

Christus is!
Hentie Krüger
www.midweek.co.za

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo‚ sal lewe‚ al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo‚ sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

— Johannes 11:25‚ 26 —

Die meeste van ons sukkel om “oor niks bekommerd te wees nie” veral wanneer ons ontsteld of verskrik is deur gebeure in ons lewe. Nogtans kan ons leer om God, God te laat wees en sy aanwysings en oordeel te vertrou. Maar so dikwels verwar ons die begrippe geloof en vertroue.

Daar is ’n baie ou illustrasie wat hierdie twee idees skerp in fokus bring. Dit lui so: Verbeel jou dat jy by die pragtige maar gevaarlike Niagara-waterval op die grens tussen Kanada en die staat New York is. Veronderstel ’n sirkusarties het ’n tou oor die val gespan om ’n kruiwa daaroor na die anderkant te stoot. As hy sy balans verloor‚ sal hy gewis verdrink en homself te pletter val in die malende waters daaronder. Net voordat hy die tou betree‚ draai die man na jou en sê: “Dink jy ek gaan dit regkry?” Jy sê dat sy reputasie hom vooruitgeloop het en dat jy glo dat hy die vermoë het om oor die gespande koord te loop. Met ander woorde jy het geloof in wat hy sê. Maar dan sê hy: “As jy werklik glo dat ek dit kan doen‚ waarom klim jy nie in die kruiwa en gaan saam met my oor nie?” Om hierdie uitnodiging aan te neem‚ sal ’n voorbeeld van merkwaardige vertroue wees.

Dit is vir sommige van ons nie moeilik om te glo dat God in staat is om magtige dade te doen nie. Bowendien het Hy die heelal uit niks geskape. Hy het die mag om enigiets te doen wat Hy wil. Om geloof in Hom te hê (let wel) kan ’n redelik eenvoudige saak wees.

Om vertroue aan die dag te lê‚ neem die verhouding egter ’n stap verder. Dit behels die element van risiko. Dit vra van ons om Hom te vertrou om sy beloftes te hou‚ selfs wanneer geen bewyse voorsien word nie. Dit is om aan te hou glo wanneer die getuienis in die teenoorgestelde rigting wys. Ja‚ dit is om in die kruiwa te klim en die gevaarlike reis oor die val te onderneem. Daarom moet ons leer om ons hele lewe aan sy sorg toe te vertrou. Hoekom kry ons dit nie altyd reg nie? Is dit nie dalk omdat ons net in ’n historiese Jesus glo nie? Hy het net in mense se lewens in die Bybelse tyd ingegryp – nie vandag nie. Dink nou maar net hoe jy jou godsdiens vandag beleef‚ en wees eerlik.

Is die Here in jou daaglikse belewing ’n lewende God; dink jy so aan Hom? Kom ons wees nog ’n keer eerlik. Weet jy, ek dink daar leef in elkeen van ons maar iets van ’n skeptisisme. Hoekom? Ons kan baie dinge die skuld daarvoor gee‚ maar eintlik is ons net self daarvoor te blameer. Daarom wil ek graag hê dat ons vandag sal ontdek dat Jesus ’n lewende werklikheid is. Iemand wat gister‚ vandag en tot in ewigheid dieselfde is!

In Johannes 11 lees ons van ’n baie interessante gebeurtenis. Jesus ontvang die boodskap dat Lasarus‚ ’n baie goeie vriend‚ ernstig siek is. Sy susters vra dat Hy asseblief so spoedig moontlik moet kom‚ maar die Bybel sê dat Jesus eers twee dae vertoef het. Waarom wag Hy? Is Hy bang om na Betanië te gaan omdat die Jode Hom wil doodmaak en dit nog nie Sy tyd is nie? Nee‚ Hy vertoef omdat Hy geweet het wat Hy wil doen.

Maria en Marta het gewag en die pad dopgehou vir Jesus‚ maar Hy het nie gekom nie. Ure het angstige dae geword sonder ’n teken van die Meester. Intussen het Lasarus stadig maar seker agteruit gegaan. Dit was duidelik dat hy besig was om te sterf. Maar waar op aarde was Jesus? Het Hy die boodskap gekry? Besef Hy nie hoe ernstig sy vriend se siekte is nie? Gee Hy nie om nie? Terwyl die susters langs sy bed gewaak het‚ het Lasarus sy oë gesluit en gesterf.

Marta en Maria sou tot die gevolgtrekking kon kom: Ons gebed is nie verhoor nie. Ons broer is klaar dood. Hulle het daarmee egter nie met Jesus rekening gehou nie. Hulle het nie onthou wie Hy is nie. Hulle het ook vergeet waarom Hy na die wêreld gekom het.

Hy is die Seun van God vir wie niks onmoontliks is nie. En Hy is op aarde om sy heerlikheid as Seun van God bekend te stel. En wanneer die tyd aanbreek‚ dat sy doel die beste gedien kan word‚ dan kom Hy. Dit geld ook ons nood en gebede. Daniël moes drie volle weke wag om te verneem dat God sy gebed verhoor het. Soms wag ’n mens nie alleen vir weke nie‚ maar vir jare‚ voordat die Here antwoord.

Soms kan dit so bitter moeilik wees. Dit is asof die hemel van koper is en ons gebede teen ons kamermure vasslaan. Ons Here is stil – Hy verberg sy aangesig vir ons. Dit is swaar om te wag … tog moet ons leer om te wag – te wag op die Here. Hy ken sy tyd – sy bestemde tyd – en dan kom Hy tot ons hulp. Hy gee selfs dié belofte aan ons: “Die wat op die Here wag‚ kry nuwe krag …” Nou ja‚ toe Jesus in Betanië kom‚ was Lasarus reeds oorlede en vier dae lank in die graf. Marta was natuurlik hewig ontsteld en uit dit wat sy vir Jesus sê kan ’n mens ook duidelik ’n verwytende toon hoor. “Here‚ as U hier was‚ sou my broer nie gesterf het nie.”

Weet jy‚ ’n mens kan verstaan dat iemand so voel. Ook ons gaan soms deur water en vuur. Ons sterf soms die marteldood om sy ontwil. Droogtes‚ honger en siekte en ellende bly ook nie uit nie. Onsself wat die eerstelinge van die Gees het‚ sug selfs in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders‚ naamlik die verlossing van ons liggaam (Rom. 8). Ons is maar te bewus dat hierdie gebroke aardse bedeling verby moet gaan. Die tyd sal wel aanbreek dat die dood nie meer daar sal wees nie (Op. 21). Jesus reageer baie rustig op Marta se verwyt en sê: “Jou broer sal uit die dood opstaan.” Marta se geloof fluktueer tussen twee tye – die verlede en die toekoms. Sy sê: “… as U hier was” – verlede tyd. En dan: “Ek weet hy sal … op die laaste dag … opstaan” – toekomstige tyd. Maar die hede speel geen rol nie.

Die feit dat Jesus‚ die Seun van God‚ hier voor haar staan‚ verander volgens haar niks aan die situasie nie. Lasarus is dood! Dis finaal! Jesus probeer aan haar verduidelik dat Hy‚ die Seun van God‚ nou en hier teenwoordig is‚ en dat sy binne enkele oomblikke ’n wonderwerk gaan beleef. Daarom sê Hy met soveel klem: “Ek is die opstanding en die lewe.”

Jesus wil hiermee vir Marta sê: Vergeet van die verlede; vergeet eers van die toekoms. Kyk‚ Ek is nou hier by jou. Jou broer gaan nou opstaan! Jesus konfronteer vir Marta direk in v. 25: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo‚ sal lewe‚ al sterwe hy ook. Glo jy dit?” Marta antwoord dan: “Ja‚ Here‚ ek glo vas dat U die Christus is …” Sy omseil die gedagte aan ’n wonderwerk en dat Lasarus uit die dood kan opstaan en sak in haar vroomheid weg. Sy glo‚ soos baie mense vandag. Dinge kan gebeur‚ maar daar is perke. Lasarus is dood. Niks kan dit verander nie.

Maar wanneer Jesus‚ die Seun van God‚ voor die graf gaan staan en met ’n harde stem uitroep: “Lasarus‚ kom uit!”‚ gebeur die wonderwerk ten aanskoue van almal! Die oorledene kom uit‚ sy hande en voete nog met grafdoeke toegedraai. Is dit nie aangrypend nie.

Nou dink u seker‚ ja‚ maar dit was 2 000 jaar gelede. Nee‚ Jesus is ’n lewende werklikheid – hier en nou! Wat Hy 2 000 jaar gelede gedoen het‚ kan Hy weer doen. Jesus is nie net ’n historiese figuur wat geleef het nie – Hy lewe nou! Hy is ook die Jesus van VANDAG!

Baie mense glo in ’n Jesus van gister. Kom ons noem dit ’n histories-formele geloof. Dit beteken: geloofsekerheid is vereenselwig met redelike insig‚ meestal losgemaak van die ervaring van die krag en werklikheid van die Heilige Gees. Vir die meeste mense in die kerk is alles net ’n blote aanvaarding van leë‚ onpersoonlike historiese feite en begrippe. Hulle glo – maar net met die verstand. Iemand skryf: “Vroeër het ons gebid as ons siek is omdat ons die Here nodig gehad het. Vandag bel ons die dokter. Ons het meer vertroue in die wetenskap as in God.” Waarom? Ons glo nie dat God vandag nog kan ingryp en wonderwerke doen nie. Maar Jesus lewe – vandag‚ hier en nou. Hy is ’n lewende handelende God!

In Openbaring lees ons van die apostel Johannes wat as banneling op die eiland Patmos sit. Hy voel eensaam en verstote‚ en die toekoms lyk vir Hom donker en onseker. Dan verskyn die Here aan hom en sê: “Genade en vrede vir julle van Hom wat IS en wat was en wat kom …” In Openbaring 1:8 herhaal die Here Jesus dit: “Ek is die Alfa en die Omega‚ … Hy wat IS en wat was en wat kom‚ die Almagtige.” Aanvanklik lyk dit of Johannes ’n fout met sy sinskonstruksie maak. Moes dit nie eerder gewees het: Hy wat was en wat is en wat kom nie? Johannes plaas die IS eerste. Waarom? Omdat Jesus NOU hier IS! Die Bybel wil dit bevestig en onderstreep: Jesus lewe – Hy is nou op hierdie oomblik‚ die lewende Verlosser. Openbaring 1:18 bevestig dit: “Ek was dood en kyk‚ Ek lewe tot in alle ewigheid.” ’n Mens kan nie daaroor uitgepraat raak nie. Die Jesus wat ons aanbid‚ is die Jesus van VANDAG!

Het jy probleme waarmee niemand kan help nie? Kyk jou Verlosser leef! Het die lewe sy kleur verloor? Jesus lewe! Meer nog: Hy is al een wat die lewe die moeite werd kan maak! Hy is in staat om enige situasie te verander.

In die Ou Testament word dit ook bevestig. Die volk Israel het in Egipte swaar geleef onder die juk van die farao. En die volk het begin wonder of daar enigsins hoop vir toekoms oor is. Onder dié omstandighede openbaar die Here Hom aan die moedelose volk met die bekende woorde van Eksodus 3:14: “Ek is wat Ek is.” Die woordjie “is” is in Hebreeus ’n werkwoord. “Ek is” beteken dus “Ek doen iets‚ Ek is die handelende God‚ Ek is nou in jou nood teenwoordig.”

Daarom is die evangelie ’n blye boodskap – God is in Christus by ons teenwoordig. Hy is die lewende handelende God wat ook in jou belangstel. Die Here weet nie maar net van jou skynbaar onoorkomelike probleme en smarte nie‚ Hy is ook in staat om jou te help.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css